Ons praat met

Met ’n Reissak deur Afrika

Die gele, kakies en bruine van die Afrika-landskap lê soos ’n skildery rondom Bono, hoofsanger van die Ierse popgroep U2, en sy vrou, Ali Hewson. Hulle het in ’n ligte vliegtuig geland, gereed vir die avonture van dié vasteland vol moontlikhede.

Albei dra nonchalant ’n ikoniese reissak oor die skouer. (En Bono het natuurlik ook sy kitaarsak byderhand!)

Dié treffende foto is onlangs by die vyfster-wildreservaat Tswalu Kalahari in die Noord-Kaap deur die wêreldbekende fotograaf Annie Leibovitz vasgevang vir die Franse modehuis Louis Vuitton se Core Values-advertensieveldtog. Hierdie foto en nog ’n portretfoto van Ali en Bono verskyn nou as advertensies in glanstydskrifte wêreldwyd.

“Bono en Ali se visie vir Afrika is dieselfde as dié van Louis Vuitton, en deur met ons kragte saam te snoer is hul platform soveel groter,“ sê Giselle Hön, skakelbestuurder van LV in Suid-Afrika.

Mense wat vir dié veldtog as modelle gebruik word, is altyd ikone op hul gebied, reis graag en is betrokke by liefdadigheid. Die Franse aktrise Catherine Deneuve, die laaste staatshoof van die Sowjetunie, Michail Gorbatsjof, en die eertydse tennissterre Andre Agassi en Steffi Graf het al vir Core Values-advertensies geposeer.

In 2010 het dié modehuis hul leergoedere-katalogus by die private wildreservaat Madikwe Hills in die Noordwes-provinsie geskiet met onder andere Dree Hemingway, kleindogter van die Amerikaanse skrywer Ernest, as model.

“Dié keer is daar op Tswalu besluit omdat dit die atmosfeer van Afrika so mooi vasvang. En Ali en Bono wou albei graag die tonele in Afrika verfilm,“ vertel Giselle.

Benewens Louis Vuitton se twee winkels in Johannesburg en Kaapstad open daar einde 2011 ’n derde een in ’n nuwe luukse winkelsentrum in Pretoria.

“Ons – en Bono en Ali – besef daar is in Afrika hope kreatiwiteit waarvan die wêreld nie bewus is nie,“ sê Giselle. “Ons wou dit ook vasvang in hierdie nuwe advertensie.”

Ali en Bono is gefotografeer in elegante klere van organiese stowwe uit hul modereeks Edun. Dit pas volmaak by Ali se reissak in ’n nuwe bruin Monogram Révélation-leer wat deur die kleure van Afrika geïnspireer is. Die reissak is versier met ’n blommotief-amulet wat in Kenia met die hand gemaak word deur MADE, ’n organisasie wat bykomstighede vervaardig en só werkgeleenthede in agtergeblewe gemeenskappe skep. “Al die geld wat gemaak word, word weer in die gemeenskap en omgewing teruggeploeg. Só word die gemeenskappe ook bemagtig,“ verduidelik Giselle.

Elke amulet bestaan uit dertien hangertjies wat uit been gekerf is en met handgeverfde blommotiewe versier is. Dit word beskou as savoir-faire-kuns. (Dié Franse term dui op die vermoë om in enige situasie korrek op te tree.) “Die vakmanne het dus die kennis om die kunswerk eties korrek te skep,” sê Giselle.

Op die amulet en voering van die sak is ’n plaatjie met dié woorde daarop gegraveer: “Every journey began in Africa.“

Bono en Ali se eie Afrika-reis het in 1985 begin toe hulle in Ethiopië humanitêre hulp gaan verleen het. In 2005 het hulle die modemaatskappy Edun (dit spel nude agteruit) gestig met die doel om regverdige handel in Afrika aan te moedig en om armoede te verlig deur mense by te staan om handel te dryf. Hulle wou ook die wêreld bewus maak van geleenthede op ons kontinent.

Edun, uitgespreek “Eden”, simboliseer ’n terugkeer na die natuur. In 2007 is ’n onderafdeling, Edun Live, gestig om onbedrukte T-hemde te vervaardig volgens die slagspreuk “grow to sew”. Dit beteken die katoen vir die hemde word op die vasteland gekweek en die mense van Afrika maak dan self die T-hemde.

Edun werk gereeld saam met MADE en hul liefdadigheidsafdeling Made Africa, wat programme ondersteun wat onderwys- en opleidingsgeleenthede in Kibera, die grootste plakkerskamp in Kenia, bied.

In 2009 het die moedermaatskappy Louis Vuitton Moët Hennessy (LVMH) ’n 49%-aandeel in Edun verkry met die doel om by Bono en Ali se “reis“ in Afrika aan te sluit.

Só toegewyd is dié modehuis aan sy Afrika-inisiatiewe dat hy ’n persentasie van die opbrengs van die Monogram Révélation-reissak skenk aan die Conservation Cotton Initiative in Noord-Uganda (CCIU). Dié program is deur Edun en die Wildlife Conservation Society begin om plaaslike katoenboere te help deur meer landbougewasse te plant, onderwys en gesondheidsorg aan te moedig en ook ’n regverdige mark vir hul katoen te skep. Bono en Ali skenk ook die geld wat hulle vir die Core Values-advertensie betaal word aan die CCIU.

Louis Vuitton bevorder Afrika ook deur die kunste. In Oktober 2010 is ons vasteland se kreatiwiteit besing in ’n uitstalling van Afrika-beeldhouwerke en -kuns, Africa Rising, oorkant die maatskappy se hoofkantoor in Parys.

“Om die kontinent se kunste en kunstenaars ten toon te stel is positief en opbeurend,“ sê Giselle. Veral vir ons wat nog lank ons lewenspad in Afrika wil stap.