Ons praat met

“My jaar van twee wonderwerke”

Dit was ’n vreemde tydsberekening, sê Milan Murray, maar ook die begin van ’n unieke pad wat sy en haar ma saam kon stap. In Mei het sy haar ma, Logy, van die Kaapstadse Internasionale Lughawe gebel met die goeie nuus: Ek is swanger!

Die wonde van haar ma se mastektomie was nog nie genees nie, maar dieselfde oggend het Logy gehoor die 11 kliere wat kort tevore uit haar haar bors verwyder is, is skoon van kanker. ’n Warboel gedagtes van vreugde en hartseer gaan deur jou kop, sê Milan, die gewilde Frankie van Binnelanders op kykNET en M-Net.

Sy was nog altyd na aan haar ma, ’n vigsopleier in Afrika, maar vanjaar was vir hulle ’n jaar van groei nóg nader aan mekaar, ’n kameraadskap. Vir Milan het oggendnaarheid gevolg, vir Logy naarheid weens chemoterapie. Hulle het elke tweede dag “die vreemdste gesprekke” gevoer, vertel Milan.

“Hoe voel jy?”
“Ek is naar.”
“O, ek ook.”
“Ek is moeg vandag.”
“Ek ook.”

Die gesprekke het vir Milan ’n baie spesiale rol begin speel. Hulle was nooit somber nie, altyd ondersteunend. Daar was ’n diepte omdat hulle ook geleer het hoe broos en kosbaar die lewe is.

Milan het ’n sagter deel van haar ma ontdek, en Logy ’n sterker deel van haar dogter. “My ma was nog altyd ’n gesonde vrou. Sy het wel stres en is ’n werkverslaafde, maar sy gaan gereeld vir ’n mammogram. Die borskanker het haar wreed wakker geskud.”

Dit het die lewe van die hele Murray-gesin binne ’n week omgekeer: Die Maandag het die dokter sy kommer oor ’n knop uitgespreek, die Woensdag is dit as kwaadaardig gediagnoseer, en die Vrydag is die mastektomie gedoen. Milan glo die kliniese manier waarop haar ma die siekte hanteer, help haar om nie vreesbevange te word nie. “Ek dink haar kalmte het te doen met die vigsopleiding wat sy in Afrika doen. Sy ken baie mense wat MIV positief is. Sy is meer gewoond aan slegte nuus as ons. Die mense met wie sy werk, voer ’n dag tot dag bestaan. My ma doen dit ook met haar eie siekte.”

Milan erken hoewel die band met haar ma nog altyd goed was, het hulle in haar tienerjare deur ’n moeilike tyd gegaan. “Ons gesin moes in ’n stadium vir berading gaan, want daar was sielkundige probleme. Almal was bereid om te gaan, maar ek het geweier.” Maar vanjaar het sy en haar ma opnuut geleer om mekaar beter te verstaan.

 

Ek sal seker nooit ophou droom oor groot rolle nie

 

“My ma het onlangs vir my en die baba ’n geskenk gegee. Sy is nie ’n tipiese ouma nie, daarom was die gebaar so spesiaal. Sy het selfs aangebied om die eerste twee weke ná die baba se geboorte te help. Dís nie tipies my ma nie!”

Natuurlik staan Milan haar ma op haar beurt by tydens die siklusse van chemoterapie. “As sy siek voel, laat weet sy as ek nie moet kom kuier nie. As ek hulp aanbied, sal sy gewoonlik sê: Sorg dat jou pa kos het. Soms SMS sy as sy bemoediging nodig het, soms net om dankie te sê.” Sy glo haar ma se siekte was haar liggaam se manier om haar te dwing om bietjie te rus.

Haar pa, Samuel, drie broers, Sam, Mike en John, en haar skoonsusters, Marion en Linda, ondersteun haar elk op sy of haar eie manier, maar Milan glo sy as dogter weet soms instinktief wat om te doen. Toe haar ma se hare uitgeval het, het sy ’n spul hoede en serpe gaan aflaai. Die serpe was nie heeltemal in haar ma se smaak nie, maar die gedagte was belangrik en haar ma het dit waardeer. Logy verkies om ’n pruik te dra.

“Ek kan nie onthou dat my ma ooit voorheen siek was nie. ’n Ma mág mos nie siek word of doodgaan nie!” Só is sy gedwing om na te dink oor wat Logy as ma vir haar beteken. “Ek het baie getob oor wat sy vir my as kind en nou as vrou geleer het. ’n Mens kyk nie altyd na jou ma as ikon wat iets vir jou leer nie, sy is net daar as die ma-pakket. Noudat ek haar amper verloor het, kyk ek na haar as ikon. Sy het 55 jaar lewenservaring en nou weet ek: Sy weet beter as ek.”

Milan glo swangerskap leer haar meer van ’n ma se verantwoordelikheid. “Toe die swangerskap bevestig is, het ek so groot en volwasse gevoel! Ek het besef God dink ek is bevoeg, en vertrou my met ’n wesentjie.” Sy het besef hoe belangrik is emosionele voorbereiding op ’n baba. “My emosies skommel nog baie en soms kan ek nie aan die gedagte gewoond raak nie,” erken sy. Daar is ’n stapel bababoeke wat gelees word, maar sy meen die beste raad is dié van ’n vriendin wat gesê het jy moet jou eie instink vertrou. “En ek dink op 32 is ek op ’n punt in my lewe waar ek reg is vir die verantwoordelikheid van ’n kind.”

Sy wil die kind kreatief grootmaak, want sy glo aan innoverende denke. En as die kind haar voetspore in die vermaaklikheidsbedryf wil volg, sal sy en haar man, Schalk van der Merwe, nie keer nie. “Dink net hoe ’n suur mens ek sou wees as ek nie mý drome kon uitleef nie. My ouers het ons gekoester, maar ons ook toegelaat om vry in ons keuses te wees.”

 

Ek sal net ’n goeie ma kan wees as ek werk

 

Die swangerskap is die seël op haar en Schalk se huwelik. Hy is ook baie betrokke by die swangerskap. Hul verhouding het ’n hele paar draaie gegooi sedert sy hom as aspirant-teoloog by ’n vriend se partytjie ontmoet het. “Ons is al saam deur diep waters en die een ding wat ons bymekaar hou, is die feit dat ons pêlle is,” sê Milan.

“Daar wás kanse vir groot tragedie. Ons het albei baie verander. Schalk het toe nooit predikant geword nie en is nou ’n entrepreneur.”  Sy sê hulle het albei spiritueel gegroei. “Gelukkig het ons ná die groei weer by mekaar uitgekom.” Met hul vyfde huweliksherdenking het hulle in ’n klein plegtigheid op ’n strand by Wildernis weer trou aan mekaar beloof. Net hulle en ’n fotograaf was teenwoordig. Daarna het hulle ’n romantiese piekniek gehou. “Ek wou met eerlikheid aan hom sê as ek vandag weer moes kies, sou ek hom gekies het. Anders sou daar nie meer sin gewees het om saam te wees nie. Ek glo nou ons sal groot uitdagings saam kan hanteer, ook ’n kind se opvoeding.”

Milan gaan nie ’n tuisbly-ma word nie.“Ek sal net ’n goeie ma kan wees as ek werk. Ek is egter realisties en weet die kind kan my werk beïnvloed. Maar my werk sal beslis nooit belangriker as my kind wees nie.” Sy meen moederskap gaan haar ’n diepte gee wat sal maak dat sy ander soort rolle as akteur sal kan vertolk. Ook dat sy haar ander belangstellings sal kan uitbrei, soos haar skryfwerk. Sy sal drie maande ná die baba se geboorte begin rondkyk vir nuwe rolle.

“Ek sal seker nooit ophou droom oor groot rolle nie. Ek wil gedurende my swangerskap voorbereidings tref om dalk aanstaande jaar by die KKNK of die Grahamstad-kunstefees Athol Fugard se Hello and Goodbye op te voer. As ek nie self die regie doen nie, sal ek graag die karakter Hester Smit wil speel.

“My maatskappy, Blikaspaai, is nou ’n bietjie stil, want kunstenaars het nie geld om musiekvideo’s te maak nie. Ek is nie bereid om goedkoop video’s van swak gehalte te maak nie. Dis net die moeite werd as daar genoeg geld in die kunstenaar se begroting is.” Sy bedryf die maatskappy saam met Schalk en hulle maak baie korporatiewe video’s. Dit gee Milan die geleentheid om regisseur te speel.

Die slegte nuus vir kykers? Vanweë haar swangerskap het sy gevra dat Frankie uit Binnelanders geskryf word. Ons sal haar nog tot Januarie aanstaande jaar in dié reeks sien. Milan sê sy wou nie hê hulle moet Frankie swanger maak nie. Sy wil ook nie as “die vet, swanger aktrise” onthou word nie!

Intussen is die restourasiewerk aan hul karaktervolle ou huis in Linden, Johannesburg, hoog op die agenda voor die klein Van der Merwetjie in Januarie gebore word. Nuwe lewe, nuwe hoop “ná ’n jaar van twee wonderwerke” vir Milan.