sr1010aardklop_3_
Ons praat met

Mathys hou aan inspireer

Hy sê dit is spesifiek nie motiveringspraatjies nie, want hy wil mense inspireer. Hy wil hulle wys daar is hoop ná ’n lewensveranderende ongeluk en dat dit nie die einde van die wêreld is nie.

Mathys het in die laaste twee jaar by sy optredes begin gesels oor sy ongeluk, wat hy geleer het en wie hom geïnspireer het op die pad. “Soms raak ek meegevoer in die oomblik, dan besef ek ek praat heeltemal te lank – so het die idee om inspirerende praatjies te lewer begin posvat,” vertel Mathys aan sarie.com.

“My hele doel met dié praatjies is om vir mense te wys hulle kan elke dag van hul lewe ’n verskil maak. Ek wil nie noodwendig ander mense in rolstoele inspireer nie, maar normale mense.”

Hy sê die ding wat hom die meeste gehelp het ná die ongeluk, was gewone mense, die man op straat wat hom bygestaan het. “Elke mens kan elke dag vir iemand anders iets beteken, al is dit hoe klein. Ek kan daarvan getuig, en voel ek het ’n verantwoordelikheid om dit met mense te deel.”

Mathys gaan ook sing by die praatjies. “Soms vertel ’n liedjie meer as blote woorde. Ek neem binnekort ’n liedjie deur Hardus du Plooy, ‘My eie lewe’, op en dit vertel ongelooflik baie van hoe ek voel.” Hy meen wanneer hy sing, het die gehoor tyd om dit wat hy gesê het te oordink.

Daar gaan ook skyfievertonings wees met foto’s van die wonderlike tye wat Mathys sedertdien beleef het. Hy wil graag vir mense wys wat werklik moontlik is vir iemand wat paraplegies is.

“Die tema waaroor ek praat, kan maklik swaar en droewig raak, maar tog wil ‘n mens nie heeltyd tong-in-die-kies daaroor praat nie. Ek gee parapleë ’n stem, ons wil mense wys jy kan steeds ’n gehalte-lewe hê.”

Hy wil ook vir mense ’n boodskap gee dat jou lewe in ’n oogwink kan verander. “As jy jou oë oopmaak ná só ‘n ongeluk, moet jy weet daar is steeds ’n lewe wat vir jou wag. Ek het twee mense in rolstoele geken voor my ongeluk, Erik Holm [akteur in Binneland) en André Venter [voormalige Springbok-rugbyspeler]. Ek het so baie aan hulle gedink, en besef alles gaan oukei wees. Ek wil daardie ou vir ander wees, hulle moet weet daar is hoop.”

Mathys meen die lewe is kort en daar is baie uitdagings, maar ook net soveel geleenthede – ons moet net leer om dit aan te gryp. “Ek is baie gelukkig dat ek soveel as moontlik gedoen het toe ek nog kon loop. Ek het eenmaal in Zambië in 40 grade teen ’n krans afgeloop terwyl mense my gewaarsku het om dit nie te doen nie. Vandag is ek bly ek het nie geluister nie . . .”

Ja, die lewe is vol uitdagings vir iemand in ’n rolstoel, maar Mathys sê sy vriende wat hy leer ken het wat ook in rolstoele is, inspireer hom elke dag. “Van hulle is al 30 of 40 jaar in rolstoele en hulle gaan steeds aan, hulle oefen en doen wedlope. Dit is die ouens wat nooit gaan terugsit het ná so iets nie wat my die meeste motiveer om self ander te inspireer.”

Om Mathys vir praatjies te bespreek kontak Theresa by theresa@sixthsense.co.za of 011 880 1027.

Volg SARIE op Twitter en Facebook

  • Stefna Potgieter

    Hierdie man is ongelooflik!! ‘n Voorbeeld vir ons almal!!