marita
Ons praat met

Marita van der Vyver nooi jou saam

Bekroonde skrywer en SARIE-rubriekskrywer Marita van der Vyver, wat in Frankryk woon, gaan in September vanjaar saam met SARIE-lesers op ‘n opwindende leserstoer wat afskop in Parys en dan na onder meer Aubusson en Boussac op die Franse platteland. Sy het met Marguerite van Wyk gesels oor die magic van Parys, George Sand se minnaars, Franse piekniekkos en wat reis vir haar siel doen.

Hoekom het jy besluit om op dié leserstoere te gaan?
Om weg te kom van my man en kinders! Om meer as ‘n week lank nie kos te kook of skottelgoed te was nie – en, om heeltemal eerlik te wees, om meer as ‘n week lank nie aan ‘n roman te werk nie. Ek erken, ek begin nogal opgeklits daaroor voel. Ek het nog baie skryfwerk om te doen voor ek kan vertrek, maar dis soos ‘n wonderlike bossie wortels voor ‘n lui donkie se neus.

Die toer begin in Parys in die Opera-gebied. Wat beteken dié stad vir jou en wat wil jy als vir die lesers wys?
Oor Parys voel ek soos ‘n immer onweerstaanbare jeugliefde. Ek was 21 toe ek verlief geraak het op dié stad en elke keer as ek teruggaan, is ek ‘n klein bietjie benoud dat ek ontnugter gaan word. Dit dit eintlik maar net nog ‘n stad gaan word. Maar elke keer kom ek agter die magic is steeds daar.

Ek wil nie vir mense die tipiese toeristegoed soos die Eiffeltoring of die Notre Dame gaan wys nie, dit kan hulle op hul eie doen; ek wil hulle eerder saam met my op ‘n ontdekkingstog neem. Want elke keer as ek in Parys kom, ontdek ek nuwe vreugdes, dikwels onverwags. Weggesteekte straatjies en binnehowe, winkeltjies en markte en kunsgallerye, en die ongelooflikste verskeidenheid van museums. Ek pak elke besoek soos ‘n avontuur aan, met die plan om ‘n sekere buurt of museum te besoek, maar ek is altyd slaggereed om deur die onverwagse verras of verlei te word.

Wat sou jy uitsonder as hoogtepunte op die toer?
O, my persoonlike hoogtepunt is beslis die besoek aan die skrywer George Sand se tuiste! Sy was ‘n fassinerende, slim, sterk vrou wie se vele minnaars en mansvriende onder die grootste musikante, skrywers en kunstenaars van alle tye gereken kan word: Chopin, Liszt, Flaubert, Victor Hugo . . . Ek sou toerlede aanraai om bietjie oor haar na te slaan, al is dit net op die internet. Dit sal die hele ervaring nog meer verrykend maak.

Wat sou jy enige voornemende reisiger na Frankryk beslis aanraai om te besoek?
Parys, altyd, maar nie nét Parys en omstreke nie. Parys is nié Frankryk nie. Parys is Parys. (Nes New York nie die VSA is nie. New York is New York.) Nee, om werklik Frankryk te ervaar moet jy platteland toe gaan. Hoe kleiner en rustiger die dorpies wat jy besoek, hoe nader kom jy aan die siel van die land.

As jy op reis gaan, wat pak jy altyd in?
‘n Boek om te lees en verkieslik een wat te doen het met die reis. Dis ‘n baie spesiale voorreg om ‘n storie te lees wat in Parys afspeel terwyl jy jou in Parys bevind. Of iets wat deur ‘n beroemde Franse skrywer geskryf is terwyl jy in Frankryk reis.

Watter soort klere moet lesers inpak vir dié reis saam met jou?
Gemaklike stapskoene, veral vir Parys, as hulle by my wil byhou! Parys is ‘n stad, selfs meer as die meeste ander, wat te voet verken moet word.

Wat is een van jou gunsteling-plekke wat julle gaan besoek tydens die SARIE-leserstoer?
Die Château Sallandrouze waar ons die meeste van die tyd gaan eet en slaap. Dis ‘n baie spesiale plek, luuks sonder om styf te wees. Franse flair gemeng met Suid-Afrikaanse gasvryheid – ‘n onverbeterlike kombinasie.

Julle gaan lekker eet – onder meer ‘n feesmaal by Louis Jansen van Vuuren (die SA kunstenaar) en Hardy Olivier by hul Château de la Creuzette op Boussac in hul somerkombuis. Watter tipiese Franse geregte is jou gunstelinge en watter gastronomiese wonders kan lesers verwag?
Ek het by Hotel Château Sallandrouze geëet en ek het al by Louis en Hardy geëet. As daar één ding is wat ek die toergangers kan belowe, is dat hulle héérlik gaan eet. En vir my is een van die lekkerste lekkertes van Frankryk steeds die piekniekkos wat jy sommer so op markte en in klein winkeltjies kan koop. Die verskeidenheid van brode, patees, kase, hamme, worse, olywe – om nie eens te praat van die sjokolade en die soetgoed nie!

Daar is sekerlik heelwat te koop in Frankryk – julle gaan na markte, ook ‘n draai maak by die porseleinfabrieke van Limoges … wat bied Frankryk vir vroue wie se sakke brand met ‘n paar ekstra note?
Dis die Suid-Afrikaner Lanie (van Reenen), wat saam met ander vennote die Hotel Château Sallandrouze ingerig het, se afdeling – sy’s die shopper onder ons! Maar ek is mal oor wat die Franse lècher les vitrines noem (om winkelvensters te lek!). Om te bewonder, om besiel te word sonder om noodwendig te koop. As koop jou ding is, kan jy waarlik enigiets op aarde in Frankryk koop. Die enigste beperking is jou begroting en die grootte van jou tas. En as jy jou hart verloor op ‘n massiewe skildery of meubelstuk, kan jy dit altyd laat verpak en versend.

Ons het almal so ‘n fassinasie met Frankryk – wat is dit? Die filosofiese Franse lewensuitkyk, straatkafees, romantiese taal, mooi liefdesliedjies, glam klere, sensuele kunsflieks, gourmet kos?
Dis iets van al daardie dinge en veel meer. Die Franse wéét hoe om te lewe, met die kop, die maag en die hart. Dis nie toevallig dat joie de vivre en savoir faire uitdrukkings is wat deur soveel ander tale aangeneem is nie.

Som Frankryk in vyf woorde op (seker ‘n onbegonne taak, maar jy is gelukkig ‘n woordmens).
Rasioneel, romanties, sensueel, esteties en hedonisties!

Wat doen Franse kos aan jou emosies?
Dit het my van ‘n koseter in ‘n kosskrywer verander, wat meer kan ek sê? Ek werk op die oomblik aan ‘n boek vol kosstories en-foto’s, wat volgende jaar verskyn. Ek kan my nie indink dat dit in enige ander land, behalwe miskien Italië, met my sou gebeur het nie.

Hoe het Frankryk jou siel aangeraak in dié tyd wat jy nou daar bly?
Ek dink dikwels aan daardie Duitse gesegde oor soveel tale jy ken, soveel keer is jy mens. Dit voel of ek dubbel die mens is wat ek voorheen was vandat ek in Frankryk ‘n nuwe taal, kultuur en verwysingswêreld moes leer ken. Dis ‘n proses wat gepaardgaan met intense frustrasie en irritasie en oomblikke van wanhoop oor ek steeds nie weet wanneer om le of la voor meeste woorde te gebruik nie – maar dis onbeskryflik verrykend, verrassend, opwindend. Al die eienskappe wat reise vir my aanloklik maak, noudat ek daaraan dink. Asof my lewe hier ‘n eindelose reis geword het.

Is daar ‘n paar basiese woorde waarmee nie-Franssprekende reisigers gewapen moet gaan na Frankryk – al is dit net om hul goedgesindheid jeens hul gashere te wys?
My Franse man spot my mos altyd oor ons Afrikaanse meisies nooit kan ophou om asseblief, dankie en jammer te sê nie, so dit sal dalk goed wees om dié drie onontbeerlike woordjies te leer: s’il vous plaît, mercí en desolée of pardon.

En hoekom hou jy dan so van reis?
Ek het jare gelede in ‘n onderhoud gesê reise doen meer vir my siel as duur rome vir my gesig. Noudat ek ouer word, versmaai ek nie meer gesigrome nie – maar ek sal steeds eerder geld uitgee op reis as op omtrent enigiets anders. Dis die opwinding van die onbekende, van wakker word in die oggend en nie weet watter wonderlike ontdekkings die dag inhou nie. Dit sou fantasties gewees het as ons elke dag, selfs by die huis, só kon wakker word. Maar nou ja, ons weet almal hoe voorspelbaar die alledaagse lewe kan word. Dis waarom ek altyd wil aanhou reis.

  • http://ambkvtixuzuh.com/ jzjqrnscxnh

    DPDuv9 naxplhcflvgh, [url=http://ipcukbqrgods.com/]ipcukbqrgods[/url], [link=http://jrzstthwmgyc.com/]jrzstthwmgyc[/link], http://apuqffzmyads.com/