FOTO: Phyllis Green

FOTO: Phyllis Green

Ons praat met

Melanie du Bois gesels oor die pad ná genesing na ’n geliefde selfdood pleeg

Sy sien dit nog voor haar, asof dit gister was: Haar oudste suster, uitgestrek op die agterstoep van haar huis in Johannesburg, die paramedici wat spook om haar by te bring, gehurk langs haar liggaam.

Die aktrise Melanie du Bois se stem klim ’n oktaaf, haar mondhoeke trek ondertoe. “Ek het alles verloor. Ek weet nie. Dit was die einde van iets in my. Ek weet nog nie wat nie. Elke keer wanneer ek my oë toemaak . . .” Sy skud haar kop, sy kan nie haar sin klaarmaak nie.

Want vroeër vanjaar het die ondenkbare gebeur. Haar sus, Lucia Wilson, het haarself in April in haar jongste seun, Michael, se motor vergas, drie maande nadat Michael homself aan sy T-hemp in ’n polisieaanhoudingsel opgehang het.

“Nou is daar soveel issues waardeur ek werk. Ek is kwaad vir myself omdat ek nie meer gedoen het nie, en kwaad vir ander mense omdat hulle nie het nie. Dis ’n aanhoudende stryd binne my. Daar is soveel skuldgevoelens.

Dalk moes ek daardie dag na haar toe gegaan het, want ek was af by die werk. Dalk moes ek meer met haar gepraat

Melanie se A-tipe-persoonlikheid het die rouproses bemoeilik. “Ek was die een wat beheer moes neem ná Mikey se dood. Ek moes die familie bel en alles reël. Almal het vir my gesê ek moet sterk wees, en ek dink ek was. Ek was sterk vir my sussie, want jis, haar pyn – ek kon dit aanvoel.

“Maar nadat sy weg is, en mense bly sê vir my ek moet sterk wees, het ek net gedink: hoe? Dis my oudste suster. Sy was meer as my suster, sy was my pêl, sy was my metgesel na gesellighede, ek kon haar enige tyd bel . . .”

Al het haar lewe onherroeplik verander, wil Melanie juis om haar dogtertjie Roxy
(8) se onthalwe beter word.

“Ek wil nie hê sy moet dink selfdood is ’n opsie nie. Ek gaan nie jok nie, daar was tye dat ek gewonder het hoekom ek hier is. Maar ek het die lewe gekies.”

Ek wil hê mense moet weet daar is hulp, daar is ander opsies as selfdood. Gaan dokter toe, sien ’n sielkundige, kry medikasie.”

Maar selfs met haar medikasie het dit Melanie drie maande geneem om  weer te voel sy kan aangaan. “As jy net verby die eerste drie maande kan kom. Voor dit was ek in ’n toestand. Ek was altyd mal oor oefen, maar ek wou nie eens meer gim toe gaan nie. Dit was selfs moeilik om net op te staan in die oggend, en soms is dit steeds. Ek wou net onder die komberse wegkruip.”

Sy weet sy het nog ’n lang pad voor, maar sy het weer hoop vir die toekoms.

Ná so iets is jou lewe onherroeplik anders en dinge gaan nie weer soos voorheen wees nie. Maar jy word sterker. Ek voel dit, elke dag, en die hoop dat dit tog sal beter gaan, hou jou aan die gang.

Ek weet nie waar ek sou wees as ek nie kon glo dat God my dra nie.

Jy moet steun op iéts – jou geloof, jou naastes, ’n sielkundige. Moenie skaam wees of sleg voel om hulp te vra nie. Ek wil ook nie altyd die ‘af ’ een in ’n geselskap wees nie, maar ek het agtergekom mense is bereid om jou meer by te staan en na jou te luister as wat jy dink.

“My hoop, ná alles, is dat iemand wat ook sukkel en hierdie lees, sal verstaan: As ek deur dit kan kom, kan jy ook. Hou vas aan jou geloof, wees gaaf met jouself, kry hulp, en jy sal sterker word. Soms gee jy ’n tree vorentoe in die proses, en soms een terug, maar uiteindelik word jy meer toegerus om dit te hanteer.”

Hierdie uittreksel kom uit die Oktober-uitgawe van SARIE. Dit is nie meer beskikbaar nie, maar laai dit HIER af.

Lees ook