Ons praat met

Musiekteater vol hoop

Van Bach tot musiek van die Kaapse Vlakte en jazz. Dís wat op jou wag in die multimedia-musiekteaterstuk Jericho!
Karen Meiring, die nuwe hoof van kykNET, sê: “Dit gaan gehore hoop gee vir môre.”
Antieke Israel se verhaal is soortgelyk aan ons reënboogland s’n: ‘n Nasie wat onderdruk en toe bevry is. Die musiek is uit verskeie genres gekies om hierdie diversiteit uit te beeld. En dis als so nuut en vars: Dis die eerste keer dat ‘n honderdstemmige koor Händel se musiek vertolk – met ‘n pyporrel en ‘n rock band! Daar’s kombinasies van Barokmusiek en rock, Afrikaanse kontemporêre musiek (onder meer ‘n toonsetting van Laurinda Hofmeyr), liedjies uit blyspele en van die Beatles, ‘n goeie skoot klassieke musiek van onder andere Händel, Bach en Mendelssohn, hip hop, Afrikaans van die Kaapse Vlakte en Griekwaland . . .
Die veelrassige Libertaskoor onder leiding van prof. Johan de Villiers tree op saam met gesoute akteurs Anna-Mart van der Merwe en Gys de Villiers, opera-ster André Howard en hip hop-ster en aktrise Nqobile Sipamla. Die orkes bestaan uit Zorada Temmingh (orrel), Schalk Joubert (baskitaar) en David Klassen (perkussie). Jaci de Villiers, Gys se vrou, behartig die teks en regie en Janine Neethling is musiek-raadgewer. Gerhard Niemand sorg vir die verwerkings en samestellings.
Psst! Een van die groot verrassings is ‘n verwerking van Laurika Rauch se treffer “Hot Gates”.
Kom word betower: 18 – 21 Maart by die Oude Libertas Teater, Stellenbosch om 20:15 (vertoning duur 90 minute).