Ons praat met

Morné Steyn se Christelle gesels oor hul lewe oorsee

Die Springbok Morné Steyn het onlangs ’n tweede seun ryker geword en is terug in Parys, Frankryk, waar hy vir die rugbyklub Stade Français speel. Sy vrou, Christelle, gesels oor dié ooievaarsgeskenk en hul lewe oorsee …

Geluk met die nuweling! Stel ons voor asseblief?

Sy naam is Christean en hy is sy boetie, Jóvan (3), uitgeknip. Hulle huil dieselfde, drink dieselfde en is baie rustig. Hy het 3,5 kg geweeg by geboorte op 10 Augustus – ’n regte rugbyspelertjie! Ek wou nog altyd my seuntjie eendag Christean noem; dis vir my so mooi en klink baie soos my en my ma, Christine, se name. Ek moet sê, ek dink hy is so rustig omdat ek self dié keer rustiger is – nie dat sy boetie stout was nie! Hierdie keer wonder ek nie wat elke “wê” beteken, en of ek alles reg doen nie!

Julle is kort ná die geboorte in Suid-Afrika terug Frankryk toe. Geniet julle dit daar?

Ons mis natuurlik ons mense, maar Frankryk is ’n wonderlike ondervinding. Ons het parke naby ons huis en gaan ry gereeld saam fiets of gaan eet iewers crêpes [pannekoeke] vir middagete. Hoogtepunte tot dusver was om piekniek by die Eiffel-toring te hou, om Jóvan Disneyland toe te vat, en al die mooi geboue om jou, soos die Arc de Triomphe, wat ek al vir baie jare wou sien. Daar is ook seker agt ander Afrikaanse paartjies en ons kuier – en braai – gereeld saam.

Hoe kom jy oor die weg as jy daar aanland en niemand verstaan nie?

Ek het gelukkig ’n vriendin wat al ’n paar jaar in Frankryk woon, so sy is op speed dial! Verder kom ek oor die weg met die paar woorde wat ek al in ons twee jaar daar geleer het en deur dinge op my foon te vertaal. Jóvan gaan nou vir die eerste keer na ’n Franse skool toe en ek dink ek sal seker saam met hom nog woorde leer. Gelukkig is kinders soos sponse, daarom glo ek hy sal dit vinnig leer praat en maats maak.

Jou visum-voorwaardes sê jy mag nie daar werk nie. Mis jy dit ooit?

Ek geniet dit nou eers om voltyds ma te wees. Dis baie spesiaal, al is dit harde werk so alleen. Maar as Jóvan saam met sy pa gaan gholfballe slaan, mis ek hom reeds en is weer van voor af dankbaar. Dit was vir my baie lekker om my eie skoonheidsalon te bedryf en ek sal dit weer wil doen, maar daar is soveel mammas wat enigiets sou gee om soveel tyd by hul kinders te kan hê en vir nou verruil ek dit vir niks.

Wat mis jy van Suid-Afrika?

Die son, die ruimte, die vriendelikheid en die kinder- vriendelike restaurante! En natuurlik mis ek ons mense. Ons gaan kuier minstens een keer ’n jaar en tussen oproepe, WhatsApps en Skype voel ’n mens darem nie altyd so ver van mekaar af nie.

Dié onderhoud kom uit ons Oktober-uitgawe. Dít is nie meer op die rak nie, maar kan HIER afgelaai word.

Blaai deur die galery vir nóg foto’s geneem deur Lise Cronjé