moon_bloodgood1
Ons praat met

Moon Bloodgood: Sexy en onbreekbaar

Vertel meer oor jou karakter, Blair Williams, en hoe sy in die storielyn inpas.
Sy’s ‘n A-10-vlieeniër onder John Connor se bevel in ‘n weerstandsbeweging, en sy’s een van die oorlewendes. Haar pa, ook ‘n vlieënier, het verongeluk. Sy’s nooit opgelei nie, maar het geleer om die “Wart Hog” A-10 te vlieg – en dis allesbehalwe sexy. (Dié vliegtuig help die troepe op die grond.)

My karakter se paaie kruis met Marcus Wright (Sam Worthington) en sonder dat sy die man van ‘n kant af ken, weet sy instinktief dat hy ‘n goeie man is. Hy weet ook nie wie my karakter is nie, maar hy kry terugflitse en wil weet waar Kyle Reese is. Ek neem hom dan na die weerstandsbeweging.

In ‘n stadium word ek aangeval en Marcus kom tot my redding. Die band tussen ons versterk en ons begin regtig vir mekaar omgee. My karakter is ‘n tawwe enetjie, maar sy’s ook weerloos – ‘n meisie wat met haar eie demone sukkel.

So is daar iets tussen julle twee karakters in die fliek?
Daar is iets, ja, ‘n seksuele spanning, maar ons onderdruk dit. Wanneer ons soen, is daar definitief ‘n konneksie – in ander omstandighede sou ons dalk kon saamwees.

Hoe was dit om saam met Christian Bale te werk?
Fantasties! Hy’s merkwaardig. Ek dink nie iemand anders sou John Connor kon speel nie.
Hy’t ‘n wonderlike sin vir humor en is baie beleefd – ek’t baie respek vir hom.
Hy kry dit reg om sy weerloosheid en sy manlikheid goed te balanseer. Daar’s ‘n egtheid omtrent hom.

Hoe was dit om saam met Sam Worthington te werk?
Wat ‘n wonderlike akteur, hy is so toegewyd! Hy’s sjarmant en manlik, en glo hy kan die wêreld red. Maar daar’s ook ‘n weerloosheid. Dis byna asof hy sy rol lééf en dit nie speel nie. Dan’s hy nog sag op die oog ook – baie sexy. Mans is mal oor hom, vroue wil by hom wees. Hy’s net ‘n nice ou.

En Bryce Dallas Howard (wat Kate Connor speel)?
Bryce is lieflik, sy neem haarself nie te ernstig op nie. Sy’s talentvol, intelligent en my mentor. Haar voete is op die aarde, maar sy’s die kunssinnige tipe – ‘n bietjie goofy soos ek.

Mag jy praat oor die regisseur, McG?
Hy’s die mees charismatiese, passievolste mens wat ek in my lewe ontmoet het. Hy’s slim en snaaks. Sy energievlakkie is hoog, dis soms moeilik om by te hou – sy brein beweeg ‘n myl per minuut.

Hoeveel opleiding moes jy kry?
Ek moes leer om gewere te hanteer en gewone oefening doen om by te hou met al die aksie. Ek was darem voor die film al baie aktief, maar moes wel met gewigte oefen. Dit was pret om al die fisieke goed te doen, jouself tot die uiterste te beproef en soveel moontlik van die ‘toertjies’ te doen.

Is daar ‘n sentrale tema in die film?
Dit gaan oor die mens se wilskrag, sy vermoë om te oorleef, en hoe oorlewing die beste (of die slegste) in mense uitbring.

Die film gaan bowenal oor vergifnis. Sam se karakter was byvoorbeeld al in die dodesel- hy glo hy is ‘n slegte mens, maar eintlik skuil daar baie goed in hom.

Die groot vraag wat die film vra, is wie is jy wanneer dit regtig sleg gaan? Gee jy om vir mense of veg jy net vir jouself? Dis ‘n baie kragtige tema.

Die rol van Blair Williams is uiteraard ‘n groot rol vir ‘n vrou – dit moet fassinerend wees om so ‘n magtige vrou te speel – die een wat die gewere rondswaai…
Dis wonderlik! Mense het soms die idee dat aksierolle eendimensioneel is, maar dis glad nie die geval nie. Jy kan mos die taai een wees, maar terselfdertyd sensitief. Blair is ‘n oorlewende en kry haar krag uit haar wil om te oorleef. Sy’t ‘n goeie hart, en gebruik haar weerloosheid om iets groters as haarself te doen.

Wat jy nie van Moon geweet het nie …

1. Korrina Moon Bloodgood is in 1975 in Anaheim, Kalifornië, gebore. Sy het haar skoonheid te danke aan  Koreaanse, Duitse en Ierse herkoms

2. Sy was eers ‘n professionele danser

3. Sy was al ‘n model vir L’Oréal, Revlon, Avon, Diesel, Adidas en Nike Woman

4. TV-debuut: Just Shoot Me (NBC) Ander: Monk en CSI

5. Debuut-film: Win a Date with Tad Hamilton! (2004) 
Ander: Eight Below, Moonlight Serenade en A Lot Like Love. What Just Happened met Robert de Niro

6. Rock-musiek: Sy’t al getoer saam met Prince, Brandy en Offspring

7. Skoonheid: In 2006 is sy benoem as een van People Magazine se “Most Beautiful People” en sy was Nr. 40 in MaximMagazine se Hot 100-lys.

8. “As ‘n kernbom Los Angeles moet tref, sal Moon die laaste vrou staande wees” – regisseur van Terminator Salvation, McG.

Waar kom jou eie krag vandaan?
Ek sou sê dis ‘n kombinasie van verskillende goed. Die feit dat ek armer grootgeword het in ‘n laerklasbuurt in Orange County, Kalifornië, speel definitief ‘n rol. Ek moes leer om vir myself op te staan. My vurige persoonlikheid maak my innerlik sterk. My ma, pa en suster is almal sterk mense en waar ek grootgeword het, is ons toegelaat om uiting hieraan te gee.

Ek dink daar’s baie manlikheid in my DNS. Ek’t nie ‘n probleem daarmee nie, dit spruit uit oorlewing. Ek wonder soms of dit ‘n verdedigingsmeganisme is om my weerloosheid weg te steek…

Hoe was dit om net een van twee vroue-hoofrolle in ‘n testosteroon-belaaide film te wees? (Die ander was Helena Bonham Carter.)
Dit was wonderlik, maar die meeste van die werk wat ek doen, doen ek saam met mans. Ek’s ‘n rabbedoe, dra mans-jeans, het ‘n diep stem – ek’s waaragtig nie shrinking violet nie! Ek’t nog nooit ‘n girl movie gedoen nie – ek’s Alpha in baie opsigte.

Was hierdie rol ‘n keerpunt in jou loopbaan?
Ja, definitief. Ek’t met amazing akteurs saamgewerk. Toe ek die rol gekry het, het ek gedink: “Ek hoop nie hulle dank my af nie. Ek hoop ek speel ‘n oortuigende vlieënier. Ek hoop ek sit diepte in die rol. Ek hoop ek kan ‘n egtheid en ‘n oorspronklikheid in die rol sit.”

Elke akteur wil eg en geloofwaardig wees, en dis ons grootste stryd. Hierdie is ‘n enorme rol en ek hoop nie ek het dit opgemors nie!

Moes jy van jou vrese ontslae raak sodat jy vry is om die rol te speel?
Ja, en dit is die paradoks van akteur-wees. Die oomblik wat jy op stel is en hulle sê, aksie!, moet jy ontspan en laat gaan. Vrees kan ‘n baie goeie motiveerder wees.

Enige onvergeetlike oomblikke op stel?
Ek dink dis toe Christian en Sam kop-aan-kop gegaan het, en ek’t hierdie twee kragtige mans mekaar sien konfronteer het. Baie intens!

Enige uitdagende toneel?
In die eerste paar weke het ons gehardloop, gespring, geval en geskiet. Maar dit was angswekkend by tye. Daar was ‘n toneel waar ek 100 voet hoog in die lug aan kabels hang. Ek is uit die vliegtuig uitgeskiet en my valskerm het aan die kabels gehaak. Ek moes Marcus (Sam) se hand vat. My harnas (wat teen die tyd baie ongemaklik gesit het) sny toe my vinger. Die hitte was ook onuithoudbaar. Ek moes ‘n hefboom op ‘n spesifike tyd trek en kon nie wag om uit die harnas te kom nie. Ek’t oral skrape en kneusplekke gehad.

Jy’t natuurlik nie regtig gevlieg nie, maar moes jy enige navorsing doen om seker te maak jy speel die rol van ‘n vlieënier oortuigend?
Ja, hulle het my na ‘n lugmagbasis in Arizona gestuur waar ek ‘n paar A-10-vlieëniers ontmoet het. Een van die twee vroue het my na die nabootser (simulator) geneem waar ons gewerk het.

Waarna moet mense uitsien as hulle die film gaan kyk? Terminator-aanhangers of nie.
Hulle gaan verras wees – die aksie en die storielyn is briljant. Christian is fenomenaal.

Dit gaan goed met jou loopbaan, wat is jou doelwitte?
Ek’s mal oor aksie en sci-fi. Ek het ‘n spesifieke styl en ‘n heserige stem – ek gaan nie voorgee om Kate Winslet te wees nie. Maar ek wil ook nie hê my loopbaan moet een groot cliché wees nie.

Ek wil aanhou groei as akteur en bewonder mense soos Seth Rogen, Adam Sandler en Ricky Gervais. Ek wil ook graag nog riller- of supernatural films maak. En ek’s mal oor Woody Allen. Dalk dramatiese rolle teenoor Johnny Depp …

Meer oor die fliek, Terminator Salvation.

Bespreek jou kaartjie by Ster-Kinekor.