Ons praat met

Marion Holm, oftewel Sussie

Sy’s almal se geliefde Sussie met haar skreeusnaakse eenvrouvertonings. Vanjaar s’n is ‘n samestelling van die laaste 5 jaar se hoogtepunte. Marion Holm praat met Henriëtte Loubser terwyl sy haar tasse vir die KKNK pak.

Beskryf vir Sussie.
Sy’s eerlik, sy’s ma se ou vet meisiekind. Iemand het nou die dag vir ‘n gehoor gevra hoekom hulle van Sussie hou. Toe sê hulle sy’s eerlik, sy vloek nie en sy’s glad nie snobisties nie. Elke mens kan hulself in Sussie herken.

Hoeveel van Sussie is daar in jouself?
Sy’s die ekstrovert-vorm van Marion. Ek’s ‘n introvert en het ongelooflik baie alleentyd nodig. Op die verhoog is ek oukei, want ek het mos my woorde geleer, maar ek hou nie van mense heeltyd om my nie. Ek kry my energie van binne.

Hoe skep jy sulke alleentye in jou soort beroep?
Ek bly baie by die huis en doen dan absoluut niks. Hoe groen kan een mens lewe? Ek hoef nie eens die TV of radio aan te sit nie, ek kan in my eie kop verdwaal. By die KKNK bly ons in ‘n huis waar ons self kos maak. Ek ry letterlik van die huis af vertoning toe en dan weer terug. Ek gaan nie kuierplekke toe nie, dan sal ek dit nooit maak nie.

Waar kom jy aan al Sussie se stories?
Dis goed wat regtig in my lewe gebeur en dan verwerk ons dit vir die show.

Chris Vorster (Ryno in 7de Laan) is dié keer jou regisseur en nie meer Hennie van Greunen nie?
Aan die begin was dit vir my skrikwekkend sonder Hennie – dit het gevoel of iemand my linkerlong uitgehaal het. Maar saam met die ongeluk dat Hennie vanjaar te besig is om Sussie ook in te pas, was daar geluk, met vernuwing en groei. Chris is baie puntenerig. Hy het vir my fyn regie-notas gegee en hy repeteer jou hárd. Hy’s ontsettend noukeurig – jy kan nie ‘n bal sommer net só neersit nie, dit moet só wees. Alles is skoon en netjies en ”to the T”. Hy’s ‘n meester op sy vakgebied en omdat hy self ook toneel speel, verstaan hy hoeveel energie dit vat.

Is jy ook iemand se sussie?
Ek het twee ouer susters – een is ‘n dokter en die ander een was ‘n kolonel in die Lugmag en doen nou vryskut-sekerheidsklarings. Hulle sê dikwels hulle weet nie waar my ma aan my kom nie. My storievertellery het by hulle begin – as kind al het ek stories oor my familie vertel en almal nagemaak.

Wat doen jy die laaste uur voor ‘n show?
Ek gaan weer deur alles, warm my stem en lyf op, begin vroeg al aantrek en gaan kyk rond op die verhoog. Ek is bang voor elke show, ek wil projektiel-braking doen en bid heeltyd: ”Kom haal my nou, kom haal my nou!” Ek weet van baie performers wat so voel.

Sussie se prys het nie opgegaan nie?
Nee, dis nog dieselfde as verlede jaar. Ek voel almal kry swaar en ek gaan nie ook nog die laaste bietjie uit die tandepasta-buisie probeer druk nie. Dit beteken ek moet meer shows doen, maar ek wil hê teater moet bekostigbaar vir mense wees. Nêrens anders gaan die magic jou so aanraak nie. In ‘n fliek voel jy nie so een met die gehoor nie. En jy sal nooit so lekker kan lag in ‘n fliek of voor ‘n DVD soos in ‘n live audience nie.

Sussie: Cheers! is van 6 tot 11 April by die KKNK in die kykNET-hoërskoolsaal. Vir nog vertonings en inligting besoek www.marionholm.co.za