Ons praat met

Minki, SA se pin-up girl

‘n Fyn pin-up-model, die gewildste plakkaatmeisie van die Amerikaanse soldate in Irak met haar groen oë en 34C-borsmaat (sommige sê dis ’n D). ’n Onderklere-model wat die wye wêreld vol rinkink, wat al aan die sy van ’n Britse pierewaaier, Jacobi Anstruther-Gough-Calthorpe, vir prins Charles en Camilla ontmoet het.

Sy boer op SA kunstefeeste. Haar nuwe liefde is die gewilde Afrikaanse sanger Pieter Smith. Iemand wat sy as “’n ware heer“ beskryf. “Hy soen heerlik. Elke dag voel soos Valentynsdag of my verjaardag. Ek voel soos ’n prinses. En hy bring vir my die lekkerste ontbyt in die bed. Sy oë is vriendelik, oop en warm. Ons deel ’n passie vir musiek – ou musiek soos die Beatles en natuurlik Afrikaanse musiek. Ek het hom nie gekies omdat hy bekend is nie, maar omdat hy op my pad gekom het.

“Ons verstaan albei wat dit beteken om beroemd te wees, en dit maak ons verhouding eintlik makliker. Die langafstand-verhouding veroorsaak nie jaloesie nie, want daar is geen onsekerheid nie. Ons weet wat ons aan mekaar het.

“Ons gaan dit laat werk. Ons sien mekaar minstens elke twee weke. En as ek in Engeland werk, gaan hy ook daar kom kuier.” Ja, dis nie asof Minki bekende mans kies nie, maar sy word omring deur hulle, sê sy. Sy was twee jaar (aan en af) aan die sy van Suid-Afrika se krieketkaptein, Graeme Smith. Die land het ook gegons oor haar kuiertjie in The Planet Bar in die Kaap se beroemde Mount Nelson, waar sy en die Britse seksbom-sanger Robbie Williams einde Maart saam met vriende gekuier het. Toevallig? Ek pols haar ma, Carien, bietjie.

“Jy ken my dogter. Sy was net bereid om te sê: ‘Mamma, ek wil regtig nie kommentaar lewer nie. Dan lyk ek mos soos ’n rowwe tertjie met drie ouens in ’n kwartjaar. En dis onwaar! Dit was ’n lekker kuier en ek dink hy is cool.’” In ’n radioprogramvan 94.7 het Whackhead Simpson ’n gekskeer-oproep na Minki gemaak en voorgegee hy is Robbie se assistent. Die “assistent“ vra toe: “Robbie vra of jy tyd gaan hê om hom te sien voor hy die land verlaat?“ Ná ’n lang stilte antwoord Minki ferm.

“Hoekom praat hy nie self met my nie? Ek het ’n kêrel.“ En toe die assistent aanhou: “Ek gaan regtig nie tyd hê nie.“ Toe sy hoor sy is uitgevang, het sy lekker gelag vir Whackhead. (Sy kan nogal vinnig op haar voete dink, dis vir seker.)

 

Ek het nie tyd vir Robbie Williams nie. Ek het ’n kêrel.

 

Sy skree haar stem hees vir sangers soos Dozi en Theuns, Kurt, Juanita-Scarumba-du Plessis – en natuurlik Pieter Smith. Tydens SARIE se modesessie kry ek die tweede keer met haar te doen. Haar ma is ’n stylvolle Afrikaanse korthaar-weergawe van Sharon Stone, en kom saam na die “produksie”. Ons eerste kennismaking was op haar 21ste verjaardag, 26 Februarie verlede jaar, in die bekende Rhodes House-klub in Queen Victoriastraat in die Tuine. Daar waar bloubloed-prinsies en ander celebs uithang in die Kaap.

“Ek was nog nooit op SARIE se voorblad nie,” het sy dié aand in haar sexy rooi rok gesê. En SARIE het die aas gegryp. Sy’s immers warm nuus. Google haar naam en kyk bietjie wat gebeur . . .

Op 2 Februarie vanjaar parkeer ek voor ’n koel, woudagtige tuin in Durbanville. Dis snikheet. Minki se goue A-klas Mercedes staan in die koelte. “Mina” (soos haar ma haar noem) is effe laat. Sy het die vorige aand op Stellenbosch gekuier. Die huis is keurig gemeubileer. Pragtige skilderye, warm houtmeubels, kelims, pottebakkerswerk. Carien dra yswater aan terwyl ons buite op die dek oor die swembad uitkyk. Dan verskyn Minki. Komkommerkoel in ’n swart broek en spaghetti-bandjie-toppie. Haar rondings pragtig sigbaar. “Natuurlik is dit eg! Danksy my oumas se goeie gene,” lag sy.

Minki vertel hoe gelukkig sy is, “want die Koning woon in my hart”. Sy is ernstig oor haar geloof. “Ek weet nie hoe mense sonder geloof kan leef nie. Ek neem elke besluit met Jesus as my rigtingwyser.” Maar hoe bring ’n mens nou die onderklere en die pin-up girl uit by dié ernstige geloof? “As die saak reg is tussen my en God, hoef ek niks aan ander te verduidelik nie. My talent is skoonheid. Daar is duisende ander mooi gesiggies op aarde, maar dis nou mý talent. En ek het dít gekry om ’n verskil in mý bedryf te maak en Sý naam te vereer. Ek sien die wonderlikste plekke. En dis lonend. Dit gaan nie vir ewig aanhou nie. Soms wens ek ’n mens hoef nie so lank uit tasse te leef nie, maar ek kla nie. Ek is dié gelukkigste meisie op aarde.”

Minki wil eendag ’n TV-aanbieder wees. “Ek lees gereeld koerant, hou van biografieë – boeke wat my inspireer. Onlangs het ek Die doelgerigte lewe deur Rick Warren gelees. Die Here hét ’n plan met my . . .” Sy droom daarvan om op dertig ma te wees met ’n paar kindertjies aan die sy. Dalk ’n boetiek te hê, want sy is mál oor klere. Nie onderklere nie, maar klére laat haar tiek. Veral jeans, mooi, vroulike bloese en stiletto’s, hoewel sy meestal bedags lae hakke dra.

 

Ek is baie emosioneel . . . en hou daarvan om ’n kêrel te hê

 

Rennie Fensham, ’n Kaapse grimeerkunstenaar, vertel mense skinder soms dat Minki snobisties is omdat sy mooi is. “Dis bog. Sy is plat op die aarde en skryf die mooiste dankiesê-kaartjies.” Ook haar ma vertel hoe Minki gereeld vir haar parfuum koop of bederf met ’n lekker skoonheidsbehandeling. “Sy was nooit ’n moeilike kind nie. Ek mis haar baie so ver weg, maar ek weet sy kan na haarself kyk.”

Graeme Smith blyk nou ’n naam uit die verlede te wees. Sy sê nietemin: “Hy is gefokus, het ’n wonderlike persoonlikheid.” Oor saamslaap voor die huwelik voel sy: “Dis eintlik nie reg nie. Aan die ander kant: ’n Mens bly maar ’n mens. En ons het almal ons behoeftes . . .”

Haar pa, Herman, is een van die groot rolmodelle in haar lewe. Hy lyk, terloops, soos ’n Boere-weergawe van een van daardie sensuele Spaanse rolprentsterre uit ’n Pedro Almodóvar- fliek. Dis duidelik dat familie alles in haar lewe is. “Sterk familiebande is nou maar een ding van Afrikaners. Ek verlang vreeslik, maar gelukkig het ek baie vriende in Londen. Dis ’n tawwe leerskool om op jou eie in die vreemde te oorleef, maar ek het daagliks kontak via die internet, SMS of telefoon. Ek sorg ook goed vir myself oorsee. Kosmaak is heerlik. Veral pasta en slaaie. Ek is nie lief vir oefening nie, maar eet gesond en rook of drink nie. Ek kyk dikwels DVD’s en lees baie. Baie modelle het nogals ’n stryd met die vetjies. Dit moet aaklig wees, want hulle eet min en siestog, hulle lyk altyd so honger. Soms gaan jy na twintig castings op ’n dag en net een kliënt kies jou vir ’n modesessie. Jy ontwikkel ’n dik vel. Die kuns om in my beroep te oorleef is om dinge nie te persoonlik op te neem nie.”

Haar ma, een van haar beste vriendinne, het haar gesonde selfliefde gegee. “Ek is baie emosioneel en huil máklik in flieks en raak báie gou verlief en hou daarvan om ’n kêrel te hê.” (Sy hou van mans met mooi bene en mooi tande!) En sy is daarvan oortuig dat sy vir goed in SA wil bly. “Want Afrikaans is my taal en dís wat ek en my kinders gaan praat. Ek glo in ons land se toekoms.” Sy het om dié rede ook haar gewig (’n volle 52 kg en sy is 1,72 m lank!) ingegooi agter die Huisgenoot-Minkiboekprojek waar derduisende boeke vir agtergeblewe skole landwyd ingesamel is.

Esmaré Weideman, redakteur van dié gesinstydskrif, sê: “Ons was verstom om te sien daar is niks ‘opstêrs’ aan haar nie. ’n Mens kan amper nie glo dis dieselfde meisie wat in ’n bikini omtrent ’n tydskrif se blaaie aan die brand laat slaan nie. Ek was saam met haar na ’n skool in Kaapstad om die boeke te gaan oorhandig. Die kinders was maar sku, maar Minki het hulle laat ontdooi.” Minki sê: “Dis wonderlik om te sien hoe kinders wat nog nooit hul eie boek besit het nie begin ophelder as hulle illustrasies van feëverhale sien.”

Dis vir Minki nou nog snaaks dat sy, wat eens die Guess-modelle in hul jeans op haar skoolboeke in die Hoërskool Stellenberg in Durbanville geplak het, uiteindelik op 17 dié groot advertensieveldtog losgeslaan het. “Om te dink nou plak ánder hoërskoolmeisies mý op hul boeke. Deesdae vra mense vir mý handtekening. Dis die vreemdste ding om bekend te wees. Toe ek prins Charles ontmoet het, was sy stem hees en sy handjies pofferig. Hy het vir my gesê Suid-Afrika het van die mooiste vroue ter wêreld en dat hy nogal spyt is hy het sy seuns hierheen gestuur, want hulle wil nou die heeltyd terugkom. Camilla was baie hartlik en moederlik.

“Dit was ’n hoogtepunt in my lewe, maar ek bly maar net ou Minki wat hou van my pa se braaivleis en om saam met my familie Kersfees te hou by Strandfontein aan die Weskus, om draairoomys te eet by Bloubergstrand of my ma se huiskos te eet. Die rugbyspeler Bob Skinstad was my held op skool . . . Snaaks hoe die lewe werk.”