sarie_marita_
Ons praat met

Marita van der Vyver se 2010: 2 boeke, ‘n rolprent, ‘n toneelstuk

Marita van der Vyver is op die oomblik in die Kaap. Besig met hope nuwe projekte Marguerite van Wyk het met haar gesels.

Hoekom het jy besluit om die Kaap te besoek?
Dis ‘n blitsbesoek vir werk, werk, werk. Die hoofdoel was om saam met die vertaler aan die Engelse vertaling van my nuwe roman te skaaf. Die Afrikaanse titel is Dis koue kos, skat en die Engelse titel Just Dessert, Dear en albei sal vroeg in Mei uitgegee word. Dit breek my hart om in hierdie fantastiese somerweer heeldag vasgekluister in ‘n woonstel te sit en werk, veral as ek dink hoe aaklig die Europese winter vanjaar is en dat ek oor ‘n paar dae weer terug in daardie bevrore omgewing gaan wees.

Met watter projekte hou jy jouself besig?
Die eerste paar dae was volgeprop met onderhoude, fotosessies en promosiewerk vir vyf verskillende projekte waarby ek vanjaar betrokke is. Nog nooit in my lewe het ek so baie ysters gelyktydig in die vuur gehad nie.

Hiermee is Marita besig…

  • Ek gee vanjaar ook ‘n régte kosboek uit (al klink my roman soos ‘n kosboek, bly dit ‘n roman) met die titel Somerkos in Provence. Dis ‘n baie mooi koffietalfel-kookboek vol kosstories, onpretensieuse, eenvoudige resepte met vars, Mediterreense bestanddele wat ook in Suid-Afrika beskikbaar is, foto’s van vriende wat om tafels vol kos kuier.
  • En dan publiseer ek ook later vanjaar ‘n persoonlike keur uit die Grimm-sprokies met die allerlieflikste illustrasies deur Piet Grobler.
  • Plus kykNET maak ‘n rolprent van my jeugroman Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom waaroor ek heel opgeklits is.
  • Die KKNK bied ‘n toneelverwerking aan van my roman Vergenoeg met Sandra Prinsloo in die rol van die ma, Adele Botma.

So jy kan verstaan dat ek sê ek was te besig om selfs soos gewoonlik Suid-Afrikaanse koerante en tydskrifte te lees en televisie te kyk en in die winkels rond te slenter. Die hoogtepunt vir my is om Tafelberg op ‘n wolklose bloulugdag te sien, soos elke keer as ek in Kaapstad kom.

Wat mis jy die meeste van Suid-Afrika in die vreemde?
Die mense wat ek liefhet.

Hoe voel jy elke keer as die vliegtuig land op Suid-Afrikaanse bodem?
Tuis. Maar as die vliegtuig ná die kuier weer in Marseille in Frankryk land, voel ek ook weer tuis. Ek het nou twee wêrelddele waar ek tuis voel.

Is jy beïnddruk met die nuwe, opgeknapte Kaapstad Internasionale lughawe soos hy nou daar uitsien (met die oog op die Wêreldbekersokker-byeenkoms later vanjaar?)
Ek het nie opgemerk dis opgeknap nie. Ná sowat 24 uur op lughawens en in vliegtuie was ek so sat dat ek soos ‘n slaapwandelaar gevoel het.

As jy in Suid-Afrika is, wat koop jy altyd om saam te neem terug Frankryk toe?
Volgraanbeskuit en boeke vir myself en biltong vir die res van die gesin – insluitend my man se Franse seuns wat amper nog meer versot is op biltong as my Afrikaanse kinders.

Is dit vir jou lekker om weer Afrikaans te kan praat, terug in Suid-Afrika?
Ek praat elke dag met my kinders Afrikaans, so ek mis dit nie om Afrikaans te praat nie – maar dis wel wonderlik om so baie Afrikaans orals om my te hoor.

Hoe inspireer Suid-Afrika jou kreatiewe siel?
Ek voel soos ‘n blom wat water kry as ek hier kom. Suid-Afrika voed my wortels, al is my stingels en blare heel tuis in ‘n ander land.

Bestel Marita van der Vyver se boeke op Kalahari.net

Word ook ‘n lid van Marita se Facebook-groep

  • Brenda

    Weet iemand wanneer KykNet Marita se

    ‘ Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom ‘

    gaan begin uitsaai ?

  • http://www.kyknet.co.za Lindi van Niekerk

    Dit is nie ‘n reeks nie – dit is ‘n fliek wat in Augustus 2010 in rolprentteaters vertoon word.

  • http://hdzugntokawl.com/ shwbozbx

    vgLrGf zxzxhdevvhhh, [url=http://ynkpryjehajc.com/]ynkpryjehajc[/url], [link=http://avtieqnimsep.com/]avtieqnimsep[/link], http://mbkdaedixgvd.com/

  • Clara

    Hey, klasse Wand, die du da geuabt hast. Plane gerade ein e4hnliches Projekt und bin bei der Suche nach Inspiration auf dein Modell gestodfen. Sehr cool, dass die Wand so variabel ist, das Gewicht zu einem Grodfteil auf dem Boden lastet und dass man das Ganze auch leicht wieder abmontieren kann. Du hast oben erwe4hnt, dass du dir wiederum andere Ple4ne aus dem Internet zum Vorbild genommen hast. Hast du da noch entsprechende Links? Mich wfcrde z.B. interessieren, wie genau du die Balken miteinander verbunden hast und ob die Wand letztlich vf6llig stabil ist oder sich beim klettern bewegt. Die Seile dehnen sich doch bestimmt, gerade wenn man einen ordentlichen dcberhang einstellt, bei Bewegungen ein Bisschen oder? Ich we4r dir sehr dankbar ffcr eine Antwort.Liebe Grfcdfe Max