Ons praat met

Ons Mej. Wêreld Rolene Strauss

Was sy ’n goeie Mej. Wêreld? As dit gaan oor haar bes doen, oor real wees en van haarself gee, dan wás sy, sê Rolene Strauss. Nou, uit die kollig, kom haar studies eerste sodat sy kan begin werk vir vroue wat omgee nodig het.

Om iemand beeldskoon te ontmoet kan enige vrou minderwaardig laat voel – veral as jy die soort is wat sommer gou inkopies gaan doen met deurmekaar hare en pantoffels wat (hopelik) vir modieuse stewels aangesien kan word. As jy dus die dag SA se eie Mej. Wêreld 2014, Rolene Strauss, gaan ontmoet, trek jy maar jou regte leerstewels aan en vee ’n bietjie ekstra oogskadu oor jou ooglede.

Stap jy om halfagt die Sondagoggend by die SARIEvoorbladsessie in ’n Johannesburgse dekorwinkel in, lyk sy pragtig – nog voordat haar hare en grimering gedoen is. Sy’s byna 1,8 m lank, sy’t ’n blokkiesmaag, sy’s sonbruin in die middel van die winter en haar vel is absoluut vlekkeloos. Maar dan kyk jy na haar voete en jy sien sý het pantoffels aan – en nié die soort wat dalk nog soos stewels kan lyk nie!

Sy glimlag breed en steek haar hand uit. “Roe-lien,” spreek sy haar naam uit – nie die Engelse Row-leen nie. En hoe meer sy gesels, hoe meer wil jy nog koffie gaan haal en langer praat, want sy is een van daardie min mense wat dit regkry om jou belangrik te laat voel in haar geselskap, selfs wanneer al die vrae net oor haar gaan.

Self kan sy nie insien hoekom sy bo die mooiste meisies uit 122 lande gekies is as die wenner van Mej. Wêreld nie.

“Wat ek van die kompetisie waardeer, is dat dit nie nét oor skoonheid gaan nie. Ja, hulle kies iemand wat mooi is, want dit is nou maar so dat mense in die algemeen makliker aandag gee aan en luister na ’n mooi mens, en dít kry publisiteit vir die liefdadigheidswerk wat die organisasie doen. Maar hulle is gesteld daarop om ook iemand te soek wat werklik van waarde kan wees vir hul projekte.”

Dié dat Megan Young, Mej. Wêreld 2013, byvoorbeeld aangebly het by die organisasie nadat sy haar kroon aan Rolene oorhandig het. Megan het haar liefdadigheidsprojekte toe voortgesit – veral dié in die Filippyne, haar tuisland, wat in 2013 deur ’n orkaan getref is. “Dit moes vir haar baie moeilik gewees het [om haar land in puin te sien)], maar dit het seker ook haar passie aangevuur. Die organisasie is baie tegemoetkomend – jy doen werk vir hul bestaande projekte, maar hulle vra jou ook wat jou belangstellings is, dié dat ek hoofsaaklik by gesondheidsprojekte betrokke was. “Ek wonder soms hoekom ek gekies was en ek dink regtig dis omdat ek op die regte plek, op die regte tyd was. Jou land speel ’n rol, want waar jy ook al gaan, verteenwoordig jy jou mense en ons word beskou as ’n nasie wat die beste van enige situasie kan maak. Madiba se mense.”

FOTO Marijke Willems

FOTO Marijke Willems

Haar passie om terug te gee het ’n rol gespeel, sê sy. “As kind het ek saam met my pa, Hennie, ’n algemene praktisyn, werk toe gegaan. Hy het só hard gewerk en soveel mense gehelp en ek wou dit ook doen. Ek kan nie eens onthou wanneer ek besluit het ek wil ook ’n dokter word nie, want dit was net nog altyd deel van my lewe. Ek is my pa se dogter, ons is so dieselfde. Mense het my ‘Klein dr. Strauss’ genoem.” Maar Rolene se voete is ook plat op die aarde – die Vrystaat, waar sy gebore is. Daai plattelandse nederigheid het beslis ’n invloed gehad.

“Teruggee is nie ’n onbaatsugtige ding nie, al wil baie mense dit voorgee. Jy doen dit omdat jy self iets daaruit kry, omdat dit jou laat goed voel om ander te help. Maar dis seker nie die slegste vorm van selfsug nie, want iemand anders baat daarby – en hopelik help húlle dan weer iemand daarna.”

“Die dryfveer agter my liefdadigheidswerk is ook my eie skuldgevoelens. Ja, ek het my eie probleme, maar ek het in my jaar as Mej. Wêreld ervaar hoe geseënd ek is. Ek het ’n fantastiese familie, ek het al soveel geleenthede gehad, ek was Mej. Suid-Afrika en Mej. Wêreld, en nou is ek ook met die man van my drome [die sakeman D’Niel Strauss] getroud.

Dan wonder ek hoekom dit met my gebeur, terwyl ander mense sukkel.” Haar hart wou breek, vertel sy, toe sy ’n kinderhuis in Mexiko besoek het as deel van ’n Mej. Wêreld projek. “Een dogtertjie het my kroon gesien en met sulke groot oë gevra of ek ’n regte prinses is. Toe wil sy by die tolk weet of ek haar asseblief kan wegvat en saamneem na my kasteel toe. Dit was hartseer en mooi terselfdertyd, want ’n kind, ten spyte van sy of haar omstandighede, het net soveel hoop vir die toekoms, soveel drome.”

Dis eintlik ’n perfekte metafoor vir haar jaar as Mej. Wêreld, want Rolene sê daar is soveel soet, maar ook soveel seer. “Dis vir my belangrik om real te wees en nie net te maak asof alles goed en lekker was nie. Ja, jy kry die geleentheid om soveel lande te sien – ek was in 30! – en jy word op die hande gedra en bederf met mooi klere en glansgeleenthede. Net verlede week was ek in Monaco om die F1 Grand Prix as prinses Charlene se gas by te woon!

FOTO Marijke Willems

FOTO Marijke Willems

“Maar jy gee heeltyd van jouself, só dat jy naderhand net leeg is. Jy moet ’n front voorhou en altyd perfek optree en mooi lyk, selfs wanneer jy die dag moeg is of nie lekker voel nie. Jy’s alleen en mis jou mense terwyl jy reis, en dan pak jy op hulle af as jy hulle wél sien. En jy beleef moeilike dinge, mense in Indië wat in rye staan en wag vir mediese sorg. Daar is soveel nood in die wêreld, maar jy kan ook nie almal help nie en dís frustrerend.”

Dink sy sy was ’n goeie Mej. Wêreld? “Dit kan ek nie self sê nie! Ek is bly ek kon fokus op dít wat vir my belangrik is, want die organisasie het baie moeite gedoen om my by gesondheidsprojekte te betrek. Daar is nie ’n monetêre manier om dit te meet nie, want met party projekte samel jy geld in, terwyl jy ander op dreef kry en jou opvolger dalk daar meer sal doen.

“Maar ek is trots daarop dat ek van my régte self aan almal gegee het wat oor my pad gekom het. Al hoe jy kan meet, is deur jouself af te vra of jy jou bes gedoen het. Ek glo ek het.” Sy voel ná 2015 ouer en wyser as haar 24 jaar. Sy moes ’n paar moeilike lesse leer, besef dat nie alle probleme opgelos kan word en nie alle vrae antwoorde het nie. Rolene dink ’n oomblik na, kyk stil na die tafel voor haar.

“Dit maak jou oë oop om te sien hoe mense elders leef, hoe anders en tog eenders ons is. Dat ons almal dieselfde nood het en eintlik net liefde en aanvaarding benodig – die dinge wat jou niks kos om te gee nie. Ja, al die geld wat jy as skoonheidskoningin insamel, is baie nodig, want kos en sekuriteit is belangrike behoeftes. Maar soms kan jy ’n groot verskil in iemand se lewe maak deur net na hulle te luister.”

Haar gemaksone is in dié jaar tot sy uiterste beproef. “In die begin was dit vir my vreesaanjaend. Daar is soveel wat gedoen moet word, jy moet aanhoudend – soms onvoorbereid – praatjies lewer en jy moet leer om met mense van enige agtergrond te kommunikeer. Maar dit het gou normaal geraak, al moes ek soms net my oë toeknyp, inspring en doen,” lag sy skamerig. “Jou gemaksone word nie vanself groter nie, jy moet hom rék.”

Tog het sy geweet waarvoor sy haar inlaat – sy én D’Niel. Reeds die eerste keer toe sy vir Mej. SA ingeskryf het in 2011 en onder die top-vyf geëindig het, het hulle saam daarvoor voorberei. “Ons het lank gesels oor hoekom ek dit wil doen. Ek het op veertien modelwerk begin doen en was moeg vir die oppervlakkigheid daarvan. Dit het vir my nodig gevoel om ’n verskil te begin maak en Mej. SA was die perfekte platform. Ons het ook gesels oor wat dit vir ons as paartjie sal beteken. Dat ek besig sal wees as ek wen en dat ons mekaar min sal sien. Hy het my so wonderlik ondersteun – ons het tóé al saam besluit die doelwit is dat ek Mej. Wêreld ook sal wen, al het hy geweet ek sal baie moet reis.”

Dinge is beslis nie stiller nadat sy haar kroon oorhandig het nie. Rolene is ’n mediese student in haar vierde jaar aan die Universiteit van die Vrystaat, sy doen gereeld motiveringspraatjies. Sy, D’Niel en hul gesinne het pas die Strauss Stigting begin, wat beurse aan jongmense gee om medies te studeer. “Gesondheid bly my hooffokus, ek het ook as Mej. Wereld elke geleentheid om oor gesondheid te praat aangegryp. Toe ek nou weer begin studeer, was daar soveel studente in my jaargroep wat so hard werk, maar nie die geld het om verder te studeer nie. Ons het pas ons eerste mediese beurs toegeken aan ’n student wat sy studies as paramedikus wil klaarmaak, maar nie meer die geld het nie. Dis wonderlik om te weet ons hulp stop nie by die studente nie, want op hul beurt gaan hulle soveel mense kan help en versorg.”

FOTO Marijke Willems

FOTO Marijke Willems

Veral vrouegesondheid is vir haar belangrik en sy beplan om ’n vrouegesondheidsentrum te begin ná haar studies. “Vroue is die steunpilaar van ’n gesin. Dikwels gebeur dit dat vroue hulself leegtap deur altyd van hulself te gee – by die werk, as ma, as vrou, as ouma. En as jy nie tyd het om ook na jouself om te sien nie, ly jou gesondheid daaronder. Natuurlik kan ’n vrou enigiets wees en doen wat sy wil, maar niemand kan perfek wees nie. As jy ’n florerende loopbaan wil hê, gaan jou gesin tweede kom, en andersom. Jy moet besluit wat jou prioriteite is en jouself vergewe as jy nie altyd alles vir almal kan wees nie.”

Sy self het besluit haar studies is nou haar prioriteit. Maar sy kan nie wág nie, sê sy uitasem, om einde 2017, wanneer sy klaar studeer het, by D’Niel op Stellenbosch in te trek. “Ons is in Februarie getroud en kon nog nie saam nesskop nie! En ons wil dan ook met ’n gesin begin – ek is baie broeis.” Haar kinders sal in Suid-Afrika grootword, want Rolene het ’n onblusbare patriotisme. “Ek sal Suid-Afrika oor en oor en óór kies. Die gras is nie groener anderkant die draad nie, soos baie mense dink. Élke land het sy probleme.”

Sy wens sy kon mense oorreed om meer te reis sodat hulle die “groter prentjie” kan sien voor hulle sommer net hier wil padgee. “As jy net een land ken, word jy so vasgevang in wat om jou aangaan. Ons sukkel met misdaad en korrupsie, ja, maar baie ander lande doen ook. En ons leef hier soos konings, want in Eerstewêreldlande kry jy eenvoudig nie die ruimte waaraan ons hier gewoond is nie, en dis dúúr. En die natuurskoon … daar’s nêrens nog ’n plek soos hierdie nie.

“Jy mis ook Afrikaans as jy oorsee is. Ek het ter voorbereiding van Mej. SA vir twee jaar nét Engels met my een vriendin in Bloemfontein gepraat om te oefen. Mense het seker gedink ons is mal! Nou nog praat ons per ongeluk met mekaar Engels. Maar ek sal nooit my ware self, my emosies, régtig in ’n ander taal kan oordra nie. Daar’s niks soos jou huis, jou taal, jou mense nie.”

Wys ook hoe lyk jóú Afrikaans op Afrikaans.com en jy kan tot R10 000 wen.

Dogtertjie 1667 × 833