FOTO: Leana Clunies-Ross

FOTO: Leana Clunies-Ross

Ons praat met

Nadia Beukes gesels openlik oor nuwe kêrel

Die aktrise, sangeres en TV-aanbieder Nadia Beukes is ons pragtige voorbladgesig vir ons Julie-uitgawe. Sy gesels oor haar oornag-sukses én die nuwe liefde. Hier volg ’n uittreksel van dié onderhoud.

—–

“Sukses het ’n prys,” knik sy. “Baie van my vriende is al getroud met kinders en ek sal graag my eie gesin wil hê. Op 32 begin die tyd al minder raak, en steeds moet ek fokus op my loopbaan. Die ure is baie rof en daar is nie standvastigheid nie. Jy wonder altyd of jy volgende maand werk gaan hê, en ek smag beslis na ’n bietjie meer roetine.”

Sy is al sedert Januarie in ’n verhouding met David de Villiers, ’n eiendomsontwikkelaar van Pretoria.

FOTO: Instagram

FOTO: Instagram

David het intussen ook vir haar ’n klankbord en steunpilaar geword, sê sy. “Hy beïndruk my elke dag net meer en ons vul mekaar ook aan – hy is die rasionele linkerbrein en ek die emosionele regterbrein in ons verhouding.”

Dis die ene kuiltjies soos sy glimlag wanneer sy oor hom praat. Hulle het in November ontmoet, maar het al vir jare van mekaar geweet omdat hul ouers huisvriende is. “Toe het hy in November laas jaar Liefling by Montecasino kom kyk, waarin ek die rol van Jesse vertolk het, en vir my ’n boodskap gestuur om te vra of ons ná die tyd kan ontmoet. Ek het ingestemomdat ek van hom geweet het, maar nie veel daarvan gedink nie. Ons het daardie aand heerlik gelag en gekuier.”

Hulle het toe vir meer as ’n maand net per SMS gesels, want albei was oorsee met vakansie op verskillende tye, en Nadia was op die pad vir werk.

“Ons het toe agtergekom ons het dieselfde sin vir humor en baie dieselfde belangstellings. Hy’s intelligent en toe ons eindelik die eerste keer uitgaan, het ons gesels tot die restaurant toegemaak het. Hy het werklik, en heel onverwags, my voete onder my uitgeslaan!”

Dis die eerste keer dat Nadia in die media oor haar verhouding gesels. “Ons wou dit eers kans gee om te groei sonder dat daar druk van buite is. Ons verkies dit albei om ons persoonlike lewe vir onsself te hou en te koester.”

“Ek weet nie wat die toekoms vir ons inhou nie, maar sover is ons verhouding vir my wonderlik. In vorige verhoudings het ek geneig om te probeer aanpas by die ander persoon, of besluite geneem wat ek dink van my verwag word. Nou weet ek dis belangriker om dapper genoeg te wees om eerlik te wees en die regte besluite vir jouself te neem. En David gee my die spasie om te wees wie ek werklik is. Hy verstaan dat ek besig is, want hy is ook, en is nie geïntimideer as hy glansgeleenthede saam met my moet bywoon nie. Inteendeel, hy hanteer die rooi tapyt soos ’n pro!”

FOTO: Phyllis Green

Nadia Beukes en David de Villiers by die bekendstelling van Mooirivier vroeër vanjaar FOTO: Phyllis Green

“En hy dink nie minder van my as ’n vrou omdat ek dit nie geniet om te kook nie,” giggel sy. “Ek kan seker ’n eier kook en roosterbrood maak as ek regtig moet, maar ek koop maklik eerder iets by Woolies. David kan gelukkig heerlik kook – wat ’n bonus!”

Dit lyk behoorlik asof ’n towerfee haar staf oor Nadia se lewe kom swaai het. Maar, benadruk sy, daar was ook opdraandes om dié kruin te bereik.

“Ek het beslis foute gemaak en op die harde manier geleer. In my loopbaan én my persoonlike lewe. Ek dink byvoorbeeld aan hoe ek moes besef ek is net ’n mens, en dat ek nie by alles hoef uit te kom – of kan uitkom – nie. Ek het al baie onsuksesvolle oudisies gedoen en dis steeds vir my ’n uitdaging om nie teleurstellings persoonlik op te neem en emosioneel te raak daaroor nie. My hart was ook al in stukke wanneer verhoudings nie uitgewerk het nie en ek moes hard werk om weer in die liefde te glo. Nou sien ek elke geleentheid, verhouding of werk as ’n skoon blaadjie, ’n nuwe kans.”

FOTO: Instagram

FOTO: Instagram

FOTO: Instagram

FOTO: Instagram

nadia beukes

Dié Julie-uitgawe is ongelukkig nie meer op die rak nie, maar kan steeds digitaal HIER afgelaai word.