FOTO: Phyllis Green

Ons praat met

Naas Botha gesels met ons en wys sy foto’s

In die dae toe Naas Botha nog rugby gespeel het, was mense óf mal oor hom óf hulle kon hom nie verduur nie (lg. meestal nie Blou Bulondersteuners nie!). Met sy skopvoet – eintlik skopvoete, want hy kon net so goed met sy linker- as sy regtervoet skop – was hy bekend daarvoor dat hy ’n wedstryd vir sy span in die sak kon kry. Naas, die “Nasty Booter”, soos die Britse pers hom in 1980 gedoop het toe die Britse Leeus in SA kom toer het, was die doring in menige teenstander se vlees – die losskakel van die Blou Bulle en die Springbokke.

Vir die Bulle het hy 15 jaar gespeel en vandag nog sê mense soms Naas kyk deur ’n “blou bril” wanneer hy rugbykommentaar op TV lewer. Hy is die afgelope 14 jaar deel van die program Boots & All op SuperSport 1 (DStv-kanaal 201) en het ook al sy opinie op programme soos All Out Rugby (M-Net) en SuperRugby (kykNET) gelug. Naas onthou hoe SuperSport-kykers een aand SMS’e kon stuur nadat hulle gesels het oor ’n wedstryd wat die Blou Bulle gewen het. “Een ou het gesê ek kyk deur ’n blou bril, ek raak te opgewonde as die Bulle wen. En, en, en . . . Ek stap toe uit die ateljee en bel hom. Veertig minute later is ek nog nie klaar nie. Ek wou hom laat verstaan ek trek niemand voor nie. Die Bulle het gewen, dít is tog wat gebeur het. “Daar’s een span in hierdie land wat my opgewonde maak – geen ander span nie – en dit is die Springbokke. Ek stel nie belang wie wen die Curriebeker of die Super-14 nie. My lojaliteit lê by die Springbokke en klaar. Maar dis tog so lekker as ’n Suid-Afrikaanse span die Super-14 wen.”

Wanneer dié skoplegende rugby praat, praat hy reguit. Maar wanneer dit by rugbyspelers en hul skandes en skelmpies kom, hou hy eerder sy neus daaruit. “Ek dink dit gebeur gereeld dat ons nie die volle verhaal hoor nie omdat ’n rugby-ou nie in die media oor sy private lewe wil gesels nie. Hy voel dalk hoe minder hy sê, hoe gouer loop die storie dood. Die situasie is klaar vernederend en jy probeer so gou moontlik met jou lewe aangaan. Die beste woorde wat jy soms kan sê, is ‘geen kommentaar’.” Dís ook sy antwoord oor die Botha-Jooste-sage. Daar is al baie geskryf en gesê oor “Naas se buite-egtelike seun“ (die 22-jarige Frans Jooste), maar tog voel Naas dis ’n private saak.

Die één ding waaroor hy spyt is, is dat hy nie Amerikaanse voetbal ’n groter kans gegee het nie. Hy het in die vroeë 80’s ’n paar wedstryde vir die Dallas Cowboys by ’n opleidingskamp gespeel, maar uitgeval toe net 49 spelers gekies is. Later het die San Antonio Gunslingers, ’n voetbalspan van Texas, Naas genooi om te kom wys hoe hy skop. Die Gunslingers het in die Amerikaanse Voetbal-liga (USFL) gespeel.

Sy blou oë tuur terug in die verlede. “Daai dag het ek soos ’n bom geskop.” Hy is ’n kontrak aangebied, maar Naas het teruggekom SA toe om rugby te speel. “Vandag dink ek ek moes dit gevat het en minstens vir een jaar voetbal gespeel het.”

Vrae & Antwoorde

  
Jy’s ’n paar maande met langverlof, nog tot Februarie. Hoe het dit gebeur?
Dit was ’n gemeenskaplike besluit van my en SuperSport. Al wanneer ek nie werk nie, is Desember en Januarie. Die breuk was nooit lank genoeg nie. SuperSport het voorgestel ek neem langverlof om my batterye te herlaai sodat ek reg is vir die Wêreldbeker-rugbytoernooi volgende jaar. Ek hou my besig met die Hall of Fame-projek.

Vertel daarvan?
Die doel is om ons sport- en kunste-geskiedenis te bewaar. Johan Vorster van Mozi Records en die sanggroep Eden help met die kunste-deel. Ons beplan ’n ouditorium van 1 000 sitplekke, ’n stadion van 10 000 sitplekke en ’n Hall of Fame-gebou. ’n Legende gaan dan ’n week lank ingehuldig word. ’n Rugbylegende sal byvoorbeeld die Maandagaand staaltjies vir ’n gehoor vertel. Kan jy jou Frik du Preez se stories voorstel? Die res van die week sal jong outjies dalk rugby speel. As ons talent ontdek, wil ons ’n proses begin om dit te ontwikkel. Die beste van élke sport gaan vereer word, of dit nou veerpyltjies of rugby is. En ook die kunste. As iemand soos die regisseur Gavin Hood ingehuldig word, sal ons dalk ’n filmfees hou. Dis nie maklik om so ’n projek van die grond af te kry nie, maar ons doen alles in ons vermoë.

Mense het al gekla jou Engels as rugby-ontleder is nie altyd so goed nie. Hoe hanteer jy sulke kritiek?
Elke ou begin op ’n plek en moet leer. Engels is mos nie my huistaal nie. Dis soos om ’n Engelsman te vra om net in Afrikaans uit te saai. Die vraag wat ek myself altyd vra, en ek dink dis hoekom ek al so lank as rugby-ontleder oorleef: Is jy daar om my grammaties te beoordeel of is jy daar om te luister of ek rugby-sin praat.

En as mense sê jy’s ’n draadsitter?
Ek smile altyd as iemand dit sê. Ek kon dit nog nooit verstaan nie. As jy my vra wie môre van SA en Australië gaan wen [met die SARIE-onderhoud sou dié wedstryd die volgende dag in Bloemfontein plaasvind], glo ek as albei alles reg doen volgens hul vermoë, is SA ’n beter span [die Bokke het toe naelskraap verloor]. Maar ná vyf minute in die wedstryd kry ons dalk ’n geelkaart, die omstandighede is nie meer perfek nie en ons verloor. Nou gaan ek mos stupid lyk as ek voorspel het ons gaan wen. As ek wedstryde kon voorspel, het ek vir seker nie vandag met jou gesels nie. Dan het ek by die Bahama-eilande op ’n seiljag gelê. Mense sê ek’s ’n draadsitter as ek nie wil voorspel nie, maar ek probeer iets uit ’n wedstryd haal wat sin maak oor hoekom ons verloor of gewen het.

Leon Schuster vra of jy dink jy’s die beste Boklosskakel tot nog toe?
Daar kan nie die beste van enigiemand wees nie. Hoe vergelyk jy jouself met ander losskakels? Verskillende spelers het verskillende sterk punte. Dis vir my belangrik of ek rugby gespeel het tot die beste van my vermoë en of ek bygedra het dat rugby ’n goeie sportsoort in ons land is. So, Leon, om jou vraag te beantwoord: Nee!

Van der Vyver, ’n rugbyfanatikus van Pretoria, wil weet wat is die hoogtepunt van jou Springbokdae?
Al 28 wedstryde wat ek gespeel het, maar ek dink elke Springbok sal dit sê. Die eerste twee wedstryde in 1992 teen Australië en Nieu-Seeland, met ons hertoetrede tot internasionale sport, was ook ’n hoogtepunt.

Blou Bul-ondersteuners van Stellenbosch, wil weet of jy spyt is jy’t nooit die geleentheid gehad om 100 toetse vir die Springbokke te speel nie?
Nee. Ek is net dankbaar ek kon 28 toetse speel. Toe ek rugby gespeel het, was ons omstandighede anders. Ek het nie aan ’n Wêreldbeker-toernooi deelgeneem nie omdat SA nie toegelaat is om te speel nie. Waaroor moet ek tob?

Hulle wil ook weet hoekom ons jou nie in ’n afrigtingposisie sien nie?
Nie lank nadat ek opgehou rugby speel het nie, het ek by SuperSport betrokke geraak. Ek het al kleiner rugbyspanne afgerig, maar die TV-werk was net so lekker dat ek eerder daarop gefokus het. Ek wil die Hall of Fame-projek eers afhandel voor ek daaraan dink om iets anders te doen.

Is jy al gevra om die Springbokke af te rig?
Nee, nie amptelik nie. Ek is al baie deur ondersteuners gevra. Solank ek kan bydra, soos op SuperSport, is ek fine.

Wat doen jy om te ontspan, benewens gholf speel?
Ek sal graag drie keer per dag gholf speel, maar dis net gerugte dat ek dit regtig doen! Ek kombitter min op ’n gholfbaan. Sport hou my baie besig. (Hy haal sy BlackBerry uit.) Ek check elke dag wat met Amerikaanse bofbal en voetbal gebeur. Ek kyk ook altyd wat aangaan met Liverpool (die Engelse sokkerspan.) Dis my span, maar ons sukkel so . . . Ek lees elke dag die NewYork Times. Jy wil nie weet in watter land hulle dink ons bly nie. Dis drive by shootings . . . Almal kyk altyd na SA se probleme, maar elke land het probleme.Man, ek hou my op die hoogte van sommer alles.

Stel jy enigsins in die kunste belang?
Nie eintlik nie.Toe ek in matriek was, het die koormeneer vir my gesê ek moet ’n bietjie kom koor sing. Die koor het altyd ’n A+++ by die kunswedstryd gekry. Toe ek klaar was met hom, het hy ’n A++ gekry. Ek het die standaard so ’n bietjie afgebring.

Wat dink jy van ons Springbokspan?
Ek is een van hul grootste ondersteuners. Hulle lyk soos professionele sportmense. Hulle is fisiek in ’n uitstekende toestand. Kyk, almal het ’n opinie en myne is ook net ’n opinie: Ek dink dis reg om’n basiese wedstrydplan te hê,maar ons moet meer speel wat ons vóél, ons instink meer vertrou.

Wat is ons kanse om die Wêreldbeker in Nieu-Seeland te wen?
Ons moet ons titel gaan verdedig.Dít maak ons honger. Maar Nieu-Seeland is net so honger. Hulle moet regmaak vir meer as 20 jaar se verloor [Nieu Seeland kon die Wêreldbeker nog net in 1987 wen].’n Wêreldbeker word in ’n toernooi van ses weke gewen, nie vóór dit nie, nie daarna nie.Ek dink ons is reg,maar dit gaan nie maklik wees nie.

En Peter de Villiers?
Peter moet ’n bietjie uitgelos word om sy ding te doen. As ’n bal nie uitgeskop word nie of voor ’n oop doellyn aangeslaan word, is dit nie Peter se skuld nie.

En as hy soms die verkeerde goed sê, soos onlangs met Bees Roux?
Ek het geen kommentaar hieroor nie. Niemand verwag van die Springbokke, Proteas of Bafana Bafana se afrigters om niks te sê nie. As iemand jou ’n vraag vra,moet jy dit antwoord. Ek dink dit gebeur gereeld dat iemand dink hy doen goed deur iets te sê,maar dan word dit uit verband geruk.

Wat dink jy van sommige rugbyspelers se skelmpies wat al aan die lig gekom het?
As jy met my oor ’n rugbyspeler gesels, praat ons oor hom as speler. As hy iets anders wil doen, het dit niks met my uit te waai nie. Elke huis het sy kruis, ons moet regverdig wees hieroor.Elke ou het ’n private lewe,maar as jy dit gebruik om in die media te wees en die bomme bars, moenie kla nie.

Wat doen Karen deesdae?
Sy’s huisvrou, en help met die Hall of Fame. Ons werk goed saam. Ek is soms te positief, sy kyk meer krities na dinge. Die kinders word groot. Kyla is al 17. Gaeby (12) is nogal sportief en ek dink die kleintjie (Lee-gre, 7) gaan ook wees. Ek dink sommige mense dink ons is nie normaal nie.Karen was maar net op ’n tyd ’n Olimpiese verspring-atleet en ek ’n rugbyspeler. Dit was deel van ons lewe, maar op die ou end van die dag leef ons soos enige ander gesin.

Kyla het aandagafleibaarheidsindroom (ADD). Hoe hanteer julle dit?
Ons kom al byna 15 jaar daarmee saam. Dis nie maklik nie. Sy ervaar intense emosionele oppe en affe. Dit hou ons op ons tone. Intellektueel makeer sy niks. In haar skool is daar net tien kinders vir elke onderwyser.Kinders met ADD raak weg in ’n groot klas. Dit sal altyd ’n toets bly, maar dis nie onoorkombaar nie.

Is julle ’n hegte gesin?
Die Hall of Fame het ons lewe omvergegooi. Ek skuld my kinders agt jaar van my lewe.Ons kom nou tot rus.Op’n tyd was ek all over the show.Ek skuld hulle ’n ordentlike vakansie, want daar was omtrent elke Desember ’n krisis.

Wat wil jy nog vorentoe bereik?
Ek weet nie regtig nie.Ek dink ek sal tog daarvan hou om af te rig, maar ek weet nie of daar genoeg tyd gaan wees nie.

  • nvsife

    svz5SG ngxkaievmnqr, [url=http://cyapbjqserti.com/]cyapbjqserti[/url], [link=http://zjwwzppumikb.com/]zjwwzppumikb[/link], http://umwiwrjkfquf.com/