jan08voorbladartikel1a
Ons praat met

Michelle Botes, misterieus of net privaat?

Daar’s iets omtrent Michelle Botes . . .  maar wat? Is dit haar geborgde swart weeldemotor buite die restaurant in Melville, terwyl sy eintlik ’n donkergrys Mini Cooper sou verkies? Is dit die manier waarop sy saamsmelt met teksture – van die smeulbruin fluweel waarmee sy by SARIE se fotosessie opdaag tot die groen blinkers waarmee sy voor die kamera poseer? Of dalk die feit dat sy van naby soveel mooier as op die TV-skerm is?  Wat dit ook al is, wanneer sy wegstap, kry jy die gevoel sy sal net so tuis wees op ’n donkiekar as in ’n luukse motor.

Sy lê voor die kamera. Sy gooi haar skouers hierdie kant toe, haar kop en arms ’n bietjie daarnatoe gelig – en sy laat glo die lens sy rol rond by ’n piekniek in Provence, terwyl sy eintlik lê en bibber in ’n sprokiesmooi tuin in Johannesburg.  Sy’s 100% ster, 0% houding.

Misterieus of net privaat? Miskien is dit juis die paradokse in haar persoonlikheid wat ’n mens aantrek, of miskien is dit die manier waarop sy bly groei terwyl iets diep binne-in haar onveranderd bly . . .  ’n Vrou wat nie oor haar familie wil praat nie, maar wat sê: “Ek is steeds die essensie van die 2-jarige Michelle Botes.”  Die meisietjie wat ’n spioen wou word omdat sy wou voel hoe dit voel om iemand anders te wees.  En, ja,’n mens kán haar nogal sien as ’n heldin in ’n John le Carré-roman.

Maar totdat dit gebeur, ken ons haar as Princess in Arende, as Cherel in Isidingo en Ingrid in Binnelanders – almal rolle waarin sy iets van haarself kon gee en ontdek. En dis nie dat sy spesifiek kies om baddies eerder as goodies te speel nie, maar die rol wat waarskynlik tot dusver die meeste impak op die publiek en op haar lewe gehad het, is Cherel, die superfeeks wie se mishandeling as kind haar obsessief gemaak het oor mag en geld, in so ’n mate dat sy selfs nie geskroom het om moord te pleeg nie.  En dan is daar natuurlik Ingrid van Binnelanders wat Michelle na haar eie binnewêreld gedwing het. Sy verduidelik: “Ingrid is ‘gebore’ in ’n tyd van stroping in my lewe – my kinders is koshuis toe, my katte is dood, ek het van ’n kolossale familiehuis na ’n woonstel getrek.”  Die deernis en passie in Ingrid se karakter, wat so ver verwyderd is van Cherel, was dus ’n groot faktor.  Want Ingrid is ’n emosionele vrou, maar met donker kante, veral wanneer dit kom by haar dogter en haar minnaars.

Vir Michelle was dít juis die uitdaging – om die paradoks van Ingrid se karakter vas te vang. Want sy wat Michelle is, is self soms ekstremisties, erken sy. Óf sy gee haar aan die genietinge van die lewe oor, óf sy’s ’n kluisenaar. Maar wat Ingrid uiteindelik so mooi maak, sê Michelle, is waar Cherel altyd van die donkerte in haarself weggehardloop het, sien Ingrid haar eie foute raak en neem verantwoordelikheid daarvoor.  Sulke teenstrydige karakters is ’n mondvol in enige akteur se boek. So hoe maak sy sin daaruit? “Ingrid het my bevry met haar morele waterpas,” sê Michelle, “waar Cherel my op ’n heeltemal ander manier bevry het juis deur haar bandeloosheid. Ek het in ’n mate sekere aspekte van Cherel se karakter uitgeleef, maar dit sággies geleef. Wat ek van haar geleer het, is wat ’n mens in jouself ontken – die malheid, die ding van jou eie kop volg.”  Maar dit alles was teen ’n prys wat Michelle ironies moet betaal juis omdat sy haar so uitstekend van haar taak as aktrise kwyt. Want al is sy vanselfsprekend nie Cherel nie, is daar dikwels die verwarring en die pyn, veral vir haar kinders . . .  Ouers wat nie wil hê hul dogters moet by háár dogter, Cara, kuier nie. En haar seun, Daniel, wat vir haar vra nadat kinders hom by die skool getart het: “The bitch is just a character, right?”

 

Mense se drome is wat hulle gaan wees

 

Terwyl Michelle as allesbehalwe gewond oorkom, is sy duidelik ’n ma met ’n missie. Wanneer ons oor die 18-jarige Cara en die 14-jarige Daniel praat, kry ek die gevoel dat ’n lig in haar aangaan. Dan sê sy self: “My kinders is my flitsligte. Heel eerste is ek ma: Ek is die heel trotsste op my ma-wees. My plig is om vir hulle te wys hoe die wêreld werk. En om hulle genoeg liefde te gee sodat hulle hulself vertrou.”  Ja, sy is ’n streng ma. Daar is reëls, soos dat hulle daar moet wees as sy hulle êrens gaan oplaai, en dat hulle goed en welwillend moet wees in alles wat hulle doen. Maar benewens die streng ma met grense, is daar ook die sagte, speelse ma vol onvoorwaardelike liefde. “Daar’s ’n vryheid by my as ek by my kinders is,” sê sy, “’n vryheid wat ek verder wil verken deur saam met hulle die wêreld deur te reis, van Thailand tot by die noorderligte van Skandinawië.”

En die kinders se pa, akteur en Radio Kalahari Orkesvoorsanger, Ian Roberts? “Ons was elf jaar getroud,” sê Michelle, “en ek is mal oor hom.” Hoekom het dit dan nie gewerk nie?  Die antwoord is ’n klein kopskud, ’n miniskule Michelle glimlaggie en ’n gevolgtrekking wat duidelik nie sonder pyn gekom het nie: “Dit was my eie verwagtinge van wat ’n man of pa behoort te wees, maar Ian is ’n amazing man.” Sedert die  egskeiding was sy aan en af in ’n verhouding met die heelwat jonger Chris Beasley, haar mede-ster in Isidingo. Ná twee jaar as enkelloper sê Michelle sy kan voel dis tyd (om weer verlief te raak).

En die gay-ding dan? Want sy ’t die media laat gons, die koppe laat draai en die vonke laat spat met haar stelling dat sy op ’n man óf ’n vrou sou kon verlief raak. Wat ’n mens bring by nog ’n ondefinieerbare Michelle-iets. Om die sappige woorde op die Sondagkoerant-banier te sien – “Michelle uit die kas” – is een ding, om te hoor hoe sy dit verduidelik, is iets heeltemal anders. Dis die hart en siel van ’n vrou vir wie deernis en passie verby die grense van geslag strek . . .

So wie en wat het haar uiteindelik help vorm? Skrywers, sê sy sonder huiwering. Mense soos die Amerikaanse skrywer en mistiese heler Caroline Myss, die psigiater en denker Carl Gustav Jung en die Indiese dokter en skrywer Deepak Chopra. Ook flieks soos The Mists of Avalon, wat die hele geloofskwessie vir haar opgeklaar het. Maar vir Michelle is dit nie ’n kwessie van geloof soos om elke Sondag kerk toe te gaan nie, al is sy mal oor rituele en al is daar vir haar ’n wonderlike krag in elke kerk. “Dit gaan oor meer as konvensionele godsdiens,” sê sy. “Ons is eers gees en dan liggaam, en jy kan nie die gees in ’n instelling sit nie. ’n Mens moet verantwoordelikheid neem vir jouself, maar die verantwoordelikheid moet in jou geestelikheid geanker wees.” Sy glo onwrikbaar in die goue geestelike reël: Doen aan ander soos jy aan jouself gedoen wil hê. En respekteer ander mense se drome.  “Mense se drome is wat hulle gaan wees,” sê sy. “Ek weet ek is ook deel van ’n groter droom, en daarom moet ek bid, en dan moet ek stil raak, om te luister vir die antwoorde.”

Wat haar inspireer, afgesien van haar kinders, is haar werk, valskermspring, duik, haar toewyding tot geestelike groei, haar soeke na waarheid, en die jong mense saam met wie sy werk.  “Daar is soveel kulture en opvoedings, en soveel aansteeklike lewenslus en verskillende waardes.”  Elke geslag het sy eie waardes, glo sy, en juis daarom is dit nie vir haar ’n kwessie van jonk wat beter is as oud of andersom nie. “Wat die jong mense so verfrissend maak, is die feit dat hulle nie vasgesteek het nie. Dis ’n geskenk om saam met hulle te wees, om oop te kan wees.”

Dalk is dít die ding van Michelle – dat sy oop is. Vir blinkers en fluweel, vir geestelike insigte en liggaamlike plesier, vir kinderlike genot en volwasse verantwoordelikhede. Sy sê self: “As jy enige ongelooflike lig of krag of wysheid aan mense blootlê, dan moet jy verwag dat mense daarvan gaan maak wat hulle wil.”  En dat sy geleer het om weg te stap van wat-die-mense-daarvan-maak en wat hulle dink . . .  terwyl die regte Michelle Botes haar funky swart stewels se hake in die grond slaan en met ’n Mona Lisa-glimlaggie sê:  “’n Mens moet die proses van die lewe leer vertrou, en soms weet die engele meer as ek.”

MICHELLE ANTWOORD (ONGEMAKLIKE) VRAE

saamgestel deur LOU-ANN STONE

IAN ROBERTS

Eks-man, akteur en sanger

Die Hoërskool Zwaanswyk wou op ’n keer nie jou vliegkaartjie betaal om as die voormalige hoofmeisie as gasspreker daar op te tree nie. Was dít vir jou ’n groter teleurstelling, of die feit dat ons huwelik nie perfek was nie?

Michelle: Ooee-la: Albei het my rigterskaal in sy maai in!

Is ek die beste vis-sjef ter wêreld?

M: Só ja!!

CARA ROBERTS

Dogter

Sou jy ooit na jouself as ’n feminis verwys?

M: Nee, dis onnodig. Ek leef wat ek is. Laat ander maar die labels doen as dit hulle gelukkig maak.

Glo jy’n mens kan iemand liefhê wanneer jy daardie persoon nie vertrou nie?

M: Liefhê is onvoorwaardelik – jy kan liefde nie voorskryf nie. Maar jy kán kies om nie by daardie persoon te bly of ’n verhouding met die persoon te hê nie.

DIRK DE VILLIERS

Regisseur

Jy was mos Princess in Arende. Is ek steeds jou gunsteling-regisseur?

M: Was jy? Siende jy my nooit weer ’n rol aangebied het nie, wonder ek maar net of ek jóú gunsteling was?

ROBERT WHITEHEAD

Barker in Isidingo

Wat’s vir jou die lekkerste van by die huis wees – en hoekom?

M: Die absolute vryheid van opinies en verwagtinge van wat jy moet wees! Die vryheid van by jou kinders wees of om alleen te wees. En om my hande in die grond te kan druk en met die wolke te praat.

See, bos of berg toe wanneer jy wegbreek? Hoekom?

M: Berg én see. Die berg vir standvastige rustigheid en die see vir eindelose getye en branders. Jy moet aan albei kan oorgee. Albei herinner jou daar is groter magte as jy.

KARIEN BASSON

Leser

Jy klim in ’n tydmasjien.  Waarheen gaan jy?

M:  Dit klink dalk outyds, maar ek sal na Plato se eiland Atlantis toe gaan. Dié tydperk fassineer my omdat dit ’n tyd van vrede was toe mense hul eie geestelike potensiaal hoër as mag en geld geag het. Hulle was in harmonie met die natuur en oral het kristalle gehang om vibrasies te verhoog.

ROLANDA MARAIS

Stefanie in Binnelanders

Na watter dier aard jy?

M: Ek’s ’n kat – ’n luiperd wat stil en sekuur volgens instink leef.

Watter kleur beskryf jou en waarom?

M: Blou – van uitbundige koningsblou tot die sagste babablou. Ek is baie emosioneel en vind groot aanklank by die lug en die see. Albei omring ons in al die skakerings en dis altyd ’n verrassing.

Wat in jou loopbaan sou jy verander? Watter raad het jy vir my?

M: My salaristjek! En my raad sou wees om nie te leef volgens ander se verwagtinge nie – een van die moeilikste dinge in ons beroep.

LEANA CLUNIES-ROSS

Fotograaf

Jy was nog altyd beeldskoon, borrelend van energie, met joie de vivre, en stralend gesond. Wat voed jou siel dat jy so wonderlik lyk?

M: Sjoe, dankie! Vir my is die wêreld ágter jou nog altyd belangriker as wat jy vóór jou sien. En as jy die wonderwerk van lewe in jouself kan vind, word die lewe (en jyself) ’n plek om te speel en te geniet. Ek gaan nooit ophou journey nie! Die Franse beeldhouer Auguste Rodin het gesê: “Beauty is but the spirit breaking through the skin.”

PAUL DU TOIT

Malan in Binnelanders

As gevolg van jou werk word baie oor jou private lewe bekend gemaak. Dink jy jy moet jou kinders teen dié blootstelling beskerm, en hoe?

M: Ek wou so graag en ek het probeer, maar die seer waarheid is dat jy hulle nie kan beskerm nie, net toelaat dat hulle dit op hul eie manier verwerk.

CAREN VAN HEERDEN

Leser

Is liefde ’n gewoonte? Soek of vind ’n mens dit?

M: Nee, dis ’n geskenk. Jy ontwikkel jou vermoë om dit raak te sien in jou lewe. As jy dit soek en jouself oopmaak daarvoor, is dit daar.

KONNIE GROENEWALD

Matriekafskeid-date

Jy’s nou famous. Wonder jy ooit wat van die vriende uit jou verlede geword het? Sal jy ons groet wanneer jy ons op straat raakloop?

M: Ja, en ek het jou probeer opsoek ook. Wat van koffie?

GRAY HOFMEYR

Vervaardiger van Isidingo

Toe jy Cherel begin speel het, sou jy kon dink sy gaan ses mense binne agt jaar vermoor? (Ek het nie!)

M: Nee. Sy’t begin as die onbeholpe meisie wat ryk getrou het en die verkeerde glase in te kort rompies voorsit!

Wat is die waarde van ’n TV-drama soos Isidingo vir die nasie, indien enige?

M: Dit het báie waarde. Die storielyne is ’n spieëlbeeld van ons samelewing en daar’s ongelooflike opvoedingsgeleenthede in stories soos Nandipha se vigs, Agnes se ongeletterdheid en hoe om ’n kleinsakeonderneming te begin. Ook die rol van geregtigheid in ons samelewing, mishandeling, geweld, ens. Ek is baie passievol daaroor dat ons die kwessies aanraak en bekyk – en sepies bied daardie geleentheid op ’n nie-bedreigende manier.