Ons praat met

My plaas is Angelina en Brad se wegkruipplek

Hul wêrelde verskil hemelsbreed van mekaar: Angelina, die bekroonde Hollywood-ster, en Marlice, ’n vrou met ’n passie vir die natuur.

Sy bly op ’n wildsplaas, N/a’an ku sê, saam met haar man, Rudie. Natuurbewaring is vir hulle ’n roeping en om diere te help en te rehabiliteer is hul lewe.  

Baie mense sal haar onthou as die vrou wat in die Volkswagen-advertensie op TV saam met die driebeen-jagluiperd, Lucky, verskyn het.

Dit is juis haar ongelooflike slag met diere wat haar en Angelina se paadjies laat kruis het. Agt jaar gelede, op die stel van Angelina se fliek Beyond Borders, is aasvoëls van die rehabilitasiesentrum op N/a’an ku sê gebruik vir ’n toneel. Marlice was verantwoordelik vir die aasvoëls op stel. En terwyl sy ’n wakende oog oor die roofvoëls gehou het, het sy en Angelina aan’t gesels geraak. Hulle is tot vandag toe vriendinne.

Kort daarna het Angelina, wat toe nog met Billy Bob Thornton getroud was, by Marlice gaan kuier. ”Ek het haar na my ouers se plaas toe geneem, en ek het vir haar Namibië gewys,” vertel Marlice asof dit die normaalste ding in die wêreld is om Hollywood-sterre na jou ouerhuis toe te neem.

’n Paar jaar later, met Shiloh se geboorte, het dié glanspaartjie in Namibië gaan wegkruip. Marlice was bly om weer vir Angelina te sien, en sy het toe die eerste keer vir Brad ontmoet.

Die Jolie-Pitts stig groot liefdadigheidsprojekte in die geboortelande van hul aangenome kinders, Maddox, Zahara en Pax. Dié projekte wissel van klinieke tot natuurbewaringsinitiatiewe.

Omdat Shiloh in Namibië gebore is, het hulle geen uitsondering gemaak nie. Die Shiloh Jolie-Pitt Foundation werk saam met N/a’an ku sê se natuurbewaringsprojekte.

“Hulle besef nie hoeveel blootstelling hulle vir ons bied nie!” vertel Marlice. “Ons wil soveel moontlik plase in Namibië omskep in wildsplase waar wilde diere vry kan beweeg. En as jy net die naam Jolie-Pitt noem, verander mense se hele houding onmiddellik.”

Hulle het ook 2 miljoen Namibiese dollar geskenk aan die projek. “Dit is gepas, want Shiloh is só lief vir diere, sy is ’n regte sonskyn-en-bosveld-kind.”

Angelina is ’n wonderlike mens, sy is gaaf, sy is geweldig lief vir haar kinders en sy en Brad is plat-op-die-aarde, soos gewone mense,” vertel Marlice.

En die skinderblaaie wat elke tweede week voorspel dat Brangelina se verhouding op die rotse is, is duidelik verkeerd. “Brad is baie goed vir Angelina, hulle is baie gelukkig”, bevestig Marlice.

  • Elsie Groenewald

    Uhhhhmmm… Sy is nie veel van ‘n vriendin as sy haar "beste vriendin" se "wegkruipplek" verklap om media "exposure" te verkry nie…

  • mariè jamneck

    as sy weer kom voer haar bietjie pap en kaings dat sy gewig kan aansit en meer mens lyk!!

  • Ek stem saam Elsie!

  • Estelle Pretorius

    Ai, Elsie. Dit was in al die koerante oor Desembertyd. Sy het niks nuuts of opsienbarends bekend gemaak nie. Hul sal nog steeds in vrede daar kan bly, want die plek is peperduur. Marlice en N/a’an ku sê is alreeds bekend uit eie reg.

  • Esther Reynecke

    Nee, Meisie pêlle doen nie dit nie. Sy het jou vertrou en veilig gevoel. Nou "name drop" jy. Wat soek jy hieruit.

  • Tertia

    O flip , mense….
    As julle nie eers seker maar van julle feite nie lees julle mense se motiewe verkeerd. Moenie so eenvoudig wees nie!

  • Janine

    Ek is mal oor Marlice dis net jammer sy is nie meer op Groen op Kyknet nie. Ek dink die Jolie-Pitt familie kan hulle self gelukkig ag om vriende soos sy te he. Ek hoop die exposure van die Jolie-Pitt mense by N/a’an ku sê help Marlice en haar man met die wonderlike werk wat hulle doen.