Ons praat met

Marius Weyers lewe by die see

Soggens staan Marius en Evette Weyers oorkant mekaar en oefen. “Dis ons mating ritual,” sê Evette.

Toe hulle 35 jaar gelede getrou het, het sy die huwelik maksimum twee of drie jaar gegee om te hou, vertel Marius. 

Volgende week vlieg hy ná twee jaar in die Laan huis toe. Rooi-Els toe. Na Emoyeni, hul huis waar Evette wag. In Zoeloe beteken dit “in die wind”, want dit is waar jy dié twee vrygeeste se kreatiewe siele sal kry.

Hy self het die huwelik destyds so vyf jaar gegee. He-he-he, lag hy verleë oor hul kleingelowigheid. Nou doen hulle steeds mating rituals.

“Ons het mekaar soos klei gevorm. In die begin het ons heelwat gebots en uitmekaar gespat, maar nooit te ver nie. Dan het ons teruggekom. Mettertyd waardeer jy mekaar as mens. ’n Amerikaner het eenkeer vir ons gesê dit is in ons geval nie one and one makes two nie, maar one and one is one.

By Emoyeni kyk hy kilometers ver oor Valsbaai na die Kaapse Skiereiland uit. Hy en Evette leef graag uit die see. Kreef, alikreukel, mossels, vis en seewier uit die “voortuin”. Daar waar die see snags met hulle praat. Soms sag en sussend en soms hard en woedend teen die rotse.

“Die see is deel van ons. ’n Alomteenwoordige huismaat. Ek het dit die twee jaar in Johannesburg
gemis. Maar ek het Evette die meeste gemis. Jy wil deur die dag ’n vinnige gedagte met jou maat deel, dan bel jy gou. Partykeer het jy saans al vergeet wat jy wou sê. ‘Daar is nog iets wat ek wou sê . . .’ Dan is die oomblik weg. Dit was hel op ons telefoonrekening.”

Hy het elke ses weke gaan kuier en Sondagmiddae as Evette hom lughawe toe neem, het hy gevoel soos ’n kind wat moet terug koshuis toe. Terug na 7de Laan.

Sy karakter,Tim, se dramatiese storielyn neem hom nou ’n paar maande uit ons sitkamers. Dan maak hy later vanjaar weer ’n kort draai, vertel hy sonder om die waar en wanneer van Tim en die slinkse Gita se geheime te verraai.

Hy was nooit ’n sepiekyker nie. Om daarin te speel het hom ook nie getrek nie.Maar hy kon verstaan hoekom akteurs dit doen in die klimaat wat ons die afgelope tien jaar in die teater-, TV- en fliek-bedryf het: Die groot droogte nadat die kunsterade ontbind en die Staatsteater se stroompie
opgedroog het. En die skaarste aan Suid-Afrikaanse films.

7de Laan se pas en werkwyse was in die begin vreemd. Die vervoerband wat elke aand ’n episode uitspoeg. “Ek was verras toe ek die agtergrond van die sepiebedryf leer ken. Dit is harde werk as jy vyf, ses tonele ’n dag het en nie veel tyd om woorde te leer nie. Dis taai. Jy het net twee kanse om ’n ding reg te doen.”

Ná die sukses van Marius se hoofrol in The Gods Must Be Crazy (1980) het hy in die tagtigs sy heil in Amerika gaan soek, maar die groot rolle het nie gekom nie. Eers terug op eie bodem was daar nuwe kanse (sien Om te weet). Hy het al opgehou tel in hoeveel teaterstukke,TV-reekse en rolprente hy gespeel het. In 2003 was dit al 130 teaterstukke. Hoogtepunte soos Ampie, Siener in die suburbs en A Report to an Academy maak sy verhoogwerk legendaries.

Pas het kykers hom weer as kaptein Wollie de Wet op SABC2 gesien in die uiters gewilde reeks Amalia 2 (dit was tevore ook op kykNET).

Vir hom het 2011 vroeg afgeskop met ’n nuwe rolprent wat gegrond is op die toneelstuk Faan se trein, wat in die sewentigs op die planke was. Marius speel onder die regisseurskap van Koos Roets die rol van ’n dokter wat aan dwelms verslaaf is. Verfilming word in Februarie en Maart gedoen.

In Junie en Julie vanjaar begin hy skiet aan ’n rolprent waarvoor hy al ’n paar jaar lus is: Katinka Heyns se verwerking van die digter Eugène Marais se lewe. “Katinka sukkel nou al van 1996 af om die fliek bymekaar te kry. Ek het haar vyf jaar gelede gewaarsku ek gaan te oud word om Eugène te speel. En natuurlik het dit toe gebeur! Ek speel nou die rol van die ou man by wie Eugène op die plaas gaan woon.”

Marius kan nie wag dat “Aksie!” geroep word nie. “Ek is as akteur soos ’n bokser: As die klok lui, wil jy begin boks!” As hy moet kies waar sy liefde lê – TV, rolprente of teater – sal hy elkeen kies. Miskien tog teater méér.

“As Chris Barnard vir my ’n nuwe stuk bring en sê hier is die babatjie, niemand het nog aan hom geraak nie, hy is vars . . . ek sal dit nie kan weerstaan nie.”

In die teater is die gehoor vir hom elke aand anders. Hulle is soos ’n ander akteur in die stuk. “Dít is wat dinge opwindend maak, as jy die gehoor deel van jou spel maak. Jy hoor as hulle fluister. As jy hulle vang, het jy iets besonders. Met erns of komedie wéét jy as jy hulle op daardie oomblik het. En jy weet as jy oor hulle koppe speel.”

Om in ’n fliek te speel is net so lekker. Daar is ’n ander roetine en dissipline, ’n belangrike verhouding wat jy met die kamera opbou. Julle begin mekaar vertrou.

“Jy moet weet hoe naby en hoe ver hy is. Wat lekker is van die kamera, is dat jy net hoef te dink. Die kamera vang dit op.Maar as jy lieg, dan vang hy dit ook. Die emosie gaan nie verlore nie. Die kamera is nie genadig nie.”

In die Afrikaanse filmbedryf was Katinka Heyns se Paljas in 1996 vir hom ’n hoogtepunt. ’n Goeie fliek met ’n goeie storie. Nie ’n lig-in-diebroek- komedie met toilethumor of ’n deursigtige liefdesverhaal nie.

“As ons net op Paljas se trant kon voortgaan . . .” Maar hy juig oor die feeste! “Kyk verby die dronk mense na die stukke wat opgevoer word en sien hoeveel belangstelling daar steeds in die teater is.”

Hy kyk nie gereeld terug op sy loopbaan nie. “Jy is so aan die gang met waarmee jy besig is. Af en toe vra mense my vir ou foto’s. Ek het net die eerste paar jaar plakboeke gehou. As jy jou goeie werk begin doen, jou groot rolle begin speel, is daar nie meer tyd nie.”

Vir hom is herinneringe – en vrede – belangriker as foto’s. “Ek streef na vrede in my hart. Vrede met jouself, jou medemens en die wêreld. Dis asof ek elke dag wanneer ek wakker word van voor af daarna moet soek. Daar is altyd goed wat in die pad kom. Jy staan met vrede op en as jy die radio aansit, bederf die tweede storie dit. Dan wil jy nie meer koerante lees of nuus kyk nie, want
dieselfde dinge wat jou gister kwaad gemaak het, maak jou vandag kwaad.”

Maar hy is nie kwaad genoeg vir die misdaad om weer sy tasse te pak nie. “Ek wil op geen ander plek as in Suid-Afrika bly nie. Ek dink dit moet verskriklik wees om te emigreer. Ek het vir lang tydperke in die buiteland gebly en was nooit van plan om permanent soontoe te gaan nie.Maar selfs dít was moeilik. Jy is nooit deel van daardie land nie. Jy deel nie ’n kennis van waar julle vandaan kom nie. Behalwe dat ek elke dag ’n paar taxi-bestuurders wil aanrand, is ek lief vir my land.”

Rooi-Els is ’n plek waar hy maklik vrye teuels aan sy hunkerende kluisenaarskap kan gee. “Ek weet nie wat dit in my is nie. My pa, Martin, was ook so, en my broers Hendrik en Cornelius, én my broer André wat jonk dood is.”

Hy verpes die kollig en wou nog nooit celebrity-status gehad het nie. “Dis te maklik om ’n celebrity te wees. Ek wil net ’n akteur wees. Jy maak ’n gat van jouself op Big Brother en dan is jy ’n celebrity. Ek is te menssku, ek wil nie by ’n geleentheid gaan staan en gesels nie.” Hy roem hom eerder op nederigheid. Dit is vir hom ’n belangrike aspek van enige mens.

“Ek kan arrogansie nie verdra nie. Omdat ek sulke wonderlike mense soos Athol Fugard ontmoet het. Hy het nie ’n tikkie arrogansie in hom nie. Jy dink hy mag dit maar hê, maar hy het nie. Ek het baie egoïsme om my in teater en films gesien. Dit is deel van die beroep. Dit was van die begin af vir my baie lelik. Ek het besluit dit gaan nie met my gebeur nie. Dis ’n job vir my. En ek is lief vir die job en het vreeslike respek daarvoor. Ek het nog nooit gedink dit maak jou so verskriklik spesiaal nie.”

Die woord “aftree” bestaan nie vir hom nie. “Die belangrikste is dat ek steeds die job wil doen. En so lank ek drie woorde ná mekaar kan onthou, kan ek aangaan daarmee.”

Marius is in Albertskroon, Johannesburg, gebore en het ’n groot deel van sy kinderjare op ’n plaas by Bapsfontein duskant Pretoria deurgebring waar hy graag lang tye in die veld alleen was. “Evette is die enigste mens wat daarna vir my die vryheid van kluisenaarskap gegun het. Ek en Evette kan saam wees, maar elkeen ook op sy eie en daar is geen gevoel van jy móét iets sê nie.”

Hy het nog dinge waarmee hy worstel, soos frustrasies oor werk. Hy is sy eie grootste kritikus. ’n Toegewyde perfeksionis. Tog het Evette hom al probeer leer om homself ’n break te gee. Dan is daar Marius, die ewige reisiger. Hy het ’n onversadigbare honger daarna. Evette ook.

“Ons smag nou na Parys se agterstraatjies, croissants en koffie vir ontbyt. Ons wil weer konjak in Spanje drink en die reuk van honderde jare in ou museums inadem.”

Hulle het die eerste paar jaar van hul huwelik hul laaste geld uitgegee op reis. “Ek is bly daaroor. Dit help nie jy wag tot jy oud is nie.”

Die goue oomblikke saam met Evette is vir hom belangriker as enigiets anders. “Om wakker te word langs my vrou en om by haar te wees.Om saam met haar te lag en kos te maak. Ek weet dit gebeur nie met almal nie, maar ek weet presies wat ek in haar het.”

Dit maak hom bang dat hy haar eendag kan verloor. “Liefde maak jou kwesbaar. Jy stel jou oop vir ’n verskriklike seer.”

Hul huwelik is nie altyd maneskyn en rose nie. Hy beskryf dit as twee mense wat moet saam leef en neem en gee. “Evette is regtig amazing. Sy het ’n geweldige passie vir die lewe wat soms baie uitputtend kan wees. Sy is aan die gang van die môre tot laataand. Sy is interessant, sexy en warm en sy het ’n verskriklike liefde vir mense en diere en ’n groot geduld met my.”

Hy dink ’n bietjie na oor hul albei se pessimisme in die begin van die huwelik. “Daar is met die jare ’n ding wat gebeur wat jy nie eintlik kan verduidelik nie, maar dit is liefde. Op ’n dag voel jy net daai liefde.”

Nou is dit elke dag daar. Van die wakker word tot die oefeninge en die middagete uit die see duik . . .

  • tanja

    hoekom trou mens as mens so min in mekaar vertroue het??????????

  • Elzabe

    Wat ‘n wonderlike rolmodel: gedrag, sedes, huwelik, ens.

  • Gerda

    Baie dankie vir die interessante artikel. Dit is altyd aangenaam om te lees oor ‘n opregte mens, iemand wat net homself is, wat weet van nederigheid en die lieflikheid van ‘n eenvoudige leefwyse. Mag Marius en Evette nog lange jare van geluk en gesondheid geniet.

  • Jeane

    Ideale huwelik – Ek gun hul die geluk wat hul toekom want hul het daaraan gewerk soos Evette haar beeldsnee werk maak. Hierdie is my ideale huwelik – onder die reenboog gaan ek dit vind.

  • Nina

    Tanja – vir die hoop na iets meer en die gedagte dat as ek dit dan moet aanpak, dan doen ek dit eerder saam met hierdie persoon? Kyk op watter fantastiese saamwees en geluk hulle sou uitgemis het omdat hulle altwee twyfel gehad het. Jy klink jonk.

  • tanja

    ek is jonk ja, 60jr jonk!