Ons praat met

MasterChef SA: Pretoria se Berdina uitgestem

Wat dink jy het verkeerd geloop met die gereg wat jy in die finale uitdaging van gisteraand se episode gemaak het?
Dit was net nie my dag nie. Dit was swaar om weg te wees van my man en gesin af en dit het aan my begin karring. Ek was nie heeltemal gefokus nie en die tyd het my ingehaal. Wanneer die tyd min raak, raak jy paniekerig. Die deelnemer wat MasterChef gaan wen, is die een wat die minste foute gaan maak. En ek het foute gemaak. Ek was hartseer toe ek uitgestem is. Ek wou langer bly, want ek wou meer leer.

Jy het nou jou eie restaurant?
Alles werk uit soos dit moet. Die dag nadat ek uitgestem is, het ’n vriend my gebel en vertel daar is ’n bakkery in Pretoria te koop. Ek het dit gekoop en binne twee weke vir die plek ’n nuwe rok aangetrek. Ek het die deure op 5 Maart oopgemaak. Die plek se naam is Bella Sophia Culinary Café in Riviera, Pretoria. Ons verskaf ontbyt en middagete. Alles wat ons voorsit, maak ons self: ons bak ons eie brood, bedien vrugtesap wat vars uitgedruk is, en stop selfs ons eie varkworsies. Ons het ook heerlike nageregte op ons spyskaart.
 
Was jy nog altyd lief daarvoor om kos te maak?
Ek is die jongste van sewe susters en ons almal is lief vir kosmaak. My ma was ’n fantastiese kok. Sy was nogal streng in die kombuis. Dit was haar domein en sy het haarself daar uitgeleef. Sy was in die depressiejare gebore en het honger grootgeword. Toe sy as volwassene kos gemaak het, het sy dit met soveel flair gedoen. Sy kon die ongelooflikste dis van die eenvoudigste bestanddele maak. Wanneer my ma klaar gekook het, het ons ’n beurt in die kombuis gekry. Dan het ons koek gebak of fudge gemaak.

Wat het jy die meeste geniet om te maak?
Ek was nog altyd mal oor enige soetgebak. Vandag is dit ook my sterk punt. Toe ek die eerste keer ’n chocolate eclair reggekry het, is dit al wat ek vir ons gesin gemaak het. Dit was in standerd ses (graad agt). Ek het kookkuns op skool gehad en die resep oor en oor by die huis geoefen.
 
Jy het drie keer ’n oudisie vir MasterChef SA afgelê. Eers in Johannesburg, toe Kaapstad. Jy het uiteindelik die oudisie in Durban geslaag.
Toe die wedstryd aangekondig is, het my man gesê ek moet inskryf. Ek het crème brûlée met rooibostee gemaak – ’n Franse nagereg met ’n SA stempel. Met my oudisie in Johannesburg was my crème brûlée baie goed. Die onderhoud wat met ons gevoer is, het in groepe plaasgevind en ek is geneig om ander mense te laat praat. Ek was ’n muurblommetjie. Toe slaag ek nie die oudisie nie. Ons was met vakansie in die Kaap toe die oudisie daar plaasgevind het. My man het gesê ek moet weer probeer. My crème brûlée was toe ’n totale flop, so ’n ou loperige vla’tjie. Maar ek wou graag deelneem. Ek het toe weer crème brûlée gemaak, dit op droë ys gesit en Durban toe gevlieg. Ek het die oudisie daar geslaag.
 
Dit moes seker erg gewees het om so vroeg in die reeks uitgestem te word?
Ek glo steeds ek is ’n goeie kok met wye koskennis en goeie vaardighede. Maar meer as dit glo ek dinge gebeur soos dit moet. Dit was wonderlik om aan MasterChef deel te neem, maar ek het die wedstryd op die regte tyd verlaat, want toe kry ek die geleentheid om my eie restaurant oop te maak.  

  • mercia

    JA, hul ontbyt is heerlik!

  • Olga

    Ek sal verseker kom eet by jou restaurant. Bly ook daarrond,wonderlik. Jy gaan groot sukses maak. voorspoed!!!!

  • Tessa Smith

    Jy was my gunsteling deelnemer. Baie sterkte met jou besigheid, dit gaan n baie groot sukses wees. Jy was my wenner.

  • Wilma

    Man, ek was skoon vies toe jy uitgestem is! Sommer opgestaan en geloop. Jy was vir my die wenner!

  • Lynette

    Jy was beslis ons gunsteling-deelnemer. Kon sien jy het ‘n absolute passie vir kosmaak. Gaan jou mis in die res van die reeks!! Baie geluk met die restaurant, ons glo jy sal van krag tot krag gaan daarmee.

  • Maggie

    Baie geluk met jou eie plekkie. Wys jou net – dit kan gedoen word! Nou is jy die wenner!

  • Hettie Strydom

    Ek was so hartseer omdat jy uitgestem is. maar soos jy sê almal het hul ‘af dae’. Ons gaan jou voorwaar mis!!! Sterkte met jou nuwe maar tog bekende "avontuur"

  • Monique Coetzer

    Jy is vir my ‘n inspirasie! Sterkte met jou besigheid!

  • MARIE

    AANHOUER WEN

  • André

    Berdina, jy is nie regverdig behandel nie. Daar was ‘n ander deelnemer wat baie meer negatiewe kommentaar van die beoordeelaars ontvang het. Speel kleur ‘n rol in hierdie kompetisie? Indien wel, hou ek verby MC SA.

  • Coenie

    Jy is ‘n pragtige mensie…..ek kon die TV ‘n drukkie gee toe jy so hartseer was – Sterkte met jou Bella Sophia !!!

  • Ronelle

    ek was ook baie spyt dat jy uit is.. het onregverdig gelyk dat jy in die pressure test moes wees.. was lekker om te kyk hoe rustig en mooi jy met kos werk.. bly oor die geleenheid wat jou te beurt geval het met die restaurant.. wens dit was in die Kaap dan sou ek kom inloer!

  • Susan

    As jy nie uitgestem is nie Berdina het jy nie vandag jou eie restaurant gehad nie! So ja, dinge gebeur soos dit moet. Baie voorspoed met Bella Sophia Culinary Café en mag jy lang en gelukkige jare daar bak en brou.

  • Lynette

    Bly in Riviera en sal definitief ‘n draai kom maak by jou restaurant. Jy was almal in ons huis se gunsteling en jy het dit nie verdien om so vroeg uit te gaan nie!

  • Jan Gouws

    Ek is glad nie gelukkig hoe die beoordeelaars sekere mense hanteer nie – ek ruik ‘n rot hier word verseker voorkeur gegee aan kleur en as dit die geval is boikot ek die program

  • Elmarie

    Nee wat, moet tog nie weer ras en/of kleur inbring nie wat. Soms is dit tyd om te gaan en daar is dan ‘n rede voor en kyk nou net- hier is die rede! Nou het sy ‘n eie plekkie waar, sou sy langer ingebly het, sou die bakkery dalk al verkoop gewees het en sy haar geleentheid gemis het om nou haar eie potjie te krap. Mooi so en sterkte en ek glo hierdie is ‘n GOEIE advertensie vir jou en hope mense sal jou plek besoek!!

  • Ozzie

    Masterchef SA se beoordelaars is nie beoordelaars se dinges werd nie!! Hallo, laat hulle na die oorspronklike Masterchef of Masterchef Australie gaan kyk om te sien hoe die storie beoordeel moet word!!

  • Lynette

    Berdina se Bella Sophia is n vars bries in Riviera,ons eet elke dag daar want ons kan nie wegbly van haar wonderlike kos nie.Die soetgebak is smelt in die mond….die plekkie het n gesofistikeerde, onopgesmukte aardsheid wat spreek van n Suid-Afrikaanse plaaskind met styl.Masterchef het n fonds verloor !

  • Mariana

    Jammer jy is uit MC, maar hoe sê die spreekwoord, ‘as daar een deur toe gaan, gaan daar vele deure vir jou oop!! Mag jou restaurant vir jou net voorspoed bring. Well done!

  • Hettie

    Hi ek was ook vreeslik ongelukkig toe hulle jou uit stem. Maar ek glo met my julle Hart alles in die lewe gebeur met n doel hoekom sal niemand weet nie maar dit is ongelukkig so. Baie geluk in my oe is jy die wenner. Die HERE het met n doel jou laat uit gaan anders het jy jou groot geskenk van hom gemis. Baie geluk ek weet dit sal n groot suskses wees. Jy sal moet n plan maak om nog takke oop te maak ons wil almal weet hoe lekker jou kos is Bloem is die naaste ons gaan eerste proe. Sterkte en ek hoop jou pad is net met rose besaai

  • Tercia

    Jou deursettingsvermoë en styl is ‘n uitstekende voorbeeld vir enige Suid-Afrikaner om na te volg. Baie voorspoed met jou restaurant. As Bloemfontein net ‘n bietjie nader was, het ek ook gereeld daar kom eet want die geregte en (veral) nageregte wat op Bella Sophia Cullinary Café se facebook blad verskyn, laat my mond elke keer water.