Ons praat met

Natalie Becker oor haar rol teenoor John Malkovich in fliek

Dié fliek is gegrond op die gelyknamige Booker-pryswennerroman deur die SA skrywer J.M. Coetzee, wat deesdae in Australië woon.

“Dis heerlik om jou naam langs John s’n te sien aan die einde van die fliek. Ek het hom die eerste keer sowat ‘n jaar en ‘n half gelede by Waterfront Studios in Kaapstad ontmoet nadat ek ‘n oudisie vir die fliek geslaag het.

Hy vertolk die rol van prof. David Lurie en ek speel een van sy minnaresse, die Moslem-meisie Soraya. Sy’s ‘n ma en werk as prostituut. Dis ‘n moeilike maar uitdagende karakter. Sy’s ‘n ‘sakevrou’. Iemand wat hom verkul, en tog gló hy haar.

Jy moet haar twee kante – lig én donkerte – uitbeeld. Ek het die boek voor die tyd gelees en ‘n drama-afrigter het toegesien dat ek en John ons tonele repeteer voordat ons begin skiet het. Ek het baie seker gemaak ek ken my woorde!

Ek het baie by John geleer, soos om outentieke toneelspel te lewer. Hy klim in ‘n karakter in, wórd die karakter. Dit het my opnuut uitgedaag om ook my beste werk te lewer. Hy’s ook energiek, vrygewig met sy tyd, ‘n rustige mens. Ons het informele en grappige gesprekke tussen tonele gehad. Wanneer hy werk, is hy kalm en gefokus.

John het die Suid-Afrikaanse aksent goed bemeester. Ek het hom SA wyne laat proe (hy is dol daaroor) en ‘n paar keer by restaurante in Kaapstad saam met hom gaan eet. Hy woon die afgelope tien jaar in Frankryk. Dit was ook lekker om saam met die Australiese regisseur Steve Jacobs te werk.

As akteur is ‘n mens opgewonde, nie soseer senuweeagtig nie, oor jou rol in só ‘n rolprent.”

*Besoek www.imdb.com/title/tt0445953/.