sr1006coverbinne6
Ons praat met

Nadia Valvekens: Nuwe liefde ná 10 jaar

Dit was op hul tiende herdenking van saamwees dat Nadia Valvekens finaal besef het: Dié verhouding is verby.

Sy moes tot siens sê vir ’n liefde wat maar net nie wou hou nie. Sy moes haarself ’n nuwe kans op geluk gee. Nadia, die lojale verpleegsuster Pippa Venter van M-Net en kykNET se Binneland Sub Judice (voorheen Binnelanders), het laat by die huis gekom ná ’n lang dag op stel. Haar kêrel het op die bank in die TV-kamer gesit. Hy was nog steeds ontsteld oor iets waaroor hulle kort tevore vasgesit het en nie tot ’n vergelyk kon kom nie. Sy kon nie meer ontken wat sy al die afgelope twee jaar geweet het nie.

En sy het net daar vir hom gesê sy dink hul paaie moet skei. Nadia onthou nog sy afwysing: “Jy besef seker dit gaan moeilik wees om weer van vooraf ’n verhouding te begin.” Maar skaars ses maande nadat hulle uitmekaar is, het Nadia weer liefde gevind – by niemand anders nie as Karl Thaning, die sjarmante plastiese chirurg dr. Nathan Richards in Binneland Sub Judice.

Nadia Valvekens

Karl sê oor Nadia

Toe ons die eerste keer ontmoet het, het Nadia pas haar vorige verhouding beëindig. Ons was kollegas by Binnelanders en ek het hard probeer om my gevoelens vir haar te ignoreer. Ek het gedink dit sou moeilik wees om saam te werk en ‘n verhouding te hê. Maar sy’t so ‘n wonderlike lag en sy’s pret.

Ek wil nou nie cliché-agtig klink nie, maar sy het die mooiste oë. Ons het albei ons gevoelens op die agtergrond geskuif, maar ons het net te veel van mekaar gehou. Toe gebeur die lewe: Ons het ‘n verhoudig begin. Ek is mal oor hoe gemaklik sy in haar vel is en hoe ernstig sy haar werk as aktrise opneem. Dít is een van die dinge wat ons gemeen het.

Een van die groot lekkertes is om op ‘n Sondagoggend saam koerant te lees en daarna te gesels oor wat in die wêreld aangaan. En ja, ons gesels lekker. Ek glo dit is wat nodig is in ‘n verhouding: Jy moet oor alles kan praat. Ek probeer om vir haar te sê hoe ek voel al laat dit my dalk minder na ‘n man lyk as ek emosionele dinge deel.

“Ek het een oggend wakker geword – ek kan nie eens presies onthou wanneer nie – en besef my verhouding met Nadia is ernstig en dat ons ‘n pad saam gaan loop.”

 

In die sepie is Pippa en Nathan ook ’n paartjie.

Dié nuwe romanse het haar onkant gevang. “Omdat ons saam werk en ook gemeenskaplike vriende het, was ons gereeld in mekaar se geselskap. Ons het baie gepraat en die verhouding het net gebeur. Voor ek my oë kon uitvee, het ek gevoelens vir hom gehad.”

Hulle is al vier maande ’n paartjie en in dié stadium pla dit nie dat hulle saam werk nie. “Ons is albei professionele akteurs en ons sal nie toelaat dat ons persoonlike lewe by ons werk inmeng nie.”

Dit help dat Karl ook ’n akteur is, sê Nadia.
“Hy verstaan wat dit vereis en beteken. Dít maak ons verhouding makliker.” Hulle is albei lief vir lees, teater, fliek en saam met vriende kuier.

“Een van die lekkerste dinge is dat ons oor dinge kan debatteer, maar mekaar se opinies respekteer. Karl vul my aan: Hy’s emosioneel intelligent, kreatief, maar ook realisties. Dis ’n wonderlike kombinasie. Ek voel veilig by hom. Ons verhouding is nog jonk, maar sover is dit lieflik.” Nadia glo nie sy het te vinnig ’n nuwe verhouding begin nie. “Ek het genoeg tyd gehad om myself uit te sorteer, want onderbewustelik het ek eintlik lankal geweet my verhouding met my vorige kêrel is verby.

“Ek het besluit om nie bang te wees vir seerkry… 

en om weer met ’n verhouding te begin nie. Vrees kan jou grootste vyand wees. Soms wag daar iets wonderliks op jou as jy ’n kans vat. Ek weet nie hoe lank my verhouding met Karl gaan hou nie, maar tans voel dit fantasties. Daar’s nie ’n waarborg vir verhoudings nie. Die beste wat jy kan doen, is om alles te gee.” 

 
Die tien jaar dat sy en haar vorige kêrel saam was, was ’n belangrike lewenservaring, sê Nadia.
Dis vir haar moeilik om oop te maak daaroor, want elke saak het twee kante en albei mense dra skuld aan die verbrokkeling. Sy kan net namens haarself praat. Sy het hom in haar matriekjaar in Pretoria ontmoet. Hy’t destyds in Engeland gewerk en sy het daar vir hom gaan kuier. Met sy terugkeer het die verhouding
 

Hy moes my met die land deel. Ek het baie aandag van die publiek gekry, maar ek het tog ook behoefte aan sy aandag gehad. – Nadia oor haar vorige kêrel.

 

in alle erns begin. Nadia was aangetrokke tot sy spontane persoonlikheid, sy vrygeestigheid en dat hy al oor die wêreld heen gereis het.

“Ons het dinge saam geniet, maar daar was van die begin af klein irritasies wat ek gedink het beter sou word soos ons ouer word.”” Hulle het twee eiendomme saam gekoop en saam ingetrek.

“Omdat ons albei uit gebroke huise kom, het ons aanklank by mekaar gevind. Ons wou iets moois skep wat vir ewig sou hou. En ons verhouding wás lank mooi.” Maar ná ’n paar jaar het dinge verander. Nadia het begin voel sy het meer emosionele ondersteuning nodig.
Haar loopbaan het begin vlamvat en sy het TV-rolle in onder meer Egoli, 7de Laan en Scandal! gekry voordat sy by Binnelanders aangesluit het. Sy glo haar bekendheid het bygedra tot die probleme tussen hulle.
Hy moes my met die land deel. Ek het baie aandag van die publiek gekry, maar ek het tog ook behoefte aan sy aandag gehad.” Nadia het ook nooit gevoel sy wil met haar kêrel trou nie. “Dít het al vir my gesê hy’s nie die man vir my nie, nie die een saam met wie ek gaan oud word nie.”
Ná agt jaar saam het sy vir die eerste keer uitgemaak. Maar toe besluit hulle tog om die verhouding nog ’n kans te gee.

“Ek is ’n dromer. Ek wou gehad het dit móés werk.” Kort daarna is hulle in een van sy kollegas se huis in Johannesburg deur rowers aangehou. Dit het hulle nader aan mekaar gebring. “Jy lê voor mekaar op die vloer en waardeer wat jy in die ander het. Maar dinge was steeds nie reg tussen ons nie.” Hulle het al hoe meer oor nietighede baklei en het gesukkel om in mekaar se ruimte te wees. Hulle was heeltyd geïrriteerd. “Dit was scary om te dink ons het op ’n tyd die beste in mekaar uitgebring. Ek wou nie meer huis toe gaan nie. Ek het op ’n punt gekom waar ek so moeg was dat ek nie krag gehad het om vir die verhouding te baklei nie.”

Nadia het gewag vir haar kêrel om die verhouding te beëindig, maar hy het nie. Die aand van hul herdenking het iets in haar gebreek en sy het vir hom gesê dis verby.

“Hoewel ek vreesbevange was om die verhouding te verbreek het ek êrens die krag gekry om dit te doen. Ek het geweet dit gaan my nie doodmaak nie. Dinge moenie net oukei wees nie – dit moet great wees. Jy moet die beste uit die lewe  kry, nie tweede beste nie.
“Ek glo jy moet hard aan ’n verhouding werk. As dinge moeilik raak, moet jy nie net opgee en weghardloop nie. Maar daar kom ’n punt dat jy die werklikheid moet aanvaar.”
Nadia het vir ’n ruk daarna magteloos gevoel. Sy was nie gewoond daaraan om alleen te wees nie.
Sy het haarself ’n paar keer afgevra of sy nie haar 20’s vermors het nie.
Nadia Valvekens “Ek dink dit was ’n normale vraag. Ek het gevoel ek het misluk omdat ek so lank in ’n verhouding gebly het wat nie gewerk het nie. Maar ek is nie spyt daaroor nie, want ek het baie geleer en daar wás gelukkige tye saam met iemand met mooi eienskappe. Hy’s kreatief en sal sommer sy tromme by ’n partytjie uithaal en mense vermaak. Of hy sal in die middel van die nag opstaan en sy vriend langs die pad gaan help. Dis iets om te bewonder – dat iemand so onselfsugtig kan gee. Ek dink nie ek gee altyd so vrylik nie en dit was ’n eienskap van hom wat ek prober aanleer het. Ek hoop ons kan eendag weer vriende wees.” Verhoudings moet opbouend wees, sê Nadia.

“Paartjies het ’n geneigdheid om mekaar se karakter aan te val as hulle baklei. As jy argumenteer, moet jy by die probleem hou. Om te baklei beteken nie ek hou nie van jou nie. Dit beteken net ek stem nie saam met dit wat jy gedoen het nie.” Hoewel teenoorgesteldes aangetrokke kan wees tot mekaar, is dit belangrik dat julle sekere belangstellings moet deel, meen sy. “Julle moet dieselfde dinge uit die lewe soek. Een groot les wat ek geleer het, is dat mense nie verander nie. As iemand op ’n sekere manier op iets reageer, gaan dit altyd so wees.” Sy weet steeds nie of sy ooit sal trou nie. “Ek dink ek is skepties oor die huwelik omdat my ouers geskei is. Ek wil nooit deur ’n egskeiding gaan nie.

As ek in my hart ’n eed afgelê het om getrou aan een mens te wees, wat maak my anders as iemand wat dit voor 80 getuies gesê het?

“Tog, wie weet, dalk is Karl die regte man vir my!”

  • SAnette

    Sy is n pragtige mensie en ekm gun haar en Haar kerel alles wat mooi is.

  • Landie

    Baie geluk julle 2, ek hoop dit sal sommer ‘n lang en gelukkige verhouding wees. Julle maak ‘n pragtige paartjie. En die foto’s….. dit is ongelooflik mooi!!!!

  • Bianca

    Ek was mal oor hulle as paartjie in binnelanders, en was baie hartseer toe dit nie uitgewerk het nie. (Ek weet dis net ‘n storie). Is so bly dat dit in werklikheid wel gebeur het, julle is vir my beslis die paartjie van die jaar. sterkte en seën vir julle pad vorentoe

  • Riekie Nel

    ‘n Baie mooi lewens verhaal Nadia. Ek het ook ‘n soortgelyke een. ‘n Verhouding van 6 jaar,toe vir 2 jaar getroud, en eensklaps was als verby. Ek is nie spyt oor die feit dat ons getrou het nie, as dit nie gebeur het nie sou ek seker nou nog in die verhouding vas gesit het…. Ek het agterna tot die gevolgtrekking gekom die troue was eintlik die beste ding wat kon gebeur, want toe kon ek van hom skei en heeltemal breek, anders as ‘n op-af verhouding sonder gevolge. Kort daarna het ek ook iemand ontmoet, en baie negatiewe kritiek van familie en vriende gekry. Ek het gedoen wat my hart vir my gese het, en ‘n jaar na ons ontmoet het met hom getrou. Ek kon nie vir ‘n wonderliker lewensmaat gevra het nie. So, doen wat jou hart vir jou se^, en vergeet van mense wat kritiseer. Sterkte.

  • Elsabe Watt

    Ek dink hulle maak ‘n baie mooi paartjie en alle voorspeod en geluk.

  • Ruby

    Julle is 4 maande saam en julle bly saam…hoe is dit moontlik? Wat het van die waardes en Bybelse standaarde in ons samelewing geword? Jy is so pragtig en ek het nou wraggies gedink hierdie vrou se waardes in haar lewe moet reg wees. Hoe groot my teleurstelling!

  • LS

    Nadia jy en Karl is die mooiste couple op die TV, ek gun julle alle sukses en baie liefde vorentoe. En terloops ek hoop ons sien eendag ‘n ring aan daardie vinger hoor.

  • Erna Swart

    Julle is beslis die ouklikste paartjie op en van die skerms.

  • alta

    wat het van die dr geword?