Ons praat met

Cindy Nell, meer as net ’n beauty queen

Dit kan ’n oppervlakkige bedryf wees, die glanslewe in Suid-Afrika, sê Cindy Nell. Hoe meer famous jy raak, hoe minder kan jy jouself wees. Jy’s heeltyd op jou hoede. Jy vertrou naderhand niemand meer nie en weet nie wat jy vir wie kan sê nie. Jy raak ’n kluisenaar en begin dele van jouself wegsteek. As ’n man dan op jou pad kom wat sy tyd vat om jou te leer ken, onaangeraak deur die hello darlings en die vals soene op elke wang by belangrike partytjies, sê jy ja as hy jou nooi vir koffie. Vir Cindy (27), TV-aanbieder, sakevrou en gewese Mej. SA, is daardie man haar verloofde, die sakeman Clive Roberts, met wie sy in Maart op sy plaas in die Natalse Middellande trou.

Die verloofring aan haar vinger weerkaats die son waar ons middagete by die restaurant Tashas by Athol Square in Sandton eet. Dis een van haar gunstelingplekke, want die mense hier is nie “celebrity-mal” nie en hulle staar haar nie aan nie.

Sy wil asseblief ’n gereg sonder koolhidrate hê, sê sy vir die bestuurder wie se voornaam sy ken. Hy stel ’n eenvoudige hoenderslaai met ekstra avokado voor. Cindy het eers ná twee die oggend in die bed geklim, omdat sy die vorige aand aan Strictly Come Dancing op SABC2 deelgeneem het. Tog lyk dit asof sy niks minder as agt uur geslaap het nie.

Haar lang, bruin hare met ligstrepe is in ’n poniestert vasgemaak. Jy kan sien sy’s perfek gegrimeer agter haar groot sonbril. Haar stywe turkoois toppie komplementeer haar bruin vel, danksy haar eie verbruiningsroom, Caribbean Tan, wat sy ontwikkel het. Dis die naasbeste verkoper onder verbruiningsrome in die land, sê sy.

“Clive het albei sy voete stewig op die aarde. Ek hou van die kalmte wat hy uitstraal. Dis dalk omdat hy 10 jaar ouer as ek is. Die vermaaklikheidsbedryf oorweldig hom nie. Dis so verfrissend. Ons praat nie oor tipiese celebrity-dinge nie – eerder oor die politiek, ekonomie, aardverwarming, boeke wat pryse gewen het. Ons lê saam en lees by die vuur en drink wyn. Om by hom te wees is soos om van ’n deel van my lewe te ontsnap. Hy laat my voel ek is soveel meer as net ’n bekende gesig,” vertel sy.

Clive is die tweede man aan wie Cindy verloof is, maar dis die eerste man met wie dit rég voel. Sy het in 2006 haar verlowing aan die krieketspeler Jacques Kallis verbreek ná ’n onstuimige verhouding van drie jaar. “Iets het my laat voel Jacques is nie die man vir my nie. Dieselfde ‘iets’ wat my laat voel Clive ís. Dis instink.” Cindy sê sy en Jacques het aanvanklik besluit hul paaie moet skei, omdat hy ’n verhouding met ’n voormalige Mej. SA-deelnemer aangeknoop het. Maar dit het nie uitgewerk nie en toe Cindy in 2004 kort daarna van oorsee af op Johannesburg se lughawe land, was Jacques daar om haar te vra om te trou. “Dit was oorweldigend, want ek het hom nog nie vergewe nie. Alles het so vinnig gebeur en voor ek my kom kry, het ek ja gesê.

“Niemand wil alleen wees nie. Ons sal eerder in ’n ongelukkige verhouding bly en onsself oortuig dis nie só sleg nie. Daar’s altyd honderde redes om te bly en so min om dit te beëindig. Kan jy dink wat het deur my kop gegaan toe ek besluit het om te waai?

“Ek het geweet die media gaan ons uitmekaar trek. Maar dit was die regte ding om te doen. Ons verhouding was nie gesond nie. Ek’s iemand wat hard werk aan ’n verhouding. My ma en pa was ’n ruk uitmekaar toe ek nog op skool was, maar hulle het dit laat werk. Ek glo ook jy kan dit laat werk, maar dan moet ek 120% seker wees ek is saam met die regte man.”

Daarna het sy Clive by ’n geselligheid raakgeloop. Hulle het mekaar reeds geken omdat sy skoonheidsmaatskappy, Cosmetix, een van haar borge was toe sy in 2002 aan die Mej. SA-kompetisie deelgeneem het. Hulle het dadelik van mekaar gehou, maar Cindy het tyd en ruimte nodig gehad. Hulle was ses maande lank net vriende voor hul verhouding begin het.

“Hy’t nie eens my hand vasgehou of my gesoen nie en hy het nooit druk op my gesit om ernstig te raak nie. Hoewel ek tot hom aangetrokke was, het ek nog seer gevoel. Ek het in daardie tyd teruggetrek Johannesburg toe en my tyd gevat om gesond te word. Ek het baie geleer uit my verhouding met Jacques. As ek dinge anders kon doen, sou ek nie toegelaat het dat die media soveel druk op ons geplaas het om ons persoonlike lewe te ontbloot nie.

“Ek en Clive kry nou ook druk om ons troue eksklusief vir tydskrifte te gee, maar ons het besluit dis óns lewe. As ek oor tien jaar wakker word, moet ek saamleef met my besluite. Oor tien jaar gaan Clive langs my wakker word en die media gaan nie daar wees nie. Ek wil nou nee sê vir die verkeerde dinge. Ons is beste vriende en kan enigiets vir mekaar vertel. Ek wil dit soos goud oppas. Hy sien die sagte kant in my, die kant wat ek al so goed geleer het om weg te steek dat ek dit soms self nie kan vind nie.”

In die tyd toe Cindy enkellopend was ná Jacques, het sy haar lewe heroorweeg. “Ek het besluit ek wil ’n nicer mens wees. Ek’s eintlik baie nicer as hoe ek in ’n stadium voorgekom het. Ek het al dinge vir mense gesê wat lelik was en wat hulle seergemaak het. Ek dink ek kom soms afsydig voor. Dalk het dit te doen met hoe ek grootgeword het.”

Haar grootwordjare was merendeels gelukkig. Sy het aan niks ’n tekort gehad nie, maar daar was nie geld vir luukses nie. Haar ma, Marietjie, was vir die grootste deel van haar lewe ’n klerewinkelbestuurder en haar pa, Chris, ’n logistieke bestuurder by verskillende vervoermaatskappye. Hy is gereeld verplaas en hulle het baie rondgetrek. Cindy kan nie onthou in hoeveel skole sy was nie, sy dink dit was tien – in sommige so kort soos ’n maand.

“Ek het nooit behoorlik kans gekry om maats te maak nie. Ek was ’n teruggetrokke kind, maar ek het geleer om selfvertroue te wys. Dit maak jou hard soos klip as jy elke keer as die nuwe kind by die klas instap. Almal het vir my gekyk en ek moes dit hanteer.” Dan ís dit lekker om te hoor jy’s mooi en oulik. Sy het gehou van die erkenning wat sy deur skoonheidskompetisies gekry het.

Cindy was 9 toe sy as Spur se Mej. Valentyn aangewys is. Sy’t ’n ete vir haar gesin, ’n rok en ’n modelkursus gewen. Dit was die begin van ’n rits skoonheidstitels. Op 15 het sy aan ’n groot kompetisie op Rustenburg deelgeneem. “Al die deelnemers het fabulous rokke gedra. My ouers het nie geld vir ’n rok gehad nie en toe kry my ma ’n persoonlike lening van R5 000 by die bank om ’n rok te laat maak. Die prysgeld was R5 000 en ek het haar belowe ek sal die lening terugbetaal as ek sou wen. Toe wen ek wraggies.”

Van kleins af was Cindy gedrewe en wou sy suksesvol wees. “Ek het altyd gesê as ek groot is, wil ek vir my ma ’n nuwe kar koop. Ek wil mooi goed hê, ’n groot huis en baie juwele. Ek wou al hierdie dinge vir myself gekoop het. En ek het. Nou wil ek net gelukkig en tevrede wees. Ek wil ’n gesonde, gebalanseerde lewe lei. Ek’s nie meer lus om streng diëte te volg om maer te wees vir fotosessies nie. Die eerste keer in my lewe voel ek ek hoef myself nie te bewys nie.

“Ek het ’n ruk lank gedink ek wil meer erkenning hê vir die feit dat ek soveel meer met my lewe gedoen het as om bloot Mej. SA te wees. Ek’s ’n aanbieder op Pasella, ek tree as seremoniemeester op, hou motiveringspraatjies en ek het my eie sakeondernemings. Daar was ’n tyd toe ek wou bewys daar steek meer in my as bloot ’n beauty queen, maar dis nie meer die geval nie.”

Cindy wil soveel moontlik doen terwyl sy jonk is, want as sy eers die dag ma is, wil sy baie tyd saam met haar kinders deurbring. “Ek wil nie ’n ma wees wat elke aand ’n launch bywoon nie.” Sy en Clive kan dalk ’n kind aanneem, laat val sy. En sy sal ook kinders van haar eie wil hê. Sy sal nie wil hê haar dogter moet eendag aan skoonheidskompetisies deelneem nie, want in SA is daar te veel van ’n stigma om skoonheidskoninginne, asof hulle net mooi gesiggies is.

Cindy meen sy bewys die teendeel. Sy het onlangs haar eie verslanking-en-skoonheidsalon, The Rapid Slimming Spa, in Morningside, Johannesburg, oopgemaak, waar tegnologie van Spanje ingespan word om vroue te help om gewig te verloor en te ontgif. Clive is haar finansiële vennoot.

Sy en Clive beplan ook om ’n Europese grimeerreeks, Essence, in Februarie SA toe te bring. En sy sal graag eendag haar eie modelskole wil hê. Haar boek kom ook: Everything you need to know about the model and pageant industry. Dis ’n handleiding vir aspirant-modelle en gee ook raad oor die moets en moenies as jy aan die Mej. SA-kompetisie wil deelneem. Sy wil dit klaar skryf wanneer sy in Januarie en Februarie ’n blaaskans op Clive se plaas neem.

Sy doen al hierdie dinge sodat sy eendag net ’n sakevrou kan wees en uit die kollig kan verdwyn, sê sy. “Oor ’n paar jaar moet mense vra wat het van Cindy Nell geword.”

* Besoek Cindy se webblad by www.cindynell.co.za.