Ons praat met

Marida Fitzpatrick, en sy praat pienk

Haar regte, egte chicklit-boek in Afrikaans, Iemand vir ‘n scoop? (Tafelberg, R145), het pas verskyn. Die storie van Andi Niemand, joernalis op soek na ‘n scoop, neem jou na die hart van die koerantwêreld, met al sy drama, sensasie en humor. Marida Fitzpatrick ken dié wêreld maar te goed. Sy is self ‘n joernalis by Beeld. Phyllis Green het haar uitgevra oor chicklit.

Waarom skryf jy chicklit?
Want ek’s ‘n mal masochis wat daarvan hou om myself te martel. Nee, dis hoekom ek in die algemeen skryf. Hoekom spesifiek chicklit? Dit was my redakteur, Madri Victor van NB Uitgewers, se idee. Sy het gesien my eerste boek (Eksklusief uit Eden) is in chicklit-trant geskryf. Ná dié boek gepubliseer is, het sy my gevra om met ‘n regte, egte chicklit-boek in Afrikaans vorendag te kom. Ek dink daar’s ‘n groot gaping in die mark daarvoor.

Lees jy chicklit, en wie is jou gunsteling-skrywer?
Ja, beslis. Helen Fielding, die skrywer van Bridget Jones’s Diary, is my gunsteling. Sy’s briljant. Nou nog, wanneer ek lus het vir lag, slaan ek net Bridget op letterlik enige bladsy oop.

Wat dink jy van chicklit?
Dit rok! Hiehiehie. Nee, alle grappies op ‘n klerehanger: Wat ek die meeste van chicklit hou, is die eerlikheid. Dit gaan nie oor wat ons vroue moet of veronderstel is om te wees (of te weeg) nie, maar oor wat ons is.

Dink jy almal behoort chicklit te lees om ‘n bietjie meer te ontsnap uit die erns van die tye waarin ons leef?
As jy voor die Afrikaanse rak in die boekwinkel staan en jy’s nie lus vir letterkunde of tradisionele liefdesverhale nie, sal jy waarskynlik chicklit geniet. Maar chicklit is nie en hoef nie altyd ligsinnig en ontvlugting te wees nie. Eintlik is chicklit, volgens my, enige boek oor en deur ‘n vrou, wat haarself nie te ernstig opneem nie en die wêreld met humor kan beskou.

Al twee jou boeke het koerante en tydskrifte as agtergrond. Hoekom?

‘n Wyse mens het gesê: “Write what you know.” As joernalis ken ek die koerant- en tydskrifwêreld. Die bonus is dat baie mense dit as ‘n opwindende wêreld sien en graag meer daarvan wil hoor en lees. Dit was dus nie vir my nodig om vir ‘n maand lank in Brazzaville te gaan woon om navorsing vir my boek te doen nie. Ek kon myself eenvoudig in ‘n kamer toesluit en skryf wat ek (dink ek) reeds weet.

Is daar so ‘n bietjie van jouself vasgeskryf in jou vroulike hoofkarakter?
Ja, ek kan nie stry nie. Dalk selfs meer as ‘n bietjie. . . Maar daar is fundamentele verskille tussen my en Andi. Sy is stil en skaam en ek glad nie. Maar ja, baie van ons swakhede kom ooreen. . .

Werk jy aan ‘n nuwe boek, en gaan dit baie verskil van “Iemand vir ‘n scoop?“?
Wat? Nuwe boek? Wat? Waar? Hoekom? Bring my swart lappie! Nee, ek skryf nog nie aan ‘n nuwe boek nie. Ek herstel nog van die vorige een.

Hoe het jy die publikasie van jou boek gevier?
Ek het nog nie, maar ek wil ‘n groot, pienk partytjie hou met pienk sjampanje, pienk kolwyntjies en pienk heliumbalonne wat teen die plafon dryf. (Het ek gesê chicklit is nie ligsinnig nie?)