FOTO: Phyllis Green

Ons praat met

Melinda Bam praat trouplanne én ’n nuwe droom

Dis ’n groot jaar vir voormalige Mej. SA, Melinda Bam. Nie net is sy nuut op Pasella se aanbiedingspan nie, sy moet ook haar troue beplan!

Melinda en die voormalige Mnr. SA Adriaan Bergh het verlede jaar verloof geraak. Hoewel daar trou-koördineerders is wat haar help, verkies sy om die meeste van die troureëlings self te hanteer.

Melinda en haar verloofde se romantiese vakansiefoto’s

“Ek is baie meer hands on hiermee as wat mense dink. Ek wil graag die vreugde ervaar om my troue self te beplan. Ek wil nie hê iemand moet ons spesiale dag hijack nie!”

Melinda se verloofring. Adriaan het dit self help ontwerp. FOTO: Instagram

Melinda se verloofring. Adriaan het dit self help ontwerp. FOTO: Instagram

Sy en Adriaan beplan ook nie om hul troue by ’n eksotiese bestemming te hou nie, aangesien dit dan vir hul vriende en familie moeiliker sal wees om die geleentheid by te woon.

“Ons wil graag ons groot dag met ons vriende en familie deel,” sê sy oor die troue wat na verwagting op 8 November gaan plaasvind. Vir Melinda, wat ook ’n besigheidsvrou is, is die lewe besig – buiten die troureëlings is sy baie betrokke by vanjaar se Mej. SA-kompetisie én sy moet insetsels vir Pasella opneem.

Melinda saam met voormalige Mej. SA, Suzette van der Merwe. Hulle speel albei 'n groot rol in vanjaar se Mej. SA-kompetisie. FOTO: Twitter

Melinda saam met voormalige Mej. SA, Suzette van der Merwe. Hulle speel albei ‘n groot rol in vanjaar se Mej. SA-kompetisie. FOTO: Twitter

Haar werk by Pasella is ’n nuwe droom en uitdaging wat sy baie geniet.

“Toe ek ’n jong meisie was, het ek nooit gedink ek sal op ’n verhoog voor so baie mense óf op TV kan praat nie,” sê die voormalige Mej. SA, Melinda Bam.

Melinda, wat ’n nuwe aanbieder by SABC2 se TV-program Pasella is, vertel dat sy eers in haar termyn as Mej. SA besef het sy hou daarvan om televisiewerk te doen.

“Ek het besef ek is goed daarmee om ’n TV-onderhoud ontspanne te maak en dis toe dat dit vir my ’n nuwe droom geword het,” vertel sy.

Melinda: prinses van die rooi tapyt by As jy sing se première

Hoewel die nuwe seisoen van Pasella gisteraand begin draai het, word Melinda se eerste insetsel eers volgende week uitgesaai.

Melinda Bam saam met Ivan Botha en Donnalee Roberts op die stel van Pasella. FOTO: Twitter

Melinda Bam saam met Ivan Botha en Donnalee Roberts op die stel van Pasella. FOTO: Twitter

“Ek dink nie my pêlle en familie is gewoond daaraan dat ek die een is wat die vrae vra nie. Gewoonlik blabber ek mos maar, so ek gaan hulle nooi om dié episode saam met my te kyk,” gesels die beeldskone ster. In dié eerste insetsel kuier sy saam met die nuwe fliek Pad na jou hart se Ivan Botha en Donnalee Roberts.

FOTO’S: Die Kaapstadse première van Pad na jou hart

“Ons het soveel pret op die stel gehad. Ek en Donnalee het die hele dag vir mekaar gelag – ons het selfs ’n kettie-kompetisie gehou, maar toe skiet die klippie in Donnalee se gesig,” deel sy.

“Ek sien uit na die paadjie wat ek saam met Pasella gaan stap en ek voel bevoorreg om deel te word van die program,” sê sy. Sover is dit vir Melinda, wat reeds drie ander insetsels geskiet het, lekker om onderhoude te voer.

“Ek geniet dit om myself in die gehoor se skoene te plaas en te dink wat die publiek oor byvoorbeeld Ivan of Donnalee wil weet,” sê Melinda. Dié insetsel was sover een van haar groot hoogtepunte.

“Die grootste hoogtepunt is eintlik op die oomblik nog vir my die vooruitsig van als wat vir my voorlê by Pasella.”

Melinda by Ricus Nel en sy vrou, Liza Brönner. FOTO: Twitter

Melinda by Ricus Nel en sy vrou, Liza Brönner. FOTO: Twitter

Sy skiet van einde Februarie af aan nog insetsels. Saam met Pasella is sy ook besig met reëlings vir die nuwe Mej. SA-kompetisie, sy bestuur ’n besigheid saam met ’n vriendin én beplan haar troue.

Maak seker jy kyk volgende Woensdag Pasella op SABC2 om te sien hoe Melinda haar skoene as TV-aanbieder volstaan.