ugly_intl_df_01336c_r
Ons praat met

‘n Nuwe fliek vir jou en hom

“I know how men operate.” – Mike Chadway (gespeel deur Gerard Butler)
“I love how you assume all men are as perverse as you are.”
– Abby Richter (gespeel deur Katherine Heigl)

Sleep vir manlief saam fliek toe wanneer The Ugly Truth op die grootskerm begin draai – dis ‘n slim, sexy komedie oor die groot wanpersepsies rondom hoe ons oor mekaar dink, fantaseer en mekaar probeer verlei. Katherine Heigl (van Grey’s Anatomy) en Gerard Butler (300) is kollegas wat daarop ingestel is om mekaar te verpes.

Sy is op soek na ‘n perfekte, gesofistikeerde maat en hy wil vroue uit hul droomwêreld wakker maak en hulle wysmaak dat mans net een ding op die brein het. Wanneer hy egter besluit om haar te help, gebeur die onverwagte . . .

SARIE praat eksklusief met Gerard Butler

Jy moes op grond van net die draaiboek kies om in The Ugly Truth te speel. Wat het jou na die rol aangetrek?
Ek’t onmiddellik gevoel ek wil hierdie rol speel. Van die oomblik dat Mike opdaag, het elke woord uit sy mond my laat lag. Soos die film aangaan en jy die vele lae van die karakter sien, kom jy agter presies hóé gek en histeries snaaks hy eintlik is. Hy’s ‘n gespanne figuur, maar ‘n goeie ou met siel. Ek’t nog nooit so ‘n karakter gespeel nie.

Hoe maklik was dit om jouself in Mike se skoene te plaas? Deel julle enige karaktertrekke?
Definitief! Ons het albei baie sterk persoonlikhede, en ons sê soms gewaagde goed. Dis ‘n Skotse ding. Ek probeer altyd iets in myself vind wat met die karakter ooreenstem – dan’s daar ook altyd die dele wat ek opmaak.

Mans is visuele wesens. Wat’s die eerste ding wat jy in ‘n vrou raaksien?
Ons is, daar’s geen twyfel nie. Kyk, die helfte van die tyd sien jy vroue wanneer jy op straat loop of hulle in ‘n verbygaande motor ry en leer ken jy hulle nie regtig nie. Jy sal haar oë raaksien, en dan loop die ding van daar af. Ek hou daarvan as vroue vir alles lag wat mans sê. My grappe is baie keer nie snaaks nie, en dan help dit as hulle darem lag. Maar mans hou van sexy vroue.

Wat’s vir jou sexy?
Soms sien ek ‘n vrou in ‘n kort rokkie, dan wonder ek, hoekom doen sy dit? Dit lyk simpel. Ander kere dink ek, oe, dis ‘n mooi paar bene. Dit hang af van hoe ‘n vrou haar voorkoms dra. Want aan die einde van die dag hou sexy-geit net 3 sekondes. Soms is ‘n vrou vir my sexy oor die manier waarop sy dink, ander kere bloot omdat sy my liefhet.

So, wat moet ‘n vrou hê om jou aandag te trek?
‘n Goeie sin vir humor. Ek’s mal oor spontaniteit, as hulle jou kan verras. Verder swig ek voor ‘n goeie hart.

Wanneer ons Mike vir die eerste keer ontmoet, sê hy alle selfhelpboeke sleg. Daardie soort waar vroue vir vroue en mans vir mans skryf. Dink jy die fliek sê iets rondom die idee dat die teenoorgestelde geslag dalk beter raad vir verhoudings kan bied?
Dis juis wat die film interessant maak. Ons het altyd ons eie idees en soms is dit goed om net vir ‘n slag na iemand anders te luister, of hulle ten minste halfpad te ontmoet. Dis geskryf deur drie vroue – hulle het mans so goed opgesom! Op die ou einde sien jy die vrou se idee van ‘n man en die man se idee van ‘n vrou.

Soos die fliek vra: Bestaan die perfekte man?
Dit hang af van jou persepsie van wat perfek is. Vir party meisies is die bad boy perfek, ander verkies die sukkelende kunstenaar. Abby se idee van ‘n perfekte man is nogal ‘n vaal outjie. Ek’s seker vir baie vroue is Mnr. Perfek iewers daarbuite. Gelukkige man!

Is dit vir jou sexy om te dans? (Mike en Abby doen ‘n vurige Latyns-Amerikaanse dans in die film.)
Ek weet nie of ek so sexy gevoel het nie, maar dit was ‘n sexy dans. Soms moet ek opgelei word om sekere goed in ‘n fliek te doen, soos kitaar speel en sing in P.S. I Love You. Dit maak my vreeslik op my senuwees. Ek was bang dat ek glad nie sou kon salsa as ek op stel kom nie. Maar hulle sê dit was goed!

Het jy vir Katie geken voor julle saam in die fliek gespeel het?
Nee, ons het net voor die verfilming begin het, ontmoet. Sy’s wonderlik, skerp en briljant – ons het soveel pret gehad! Sy maak ook nooit foute nie, binne twee repeteersessies het sy alles onder die knie gehad. Ek’s ‘n bietjie meer loskop . . . Sy was ook die vervaardiger, maar dit sou jy nooit sê nie. Sy kon ‘n nagmerrie gewees het, maar was dit glad nie!