527
Ons praat met

Ma’s rondgestamp deur stakende onnies in Parys, Vrystaat – SARIE-joernalis was daar

“Tannie, ons was baie bang en het liedjies vir Liewe Jesus gesing sodat Hy ons kan kom help,” het Laetitia van Zyl (8) met ‘n rooigehuilde gesiggie voor die Laerskool H.F. Verwoerd in Parys vertel.

“Van my maatjies was baie banger as ek. Hulle het meer gehuil. Ons het harder as die slegte mense probeer sing, maar ons was baie bang,” sê Laetitia.

Aan haar sy was haar ontstelde ma, Tersia. “Kyk hoe lyk my kind! Hoe moet ek haar môre met ‘n geruste hart terugbring skool toe?”

Karla Schutte het ook haar seuntjie, JP, kom haal.

“My kind is baie getraumatiseerd. Sy sussie is onlangs aangeval en hy het dit nog nie eens verwerk nie. Dit wat vandag by die skool gebeur het, is verregaande.”

Nog ‘n ouer van die skool, Wilma Pieterse, vertel die moles het gebeur net na ouers hul kinders afgelaai het.

“Stakers het die kinders by die hek verdring om in te kom. Ons ouers het ‘n buffer probeer vorm om ons kinders te beskerm. Toe word ons rondgestamp. Die skool het blykbaar al gister gehoor daar gaan vandag probleme wees. Die hoërskool het goeie voorsorg getref. Hoekom het die laerskool dit nie ook gedoen nie? Dis buitendien vir my skokkend dat stakers kinders by ‘n laerskool kom traumatiseer,” het sy tussen ‘n groep ander ontstelde ma’s gesê.

Die meeste ouers wat teenwoordig was, was ma’s en hulle het dadelik hul mans gebel. Binne minute was die strate rondom die skool vol geparkeer.

Van die pa’s was hewig ontsteld en daar was na bewering een wat die vuiste ingelê het.

Die graad een tot drie kinders is in die saal ingeneem waar een van die onderwyseresse vir hulle stories vertel het en hulle liedjies laat sing het.

Ouers het in die voorportaal en by die saal se deur saamgedrom om hul kinders te kom haal.

Toe ek ‘n onderwyseres uitvra of ons kinders veilig in die skool is, het sy gesê die situasie is 100% veilig. Maar ek kon sien baie kinders is ontsteld.

“Julle ouers veroorsaak net paniek en julle gee ons meer moeilikheid as die stakers,” het sy vir my gesê.

Ek en ‘n hele paar ouers het daarop aangedring om hul kinders huis toe te neem. Ek het werklik gevoel die situasie is onveilig vir my peetkind, Given Lekoana (10).

Die stakers het in die skool se binneplein ge toi-toi en vakbondliedere gesing. ‘n Groep pa’s het digby hulle gestaan en hulle met arendsoë dopgehou. Die meeste groot, fris plaasboere.

Gewapende polisiemanne het ook die stakers dopgehou.

Die skoolhoof, mnr. Chris de Swart, het my verseker die situasie is onder beheer. Hy het erken “dinge het bietjie handuit geruk toe ouers en stakers mekaar rondgestamp het. Die ouers is hier omdat hulle hul kinders wil beskerm en hulle sal nie die terrein verlaat voor die stakers nie weg is nie,” het hy gesê.

Hy het my verseker daar was vanoggend mense by die hekke om toesig te hou.

“Die situasie sal vandag gemonitor word om seker te maak die kinders kan môre veilig skool toe kom,” het hy gesê.

Kolonel M. Rapitsi, stasiebevelvoerder van die Suid-Afrikaanse Polisiediens op Parys het die rondstampery veroordeel.

“Dit is nie reg om binne-in ‘n skool te betoog nie. Dis nie reg teenoor die kinders nie. Ons was dadelik hier om die situasie te monitor om seker te maak die kinders, ouers en stakers is veilig.”

Een van die stakers, wat sê sy is ‘n skoolhoof, sê sy sien niks daarmee verkeerd om by ‘n laerskool te kom betoog nie.

Op ‘n vraag of sy nie dink dis onregverdig teenoor die kinders nie, het sy geantwoord: “Ons is hier om die toekoms vir die kinders voor te berei. Hulle moet leer mens moet baklei om dinge reg te kry.”

Sy meen die kinders wat getraumatiseerd is, is net “bederf en nie behoorlik deur hul ouers op die toekoms voorberei nie.”

Sy wou nie haar naam noem of toelaat dat ‘n foto van haar geneem word nie, want sy is bang sy word “geviktimiseer”.

‘n Ma wat die gesprek aangehoor het, het opgemerk dat haar kind net so “geviktimiseerd voel”.

  • http://www.pestalozzi.org Leendert van Oostrum

    Hmmmmm….. Ek weet van tienduisende kinders wat heerlik "bederf" word.

    Hulle kry tuisonderwys en leer om dinge reg te kry op ander maniere as met openbare geweld.

    En elke keer as onderwysers hierdie streke uithaal word die getal tuisleerders meer.

  • Hermien

    Wat ‘n slegte voorbeeld is dit nie vir die kinders om te sien hoe mense wat veronderstel is om volwasse te wees mekaar takel nie.

  • Ansie

    Ek dink dit is ‘n skande. In die Kaap is kinders deur Cosatu-lede met knopkieries bygedam. Dit wys jou tot waar het ons land al gedaal. Dankie Vader ek het nie meer kinders op skool nie. Ek kry die klein kindertjies in my hart jammer om in hierdie vrot land te moet groot word. Waar is Zuma en sy trawante wat reg en orde moet laat geskied. Sterkte aan al die ouers, daar le is groot taak vir julle voor.

  • Valk

    Interessant dat hierdie intimideringstaktiek maar nog ou die ANC se "people’s war" taktiek is waar alle mense tergelyktydig ‘n teiken en ‘n wapen in hul lae-intensiteit oorlogsvoering is. Onskuldiges word geweldadig intimideer om by hulle aan te sluit sodat hulle saak meer gewig kan kry. Hoe absoluut barbaars en demonies dat hierdie stakers nou weer onskuldige kinders in hulle "people’s war" betrek. As hulle ‘n kwessie met die staat het, neem dit met die staat op, nie met ons minderjarige kinders nie. Tragies dat die polisie en weermag ons voor ’94 teen hierdie hordes kon beskerm. Nou moet ons dit self doen.

  • Estie van der Merwe

    Dat toegelaat word dat die betogers onwettig die skoolerf betree en voortgaan met hulle onwettige optog aksie is onaanvaarbaar. Hoekom is daar nie onmiddelik opgetree nie? In die eerste plek kon die Skoolhoof of beheer liggaam aangedring het dat die groep verwyder word en die polisie sou opgetree het. Ek voel bitter jammer vir die kinders wat opgelei word deur die sogenaamde "skoolhoof", wat ons getraumatiseerde kinders, as bederf sien, omdat ouers hulle nie op die toekoms voorberei nie. Trauma gaan verseker op groot skaal gesien word, as dit is, hoe die sogenaamde skoolhoof en haar trawante, kinders vir die toekoms voorberei.
    Dit is voorwaar jammer dat daar ‘n gevoel was die ouers meer amok as die stakers gemaak het, want, dit was glad nie die geval nie!!
    Hierdie betogers sou geweet het wat is trauma, as die ouers vandag regtig amok gemaak het!!

  • bevrese onderwyser

    Dit is belaglik!
    Ek is self ‘n onderwyser, terwyl leerders by ons skool uit die ‘township’ verwyder is en aan ons klasse se deure geruk het, wat toegesluit was en ons gedreig het, het die polisie 100m weg van betogers in ‘n kringetjie gestaan en geen bystand gegee nie, dit terwyl daar deur regering gese is dat hulle erenstig sal optree teen betogers wat klasse ontwrig? Nou vra ek die vraag, waar is die polisie dan? Hoekom tree hulle nie dan op nie. Ek vrees vir my lewe more, maar as ek nie gaan nie word daar by my geld afgetrek en ek as enkel ouer kan dit nie bekostig nie!! Waar is my regte????

  • Ria

    Hoera vir tuisleerders, sien nie meer kans vir wat in ons skole aangaan nie. My dogter doen al 4 jaar tuisonderrrig!! Baie beter!!!
    Ons woon in Soyo, Angola en dit is jammer wat die vakbonde in SA doen. Hier is dit so belangrik vir die onnies wat so te se niks verdien, om die kinders te "educate".
    Hulle loop met hul mooi klere deur damme water – hier is geen teerstrate nie. Om pligstgetrou die kinders te kom leer!!Hier is die opvoeding van die arm kinders eerste prioriteit.
    SA se vakbonde behoort hulle te skaam omdat hulle die klein kinders so traumatiseer met hulle getoi-toi!!!
    Hulle sal nooit weer veilig voel by die skool nie!!!

  • bevrese onderwyser

    Daar is gevra dat die betogers verwyder word, maar die polisie het net hulle skouers opgetrek en gese dat hulle dit nie mag doen nie…Dit is toe wat die ouers saam staan en optree. Geen vuiste het geklap nie, net bekommerde ouers wat hulle kinders wou beskerm teen geweld en ontwrigting van onderrig. EK is TROTS om deel van die Gemeenskap te wees waar ouers kan saam staan en opstaan vir dit wat reg is!!!!

  • Henk Kotzé

    My arme ou skool!

  • Lettie Kriel

    Wat ‘n skande!!! Die onderwysers is veronderstel om verantwoordelik te wees vir kinders se opvoeding en kyk net hoe barbaars tree hulle op. Ons land is buite beheer. Die "demands" gaan net meer en meer word. Ek ondersteun ook tuisonderrig want dan word ons kinders nie blootgestel aan hierdie ongure elemente nie.