mei08voorbladartikel1a
Ons praat met

’n Ster het geland . . . Paula!

Dis Diaan Lawrenson se dag – die kameras, die aandag, die styl, die glans. Almal, van grimeerkunstenaar tot stilis, draai om haar in die eksotiese omgewing van ’n luukse vliegtuig. Sy gloei. Maar dan kom daar dae wanneer sy die glans wil agterlaat en net terugkruip in haar privaatheid. Want vir haar bewonderaars is sy Paula van 7de Laan - en hulle sal haar volg tot in ’n kleedkamer. Soos op Laingsburg toe sy daar by die Wimpy gestop en ’n groep vroue haar agternagesit het. Een het selfs onderdeur die deur probeer loer. Dan smag Diaan na grense.

Mense dink sy is net so ’n gemaklike ekstrovert soos Paula. Sy is nie. Sy’s skaam. Maar sy probeer hard. Sy weet mense beskou haar as familie. Dis net: As jy in ’n supermark inkopies doen en skielik pak veertig mense jou toe! Die afgelope maande was die lewe in die kollig ekstra veeleisend vir Diaan oor haar verhouding met Jody Abrahams, gesoute teater-akteur, wat ook bekend is as Bennie in SABC3 se Hard Copy. Skielik was sy in die geel pers se visier, enersyds omdat Jody nog getroud was toe hulle begin uitgaan het – en ook omdat dit ’n inter-rassige verhouding is. “Dis ’n moeilike manier om ’n verhouding te begin. Enige verhouding gaan deur swaarder tye en daar is goed wat julle saam in privaatheid wil uitwerk. Ons het nie daardie ruimte gehad nie. Ons het probeer om uit die kollig te bly en kon dit in die begin regkry, maar dit het ál moeiliker geraak.”

Tog glo sy dit alles het haar en Jody se band net sterker gemaak. “Niemand kon tussen ons kom of ons van mekaar laat wegdryf nie. Ons verhouding het ’n toets deurstaan wat min ander verhoudings sou oorleef. Ons sou nie geslaag het as ons nie absoluut eerlik met mekaar was en mekaar heeltemal vertrou het nie. Jy kan nie bekostig om te glo wat mense in die pers sê nie. Jy moet jou maat vertrou. Jy moet weet jul verhouding is sterker as enigiets wat gebeur. Dis ’n vertroue wat groei, dis nie oornag daar nie.”

 

Ek en Paula het ’n love-hate-verhouding. Sy verg al my aandag en fokus

Sy erken die situasie toe hulle begin uitgaan het, was nie ideaal nie. Dit was een van daardie gevalle waar niemand reg en niemand verkeerd was nie, verduidelik sy. Jody se huwelik het reeds verbrokkel toe hulle mekaar ontmoet het. “Mense maak hul eie afleidings. Jy is in ’n situasie waar jy jouself nie kan verdedig nie. As jy dit probeer doen, is dit asof jy dit aanvuur, en dan het mense nóg meer om oor te skryf. Wat in mense se verhoudings aangaan, is hul saak. Dis vir my ’n heilige ruimte. Dit was vir my verskriklik toe ons storie uitgekom het. Ek het nog nooit deur so ’n moeilike tyd gegaan nie. Dit het ’n ongelooflike invloed op die mense na aan jou.” Dis vir Diaan belangrik dat mense weet Jody is vroeg verlede jaar geskei. En dit verstom haar dat sommige steeds ’n drama van die rassekwessie maak. Sy en Jody het gelukkig nog net een keer ’n probleem in die openbaar gehad, vertel sy. “Ons het in ’n restaurant gesit en kon nie verstaan hoekom die mense so lelik met ons is nie. Hulle wou ons nie bedien nie. Ná ’n rukkie het Jody gesê hy dink hý is die probleem. Ek kon dit nie glo nie! Ek praat nie van tien jaar gelede nie. Onlangs! Ek het uitgestorm. Jody het kalm gebly, want hy het daarmee grootgeword. Dit maak my seer as iemand hom so behandel.”

Haar familie aanvaar Jody met ope arms vir wie en wat hy is, onvoorwaardelik. Dit gaan vir hulle oor háár geluk. Vir Diaan en Jody was die kleurverskil nog nooit ’n kwessie nie. “Liefde weet nie wat jou velkleur is nie. Ons families gee nie om nie en ons gee nie om nie. Ek sien Jody nie as ’n kleur nie,” sê sy. Afgesien van die aandag wat haar verhouding kry, is dit vir haar moeilik om toenemend minder privaatheid te hê. Tog kan sy en haar mede-akteurs mekaar ure vermaak oor die snaakse goed wat met hulle gebeur net omdat hulle bekend is. “Dis deel van die ontlaaiproses, dis hoe jy leer om dit te hanteer. Jy móét. Elke mens wat na jou toe kom, dink hy is die eerste een van die dag. Maar hy is dalk die sestigste een en jy moet hom steeds belangrik laat voel.”

Diaan het van die begin af besef mense gaan anders teenoor haar optree as byvoorbeeld teenoor Chris Vorster, wat die meer bedeesde Ryno speel. Bewonderaars voel hulle kan meer familiêr teenoor haar wees omdat Paula so ’n gemaklike mens is. “Dis vir my moeilik omdat ek nie van nature met vreemde mense gemaklik is nie.” Sy sal soms agter ’n donkerbril wegkruip, maar voel dit gaan te ver as ’n mens jouself moet vermom. “As ek en Jody privaat wil wees, bly ons tuis en nooi pêlle oor. Maar wanneer ons wil uitgaan, gaan ons. ’n Mens kan tog nie ophou leef nie.”

Benewens hul gedeelde passie vir die teater is daar verskeie dinge wat haar na hom aangetrek het. “Sommige mense word met talent gebore. Hy is met magic gebore! Hy het dinge bereik wat ek nog wil doen. Hy kan moeilike situasies kreatief oplos en is nie iemand wat maklik op hol gejaag word deur die lewe nie. Hy’s ’n standvastige steunpilaar.”

Jody is ook baie goed met bewonderaars, sê sy. “Dis sy gemaklike geaardheid. Hy is al op die verhoog vandat hy agt jaar oud is. (Hy het in die eerste verhoogproduksie van Distrik Ses gespeel.) Hy het die vermoë om mense goed te laat voel as hulle van hom wegstap. Ek het al baie by hom geleer oor hoe om met mense te werk.”

 

Ek en Steve was kollegas & vriende – dis al

Hy ondersteun en beskerm haar ook by openbare optredes. “Soms kom jy in ’n situasie waarin jy regtig onveilig voel. Massa-histerie is nie ’n goeie ding nie, en met so ’n bietjie drank en joligheid by kan dinge maklik handuit ruk. As julle twee bekendes saam is, is dit erg. Veral in die Kaap waar Jody baie bekend is.”

Hoewel hy dikwels in die Kaap werk, woon hy nou in Johannesburg. Hulle pas hul verhouding by albei se bedrywige lewens aan. Diaan sê sy is geneig om haarself te oorlaai. Benewens 7de Laan is sy ook by ander teaterproduksies betrokke, soos onlangs weer by die KKNK saam met Chris Vorster in Dirk & Lindie. “Ek probeer elke jaar ’n bietjie meer kalmte in my lewe kry, maar dan doen ek dit maar weer aan myself. Ek beloof ek sal meer tyd maak vir my verhouding en familie en vriende, maar dit werk nie altyd so uit nie.”

Sy en Jody het ook ’n produksiemaatskappy, Jester Productions, wat onder meer korporatiewe werk doen. Hulle gebruik jong akteurs en gee leiding. Só deel hulle hul kennis. Baie van die stukke wat hulle opvoer, het ’n positiewe boodskap aan die gemeenskap. Dis vir hulle ’n langtermyn-belegging om iets van hul eie op die been te bring.

“Ek hoef nie noodwendig in die Laan te wees tot ek 60 is nie. Nie dat ek nie wil nie, maar ek wil ook elders groei,” sê Diaan. Met soveel hooi op haar vurk het sy nooit ’n dag af nie en dit hét al geboemerang. “Ek was einde laas jaar uitgebrand. Ek het begin duiselig word. Ek ly aan lae bloeddruk, maar dit het erger geword. ’n Dokter het rus voorgeskryf. Ek het na ’n homeopaat gegaan toe ek nie beter voel nie, en hy het vasgestel dat my pankreas en adrenalienkliere nie meer funksioneer nie. Dit was pootuit. Dit kan net soveel adrenalien oor ’n sekere tyd uitskei en alles was opgebruik.” Gelukkig was dit aan die einde van die jaar en 7de Laan het vir vier weke toegemaak.

Daar is vir haar altyd nóg ’n teks wat onweerstaanbaar klink. Wat sy nie kan weier nie. “As ek saans hier uitstap, is my dag nie klaar nie. Daar is woorde om te leer. Ek probeer my tyd indeel, maar voor ek my kom kry, is dit elfuur.”

Sy woon nie meer so baie sosiale geleenthede by nie. “Ek sal eerder my tyd deurbring saam met mense vir wie ek omgee.” Tussendeur die belangstelling in haar en Jody was daar boonop die geskinder oor haar en Steve Hofmeyr nadat hy as Brand in 7de Laan Paula se voete onder haar uitgeslaan het.

“Ek en Steve was kollegas en vriende terwyl hy by 7de Laan gewerk het – dis al,” sê sy. “Die aantygings dat daar ’n verhouding was, is totaal en al onwaar. Ek en Jody weet dit – dis al wat saak maak. Die geel pers maak en breek soos hulle wil vir sensasie, met geen oorweging van of kommer oor die nagevolge nie. Die mense naaste aan jou word ook deur die stories geraak en dit maak my woedend.”

Diaan kan goed verstaan hoekom mense in die vermaaklikheidsbedryf se verhoudings maklik onder die druk swig. Sy kry trane in haar oë as sy dink hoe gelukkig sy en Jody nou is. “Ons het ’n soul connection. Ons wil nie meer praat oor die verlede nie. Ons wil oor die nóú praat. Oor hoe gelukkig ons nou is.”

48 UUR IN DIE LEWE VAN PAULA

deur Diaan Lawrenson

Op die vliegtuig vra ’n reus van ’n man, ingewurm langs my op die Mango-vlug: “Moet jy daai hele boek leer?” terwyl hy afkyk na die teks in my hand. “So jy’s ’n aktrise . . . is dit ’n voltydse ding? Ek bedoel, iets wat jy doen om geld te verdien?” Hoe verfrissend, dink ek. “Ek’s ’n regte-egte aktrise,” antwoord ek geheimsinnig. “So, was jy al in iets wat ek sal ken?” Dié oomblik wil ek nie bederf nie, want soms is dit tog so lekker om anoniem te wees. Met sy knieë langs sy ore wag hy in spanning. “Ek werk tans aan 7de Laan.”

Die klok in sy brein slaan oor, skuins bokant Kimberley: “Nóóit! Maar . . . jy’s . . . Kyk, ek volg nou nie rêrig die ding nie.” (As ek ’n rand kry vir elke keer dat ek dít hoor.) “Maar my familie mis nie ’n episode nie.” (Nóg ’n rand vir elke keer dat ek ook dít hoor). “Jy is . . .” Hier kom dit. Die woorde bou in hom op: “Paula, jy’s Paula. Jis, nou voel ek lekker stupid. Jy’s my ma se favourite. Ek bedoel, hier sit ek langs Paula van der blerrie Lecq.”

Die afgelope vier jaar speel ek dié rol. Paula is my ander persona, my alter-ego en my openbare gesig. ek ken haar so goed, want ek loop heeldag in haar uiters ongemaklike hoëhakskoene rond. Ek en Paula het ’n love-hate-verhouding. Soms leef ons in harmonie saam en ander tye is dit amper ’n geveg tot die dood. Paula het oor die jare al baie vir my gegee: ’n Herkenbare gesig, wonderlike kontakte in die bedryf, vriende, die geleentheid om ’n verskil te maak en om elke dag totaal en al laf te wees. En ek word betaal daarvoor!

Sy het ook baie dinge weggeneem: my anonimiteit, my private lewe en soms (en ek weet akteurs haat om dit te erken) ’n bietjie van my eie identiteit.En glo my, Paula is demanding met ’n hoofletter. Sy vra al my energie, aandag en fokus.

Op Kaapstad se aanloopbaan onderbreek die groot man my gedagtes. “Nice om jou te ontmoet, Paula!” “Jy ook,” antwoord ek. Dit sal die laaste keer in 48 uur wees dat iemand nie vir Paula herken nie! Terwyl ek later regmaak, dink ek aan die drie uitgaanplekke in Kaapstad waar ek ’n draai moet maak, handtekeninge uitdeel, foto’s, geselsies. (Alle openbare optredes word deur 7de Laan goedgekeur. Soms reël hulle self die optredes, ander kere doen ons dit vir ‘buite-mense’. Partykeer word ons betaal, en ander kere is dit liefdadigheidswerk.)

Leonard en sy manne arriveer – dis tyd om te gaan. Hulle is ons lyfwagte en voor julle dink dis bietjie onnodig, luister eers . . .

My eerste ontmoeting met Leonard en sy manne was vroeg in Desember verlede jaar. Hoewel hulle nie soos die bodyguards in flieks lyk nie, vertrou ek hulle heeltemal. Hulle is kleiner, onopvallend. Leonard verduidelik: “’n Mens moenie lyfwagte sien aankom nie.” Hy hou daarvan om by die agterdeur van ’n venue in te gaan, want van daar af kan ons reguit verhoog toe beweeg.

Maar vanaand werk dinge nie volgens plan nie en ons moet ons pad deur ’n enorme skare mense oopbaklei. Dink jou die prentjie in – en dís so reg uit die movies! Leonard staan styf voor my en Dwayne styf agter my, met Jody agter hom. Die uitsmyters, gewoonlik ’n minimum van ses, omsingel ons en maak ’n pad oop. Leonard beweeg deur die warm klub soos ’n kragtige stoommasjien voor my terwyl hy hande, arms en lywe van my probeer weghou, want die mense gryp en vat, stamp en stoot. Dit voel soos ’n ewigheid voor ek uiteindelik op die verhoog is. Ek kyk op en daar’s ’n see van mense voor my, maklik duisend. Hulle gil en gaan mal: “Paula, Paula!”

Die atmosfeer is elektries. ek vat die mikrofoon en sê hallo en die geraas is oorverdowend. Dis die naaste wat ek sal kom aan ’n rockster! Kwart oor een die nag is ons (lewend) daar uit. Die adrenalien bedaar, en Leonard sê die ander twee geleenthede vir die aand is gekanselleer weens Eskom se kragonderbrekings. Ek is dankbaar.

Saterdagaand is ons in Eersterivier. Dis erger as Vrydagaand. Meer hitte. Meer mense. Pandemonium. Nog net twee keer in my lewe was ek bang dat ek nie ’n openbare optrede sou oorleef nie. Die eerste was toe ek, Mimi (Aggie) en Theo (Zander) in Witrivier amper in ’n gedrang van 4 000 mense doodgetrap is. Die ander keer is nou.

Massa-histerie. Daar is mense wat my oorrompel. Hoe hulle verby Leonard-hulle gekom het, weet niemand nie. Voort na die tweede geleentheid. Die derde een word weer gekanselleer weens ’n kragonderbreking. Vieruur die oggend kom ek tuis. Môreoggend (nee, vanoggend) vlieg ek terug Johannesburg toe.

 

  • Vicky

    Die foto’s in "’n ster het geland" is fantasties mooi! Die "look pas haar fantasties!