sr1112cover_inside_1_
Ons praat met

Nádine: “Ek was te hard op myself”

“Daar is vele fasette van my loopbaan wat ek nog wil ontwikkel. Ek werk tans aan my liedjieskryf-vaardighede. Baie mense weet nie eers ek skryf liedjies nie.”

’n Liedjie wat haar na aan die hart lê, is “Ek haal weer asem”, wat deur Rudi Claase van die Lieflinge-faam geskryf is. “Dit gaan oor bevryding. ‘Ek haal weer asem’ het my laat besef ons almal verdien geluk. Die moeilike en seer dinge in ons lewe is só swaar, ons móét die goeie dinge omhels. Ek het geleer as iemand sê ek sing mooi of my CD is goed, mag ek maar trots wees daarop.

“Ek was voorheen te hard op myself. Ek sou ’n optrede doen en vir my bestuurder vra of die mense dit geniet het, het dit gewerk, het ek te veel gedans, is my klere reg, is ek te bleek, was die klank te hard? Ek dryf myself omdat ek die beste wil wees wat ek kan wees. Ek het met geskeide ouers grootgeword. Dit skud jou uit jou boksie en dwing jou om realisties te wees. Ek weet jy moet in jouself belê om dinge te laat gebeur. Niemand gaan aan jou deur kom klop en jou drome waar maak nie.”

Nádine moes al baie kritiek en teleurstellings in haar loopbaan hanteer.

“Ek dink baie mense se beeld van my is dié van ’n meisietjie wat op die verhoog rondspring. Ek doen dit lankal nie meer nie. Mense besef nie noodwendig ek het gegroei en aanbeweeg nie.”

Nádine vlieg elke ses tot agt weke België toe – soms vir net ‘n paar dae – om liedjies op te neem vir ’n volgende internasionale album wat binnekort verskyn. This Time I Know is verlede jaar in Duitsland, Oostenryk, Switserland, België en Nederland bekend gestel. Suid-Afrikaners het ook aanklank by die CD gevind en dit het plaaslik goue status (20 000 eksemplare) bereik.

“Ek is tevrede met hoe This Time I Know in Europa gevaar het, maar ek het nog ’n lang pad om te loop voordat ek oorsee op straat herken sal word.Dis ’n moeilike een van baie jare wat voorlê om my doelwitte te bereik.”