Ons praat met

Mej. SA, Melinda Bam, oor haar lyf

Hoewel Melinda Bam, huidige Mej. SA, toegee dat sy té maer was toe sy gekroon is (sy het nét voor die kroning 3 kg verloor, weens stres), sê sy nou selfversekerd: “My ‘verpakking’ vir volgende maand se Mej. Heelal-wedstryd in Las Vegas is net reg. Ek is nie net ’n ‘klerehanger’ nie, maar vroulik en ek is fiks. Ek voel goed oor my lyf. ”

Melinda is 1,71 m lank en weeg 51 kg. Sy het nog nooit ’n gewigsprobleem gehad nie. “Oefening is deel van my lewe, van skooldae af. Ek doen dit nie om maer te bly nie, maar omdat ek glo in goeie gesondheid. My hele vriendekring leef so.”

Melinda glo jou gedrag word bepaal deur hoe jy oor jou lyf voel. “Is jy lief vir jouself? Ek is, want ek glo my selfbeeld hang van myself af, niemand het die mag om dít te bepaal nie.”

Sy dink té veel klem word geplaas op die uiterlike. “Onthou, as jy geestelik omgekrap is, gaan jou lyf ook ly.”

Melinda is nie bang om vet te word nie, eerder dat verkeerde leefstylbesluite in haar jeug haar dalk op haar oudag mag kelder. “Dis hoekom ek probeer gesond leef. My ouma, Maria van Heerden, is onlangs op 72 oorlede ná sewe jaar se kankerlyding. Dít het my laat besef 
’n mens moet nie sommer jou lyf as vanselfsprekend aanvaar nie …”

* In die November 2012-uitgawe van SARIE deel oud-Mej.SA, Claudia Henkel, háár stryd met haar gewig. Moet dit nie misloop nie!

  • Mischa

    As Belinda 1.71m lank en 51kg weeg is haar BMI= 18, wat beteken sy’s nog steeds onder gewig, hoekom so ophef maak oor haar "gesonde" lyf??

  • Mia Nagtegaal

    Ek stem! Dit is bitter maer. As iemand wat met my gewig sukkel is hierdie nie opbouende leesstof nie. Dit laat my inteendeel nog slegter oor myself voel.

  • Mari Krige

    hoe kan julle dit nie `n gewigs probleem noem nie?51kg is denitief heeltemal te min, en ek sal dit verseker as `n probleem beskou.

  • Linda le Roux

    Modelle moet op ‘n sekere manier lyk om geld te maak – die probleem is dat hulle lywe en voorkoms dan as die ideaal gesien word. Die meeste van hulle ly aan dieet siektes, gebruik gevaarlik middels of eet net sop of ‘n appel ‘n dag om so te lyk. Dit is ongesond en belaglik!! Ek dink daar is ‘n klomp mense wat baie geld maak uit produkte en behandelings om die "perfekte lyf" te kry en hulle gebruik die media om die behoefte te skep. Ek weier om deel te word van hierdie "rat race" – hoe ek lyk is maar 5% van my totale waarde hoekom sal ek dan minderwaardig voel daaroor. Ek eet gesond, oefen en versorg myself en dit is genoeg!!!

  • Magda

    Ek stem so saam, vir haar lengte is dit hopeloos te min!! En dan se sy dat sy vroulik gebou is. Vroulik = kurwes, of hoe?