sr1210hjg_1_
Ons praat met

Michelle Botes se dogter in internasionale fliek

Die aktrise Cara Roberts van Johannesburg, dogter van die akteurs Michelle Botes en Ian Roberts, het pas klaar verfilm aan die internasionale engelse kunsrolprent Fynbos. die regie is deur Harry Patramanis gedoen en dit is deur Eleni Asvesta vervaardig.

“Dit was een van my prettigste projekte nog en ’n groot leerkurwe, want dit was ontsettend uitdagend. Die première was op 22 Julie by die Durbanse Rolprentfees. Ek het geen formele opleiding as aktrise nie. In dié rolprent, wat gaan oor verhoudings, vertolk ek een van die hoofrolle, Reneé, ’n vrygees en avontuurlustige natuurkind. Dit was ’n groot voorreg om saam met plaaslike akteurs soos Susan Danford,Warrick Grier en Sthandiwe Kgoroge te speel.

“Ek het die oudisie danksy my agent gekry. Volgens my was dit ’n aaklige een, maar ’n week later was dit ’n wonderlike verrassing toe ek hoor ek het die rol losgeslaan. Eintlik wou ek as kind ’n veearts word, maar deur die jare het ek ’n passie vir teater en rolprente in myself ontdek. aAbei my ouers het my baie geïnspireer in my loopbaan. Hulle is fenomenaal. My ma het my altyd geleer dat jy nêrens kom sonder harde werk nie. My ma én pa het my geleer dat jy kreatiwiteit vind op onkonvensionele plekke – op die manier wat jy dink, hoe jy karakters vertolk . . .

“Ek wil nie noodwendig in hul voetspore volg nie, ek wil my eie weg baan. Ek was pas in Over the Hill, ’n Paul Slabolepszy-produksie by die Sneak Peeks-fees in Newtown, Johannesburg, te sien. Dan repeteer ek ook aan The Guards uit my pa se pen, waarin ek die rol van ’n Afrikaanse rookie in die weermag in 1972 speel. Dis September op die planke.”