Ons praat met

Lize Beekman: “My hoogtepunt duur al 10 jaar!”

Janis Ian en Kate Bush het as tieners reeds die musiekbedryf laat regop sit met hul universele musiek, wat vandag nog aanraak en bekoor. Wat jou laat wonder: Waar kom sulke jong, oningewydes aan sulke innige, betekenisvolle musiek? Wat roer vroeg reeds in so ’n kunstenaar se siel? Ons het ook so ’n kunstenaar. Lize Beekman.

Lize het as skoolkind al die oog (oor) gevang toe sy die ATKV Crescendo en die Sterre 2000-prys voor groot name weggeraap het. In 1997 het sy haar eie eerste solo-album uitgereik: Eyes of a Child. Daarna volg nog drie – Cake (2000), Iemand het gesê (2003) en Draadkar oor die see (2005).

Die benoemings het nie weggebly nie. Samas, GMT’s, Geraas-toekennings, Kannas, die Vitas … ook as begeleier en akteur op die verhoog. Chris de Bruyn, wat destyds vir die ATKV die kompetisie gereël het, het tydens die emosiegelaaide bekendstelling van Iemand het gesê skuinsweg opgemerk: “Toe ek hierdie meisiekind vir die eerste keer hoor, en sy was toe nog op skool, het ek geweet: Hier kom een van ons grootste liedjieskrywers en musikante.”

Tydens die KKNK in 2005, waar sy ’n Kanna-prys gewen het, het die feeskoerant Krit haar só besing: “Indien die laaste Afrikaanse liriek op sterwe lê, sal Lize Beekman hom tien teen een kan mond-tot-mond tot hy weer sy ou self is.” En dis presies hoe jy voel as jy na haar lirieke luister. Vir haar geliefde ouma Bessie (wat in Februarie ’n eeu oud geword het en nou al ’n karakter in haar liedjies geword het), het sy onder meer “Lied van die engele” geskryf:

… Ag lees nog ’n lyn uit Brood vir die Engele
 En sing nog ’n keer en roep die engele
Vertel wat het jy al gehoor oor die stad
van die engele
Ag, wat ook al, my kind net vir ’n wyle …
’seblief … bly by my

Lize se nuutste album, wat binnekort uitgereik word, is slaapliedjies vir kinders.

Vertel meer van jou Lullaby-projek. Waar kom dit vandaan?

Op Draadkar oor die see is ’n wiegeliedjie – “Soveel-so Lullaby” – wat ek geskryf en opgedra het aan my suster se dogtertjie Lisa. Sy is ’n week voor die CD gebore. ’n Bietjie later sê my sussie eendag dis wonderlik dat ek die liedjie vir Lisa geskryf het, maar sy wil tog vra, as ek dalk nóg wiegeliedjies skryf, moet dit bietjie eenvoudiger wees sodat dit vir haar as ma ook maklik sal wees om te sing! So loop ek toe vir ’n ruk met dié gedagte rond en skielik op ’n dag besef ek ek kan ’n hele wiegeliedjie-CD maak. Almal nuut geskryf en regtig eenvoudig – ma-vriendelik! In die skryfproses was dit al vir my duidelik dat ek nie die CD vir eie geldelike gewin wil doen nie, maar dat ek eerder al my tantième vir die Rooikruis-Kinderhospitaal gaan gee.

Wat beteken dit om ’n “onafhanklike kunstenaar” te wees?
Ek het slegs ’n verspreider en is nie vasgeteken by ’n platemaatskappy nie, dus kan ek besluite soos hierdie self neem én my persentasie-aandeel is substansieel – alles dan vir die Rooikruis. Sommige dinge weet ’n mens net – asof ’n engel bloot die gedagte, die wete en die sekerheid binne-in jou hart kom neersit terwyl jy slaap. Dan, wanneer jy wakker word, is jy bloot die draer en uitvoerder van ’n plan wat groter is as jy.

Jy is dikwels betrokke by liefdadigheidsaksies, waar kom dit vandaan?

Ek dink nooit oor wat ek doen as ’n “sosiale verantwoordelikheid” nie – dis nie ’n bewuste besluit nie. Ek glo wel dat dit ’n verskil kan maak in ons samelewing as elke mens ’n manier vind om ander te help, sonder om iets in ruil te verwag. Mense dink dikwels onnodig groot en die gevoel van onvermoë laat hulle dan lam, terwyl daar so baie klein dingetjies om jou is wat jy kan doen – by jou buurman, die ouetehuis om die hoek, die kliniek ’n paar blokke weg. Dis by my ingeboesem in my ouerhuis. Giving beats receiving!

GUNSTELINGE

KOS: Braaivleis
DRANKIE: Koffie, Jameson’s of Jack Daniels
MUSIKANT/MUSIEK: Sting, Diana Krall
AKTEURS: Helen Mirren, Anthony Hopkins
FLIEK:
Something’s Gotta Give, Pieces of April
PLEK:
My huis
BLOM: St. Josef-lelies

 

Jy vier vanjaar jou tiende jaar in die bedryf. As jy terugkyk?
’n Hoogtepunt wat al tien jaar duur! Natuurlik, soos met enige loopbaan, was daar stampe en stote, onbegaanbare terrein, opdraandes en al die dinge wat deel is van ’n groeiproses, maar die feit is dat ek al tien jaar my droom leef. As mens ’n grafiek sou trek van my loopbaan, is daar konstante groei en daarvoor is ek ook dankbaar. My pad het gekruis met baie kosbare mense. Mense wat onselfsugtig opgetree het en gehelp en raad gegee het, ondersteun en aangemoedig het – ek sal dit altyd met my saamdra en ewig dankbaar wees daarvoor. Ek het soms doodmenslik moeg en moedeloos geraak van aanhoudend regop staan en vorentoe beur met elke nuwe uitdaging. Ek is dankbaar en trots!

Vertel van jou “huisie by die see” by Melkbosstrand?

“Jou huis lyk of hier nog studente woon – wel verantwoordelike studente – maar studente, en dis oukei so, want dis baie lekker,” het ’n vriend eenkeer vir my gesê. My huisie by die see is my baie kosbare hawe en vir eers is my fokus nog daarop om dit af te betaal. Die binnewerke is nou regtig nie luuks nie, en alles pas vir seker nie bymekaar nie, maar dis gemaklik en ek kan eet en slaap en sit en werk. “Die huis het baie potensiaal,” sê ek graag, en as als volgens plan verloop, hoop ek om eendag te kan breek en bou en inrig soos ek daarvan hou. Ek is vreeslik erg oor huismaak! En so is my huisie – in sy eenvoud – ook ’n hawe vir baie ander in my lewe. Menigmaal is dit die plek waarheen mense in my lewe kom, hetsy om te kom rus, te huil, te praat, stil te wees, gefokus te werk, heel te raak. Die waarde wat dit bied, is baie meer werd as die vloerplan.

Is jy nou op die plek waar jy wou/wil wees?

Geografies, ja! Hoe kan enige mens ’n minuut se stap van die see af woon en nie gelukkig en tevrede wees nie? Melkbosstrand is heerlik rustig en ek ervaar ’n vrede hier. Hier het ek als wat ek nodig het – die mense by Postnet is al soos familie, ek gesels al lekker by die bank, Pick n Pay, Clicks, Toy by die haarsalon ken ook al my hele storie … En ek is ’n halfuur van die lughawe af. Ek woon in die Kaap, ja, maar ek werk in Suid-Afrika. Seker is daar wel ’n ding wat ek graag sou wou byvoeg, en dis ’n berg! Maar, ek besef dis ’n reuse-toevoeging en ek vermoed as ek sou vra daarvoor, gaan Hy sê dis ’n uiters tydsame proses wat nie in my leeftyd kan gebeur nie … so ek het vrede gemaak. In my loopbaan, nee. Ek hoop ook dat ek nooit op ’n plek sal uitkom waar ek nie meer behoefte het om te “beweeg” nie. Mag daar altyd nuwe ervarings wees, nuwe liedjies, nuwe verhoë, nuwe plekke, nuwe mense.

Wat dink jy van die debat oor “kommersiële” musiek vs. “alternatief ”?
Dis vir my moeilik as die enigste alternatief vir kommersiële musiek aangedui word as “alternatief ”. Asof dit die een of die ander móét wees. Die algemene indruk wat mense van “alternatief” het, is “vreemd/nie-luistervriendelik” nie. Dit breek soms my hart, want mý musiek, byvoorbeeld, is allesbehalwe vreemd en dis definitief luister-vriendelik! ’n Ware storie: Ek gesels met ’n jong vrou. Sy luister baie Afrikaanse musiek, maar herken my nie. Ek vra toe na watter kunstenaars sy graag luister. Ek kon aflei uit haar lys name dat sy dalk wel van my musiek sal hou.

Vra haar of sy hou van Lize Beekman se musiek. “Nee,” sê sy, “ek het gelees dat haar musiek alternatief is.”  Wat dink sy is alternatief? vra ek. “Mmm … seker maar soos kabaret.” Ek kon my ore nie glo nie. Ek sê toe “aangename kennis” en dat ek definitief nie kabaret sing nie. Ek gee vir haar ’n CD waarna sy my ’n e-pos stuur waarin sy sê hoe verbaas sy is om te hoor wat ek regtig doen. Dankbaar is ek nou, maar kan natuurlik nie help om te wonder hoe baie mense daar is wat ’n verkeerde indruk het en net nog nooit die moeite gedoen het om self te luister nie.

Dink jy dus nuwe, oorspronklike musiek ly skade?
Ja, want die een klink meer en meer maar soos die ander. Ek let op dat nuwelinge wegskram daarvan om ’n “eie” klank te vestig, want dis baie harde werk en nie iets wat oornag gebeur nie. Soos die gesegde lui: “It took me ten years to become an overnight success!”

Wat wag in die volgende tien jaar, of wat sou jy wou sien gebeur?
Doodeenvoudig dat ek sal aanhou groei en nie ’n dag sal mis nie! Soms vir ’n wyle stilstaan om my omgewing in te neem en te waardeer, voor ek aanbeweeg. Ek en my musiek is een.

En vir ons land?
Sjoe, ek kan so vreeslik verdwaal tussen al die baie dinge wat ’n mens moontlik kan voel en dink. Realisme, drome, optimisme, vrees en, en, en … Ek glo ongetwyfeld in die potensiaal van ons land, so my gebed is vir konstante groei en dat ons sal aanhou in die rigting beweeg wat ons nader daaraan bring.

Ek glo ons behoort lankal verby die punt te wees waar ons dink dat dit enige verskil gaan maak om die skuld op ander te pak, of ons arms in die lug te gooi omdat iemand anders nie iets daaraan doen nie. Tou opgooi en oorgee is doodeenvoudig nie ’n moontlikheid nie. Die omstandighede vra vir ’n kollektiewe, gefokusde en gedetermineerde poging van alle Suid-Afrikaners op alle terreine en op alle vlakke van die samelewing. Wat kan jy doen? Jy kan begin in jou eie huis, jou buurt.

Wat doen jy, byvoorbeeld?
Ek praat nie op my selfoon (sonder “handsfree”) terwyl ek bestuur nie – dis teen die wet, en sou ek dit doen, is ek doodeenvoudig deel van die wetloosheid in SA.  As jou bagasie oor die toelaatbare gewig op ’n lughawe is en jy koop iemand om, is dit krimineel en is jy ook deel van die wetloosheid in ons land. Dis eenvoudig. Die aanbod moet geweier word en die misdaad moet aangemeld word. Ek wens vir ons land “gesonde” fondamente, want daarop gaan ons ’n sterker huis bou.

Dink jy ’n vroue-president sal die saak anders aanpak?
Die antwoord lê vir my in die potensiaal van die individu – man óf vrou.

Daai lekker Mej. Wêreld-vragie… Wat is jou wens vir die aarde?

Insig en liefde. Ek weet dis ’n reusedroom wat ek in daardie drie woorde bêre. Die ewige optimis! Maar dink net hoe dit dinge kan verander as mense op alle vlakke besluite neem en optree vanuit daardie twee plekke.

Het jy ’n leuse?
Ek kan dit opsom in ’n enkele woord: liefde. Liefde is my leuse in die groter prentjie en in die alledaagse – in alles. En as jy my sou vra om uit te brei daarop, gaan my antwoord baie, baie lank raak. Ek kan met vrymoedigheid sê dat dit my leuse is, want meestal weeg ek my eie doen en late daaraan. Doodmenslik is dit egter nie altyd maklik nie.

Is dit ’n leuse wat werk?

Ja!

Jy ís vol liefde, ja. Maar jy moet tog kwaad word ook?

Swak diens by enige plek. Soos as daar net een vertrektoonbank en sekerheidshek oop is by die lughawe wanneer dit duidelik besig is. Dit krap my vreeslik om, want dan kan ek nie help om te dink aan die werkloosheidsyfer in ons land nie – hoe verskriklik baie mense enigiets sou gee vir daardie werk. Mense wat hulle net altyd besig hou met die splinters in die oë van ander. Ek kan ook vreeslik ontevrede raak met en kwaad raak vir myself as ek weet dat ek in iets nie my beste gegee het nie.

Belangstellings buite musiek?
’n Groot lekker en bederf is restourasiewerk. ’n Ou meubelstuk heel en mooi maak, verfwerk, houtwerk. Ag, weet jy, eintlik enigiets waar ek met my hande werk – iets maak uit niks.
Skilder is vir my ontspannend. Ek is baie lief vir speletjies ook – kaarte, bordspeletjies … Ek lees ook graag oor sake-kwessies – as musiek nie ’n keuse was vir my nie en ek moes ’n ander rigting kies, sou ek graag ’n MBA wou doen.

Wat maak jou op jou gelukkigste?
As ek kan hou by my leuse!