Ons praat met

Michael Mol gesels met sarie.com oor sy moeilikste uitdaging dié jaar

Die rit vind elke jaar aan die einde van Maart, begin April plaas en lok professionele en amateur-fietsryers vanoor die hele land. Vanjaar (2010) se roete het begin by Diemersfontein tot by Ceres, van Ceres tot by Worcester, Worcester na Oak Valley, vandaar na die eindstreep by Lourensford. ‘n Volle agt dae in die saal van trap en nog trap en uithou en aanhou. Phyllis Green het per e-pos met Michael oor sy ondervinding gesels.

Hoekom het jy deelgeneem aan die Cape Epic?
Om die vraag te kon antwoord: ”Het ek wat nodig is om dit te doen? Die Cape Epic was fisiek die uitmergelendste en moeilikste uitdaging wat ek al ooit aangepak het. Daar was al uitdagender en gevaarliker dinge, maar niks het soveel van my gevra soos hierdie fietsrit nie . . . Ek moes diep delf, op my spanmaat vertrou, op my fiets-werktuigkundige staatmaak en my op my Godgegewe ableness verlaat.

Is jy ‘n fietsryer en hoe het jy voorberei?
Ek was ‘n informele ryer tot Oktober 2009 toe ek die uitnodiging om die Epic te ry aanvaar het. Ek het nie besef hoeveel voorbereiding dit sou verg nie en dit was nogal ‘n epic op sigself – om tyd vir oefen in te ruim tussen werk en familieverpligtinge. Gegewe my agtergrond van kort en vinnig oefening, het ek in Oktober met ‘n stadige langafstand-program begin, nadat ek ‘n rampspoedige laktose-toets gefaal het. Die oefenprogram het my lewe op sommige maniere oorheers, maar ek het die onderbrekings beheer. Ek het my gesin belowe ek sou oefen wanneer hulle slaap – dit het tot gevolg gehad dat meeste van my oefensessies in die vroeë oggendure plaasgevind het. (Nogal naïef van my, as ek nou terugkyk!) Ek het in Desember baie meer kilometers ingesit as gewoonlik, 3 – 4 ure per dag. Nie soveel soos die professionele ryers nie, maar meer as wat ek al gedoen het.

Die roete is uitmergelend. Watter skof was vir jou die moeilikste?
Skof 1 was die groot een – omdat dit vir my die onbekende was en dit het my in die nagte wakker gehou! Ek het nie ‘n benul gehad hoe ek sou vaar om die 120 km af te lê nie en of ek ooit die afstand sou maak nie. Die meeste spanne wat uitval, val in die eerste twee dae uit en dit het soos ‘n swaard oor my kop gehang. En natuurlik was daar ook die 8 km van treinspore waarmee die eerste skof geëindig het. Ek dink my tande kletter steeds!

Skof 6 was ook ‘n moeilike een, want dit was onverwags. Ons het ‘n “afdag” gehad die vorige dag en ek het nogal verfris gevoel en natuurlik het die bravade ook al ingeskop, want ons was al goed oor die halfpadmerk. Ek was nie heeltemal gereed vir dié skof se uitdaging nie. Moet sê, ek was verlig toe ons uiteindelik die stadion ingery het en die laaste pylvlak aangedurf het.

Op dag 7 het ek ‘n nare val oorleef en moes nog 75 km aandurf met ‘n seer skouer en my gekrenkte selfvertroue.

Hoe het jy deurgedruk ná die val?
As ek terugkyk, moet ek sê ek dink my pyndrempel was teen dag 7 so hoog en dít, gekombineer met die verhoogde adrenalienvlakke in my lyf, het gemaak dat ek die pyn meesal kon ignoreer – behalwe op elke afdraande waar elke enkele klip en rots waaroor ek moes kom, gevoel het soos messteke!

Hoe belangrik is jou ondersteuningspan?
In hierdie fietsrit gaan dit oor spanwerk, van die spanbestuurder wat moes toesien dat ons is waar ons moet wees, die fiets-werktuigkundige wat moes verseker ek het elke oggend ‘n “splinternuwe” fiets, tot die ondersteuners en vrywilligers wat elke dag langs die roete was, en my spanmaat wat in die proses ‘n goeie vriend geword het.

Sal jy dit weer doen?
Beslis – net nie gou nie!

Met watter ander opwindende projekte hou jy jou mee besig?
Daar is iets in die pyplyn, maar alles moet nog gefinaliseer word en ek kan ongelukkig nie uitbrei nie. Op die oomblik, dink ek, moet ek dit rustig vat vir ‘n wyle en miskien eendag vir ‘n wandeling gaan teen Everest uit!