Ons praat met

Marion Holm in splinternuwe vertoning by KKNK vanjaar

Met die HOLM gebore is Marion Holm se splinternuwe vertoning wat vanjaar by die KKNK debuteer. En kyk, om met die helm gebore te wees, is een ding, maar om met die Holm gebore te wees, is nie net één ding nie… Dit is nóg ’n ding en vier ander goed saam met ’n stuk watsenaam en sewe uitroeptekens! Julle ken vir Sussie… ontmoet nou vir Marion! Lou-Ann Stone het vinnig met haar gesels.

Hoe verskil Sussie en Marion?
Eintlik is Sussie mos maar net Marion – so daar is weinig verskil, want dis steeds ek wat die show doen! Dis weer my stories uit my lewe wat ek vertel. Marion is miskien net ‘n bietjie “sterker” as Sussie. Sy het al gegroei. Jip, nes al die vorige Sussie-shows, is ek net ek. En ek is besonder eerlik oor wie ek is. Ek vertel maklik hoe ek my eie naam met ‘n plank slaan asook hoe al my vetkolle deurslaan!

Ontmoet ons ‘n paar nuwe karakters?
Daar is nuwe stories, a ja a! Ek het al die nuwe stories bymekaar gemaak en Chris het hulle deurmekaar geroer om ‘n show te vorm.

Chris Vorster is die regisseur. Hoe lank werk julle al saam?
Dis ons tweede jaar saam. Hy help ook met die teks. Ek skryf al die stories neer en stuur dit vir hom en hy maak ‘n show daarvan. Chris is ongelooflik slim en sy kennis van die verhoog vul my met diepe respek. Nee, kyk, daai man mag maar. En hy verstaan van komedie. Een ding is vir seker: Chris is beslis nie soos 7de Laan se Ryno nie!

Waarheen gaan Met die HOLM gebore nog hierdie jaar?
Dit gaan na al die groot feeste soos die Aardklop- en Volksblad-kunstefeeste, en na enige dorp wat wil hê ons moet daar kom optree.

**Kaartjies is besig om vinnig uit te verkoop – bespreek nou jou sitplek
**Bespreek ook Marion se vertoning vir jou dorp, bel vir Marietjie Rossouw by 083 246 1100

Nog oor vanjaar se KKNK-program – al die fees-hoogtepunte