Ons praat met

Natalie du Toit

Die Olimpiese swemmer Natalie du Toit het dié naweek die Cadiz Nova-swemtog tussen Robbeneiland en Bloubergstrand oor 7,5 km in 1:35.45 geswem en daarmee die Belg Annemie Landmeters se 22 jaar oue rekord vir vroue verbeter. Sy het ook al die manlike deelnemers uitgestof. Sy is sedert 2001 ambassadeur van die Vista Nova-skool in Rondebosch en het dié resies vir liefdadigheid geswem. Marguerite van Wyk het met haar gesels.

Dis ‘n wonderlike prestasie. Hóé het jy dit reggekry?
Die weertoestande was goed en die see was glad. Dit was nie soseer `n resies nie, maar ek het geswem vir `n goeie doel. Die werk wat aan dié skool gedoen word, is ongelooflik.

Wat het jou gemotiveer om deel te neem?
Ek neem reeds sedert 2001 hieraan deel. Nét ná my ongeluk het ek `n ambassadeur van die Vista Nova-skool geword. Ek en `n paar ouers van die skool het besluit om aan dié resies deel te neem om geld vir die skool in te samel. Dit geld is aanvanklik gebruik om `n swembad te bou wat vir die rehabilitering van leerders gebruik is.

Het jy dit geniet?
Ja, dit was nie `n ernstige kompetisie nie, maar dit was vir `n goeie doel.

Hoekom is jy so passievol oor liefdadigheidswerk?
Ek dink dit is belangrik om terug te gee aan die gemeenskap, veral aan kinders, omdat hulle die toekoms van die land is. Ek het groot geword in `n arm omgewing en ek weet wat dit is om nié iets te hê nie. Ek sal ook vanjaar fokus op die Central Gauteng Aquatics om swemmers se lewens te verbeter.

Was daar tydens die resies ooit tye dat jy swak gevoel het?
Nee, hoewel ek nogal koud gekry het. Ek het egter die heeltyd veilig gevoel.

Hoe het jy ná die resies gevoel?
Dokters het direk ná die resies my bloeddruk en hartklop gemonitor. Ek het baié goed gevoel nadat ek dit voltooi het. Ek het die begin van die jaar van afrigter verander en my oefenprogram aangepas en na Johannesburg getrek. Dit was `n goeie skuif.

Wat is jou volgende doelwit – persoonlik en in jou swemloopbaan?
Ek het die ander dag op `n suikerpapiertjie gelees: ”As jy een steen op `n slag verskuif, sal jy berge versit.” Ek oefen daagliks baie hard en probeer so fiks as moontlik wees, my sterk- en swakker punte met my afrigter en persoonlike afrigter bespreek en verbeter. En ek wil Johannesburg beter leer ken.

Hoekom is swem jou hele lewe?
Die vryheid in die water en die vriende wat mens deur swem maak, is iets ongeloofliks. Almal beleef dieselfde pyn as hulle oefen, almal probeer hul doelwitte bereik en dit is so ongelooflik as jy dit wél regkry en so hartseer as jy nié daarin slaag nie.

  • Monette

    Marguerite
    Ek is opsoek na Natalie se kontakbesonderhede. Ons wil haar nader om as gas op te tree tydens ons prysuitdeling.
    Ek is ‘n onderwyseres by Klein Boys High Paarl.
    Kan jy dalk help?
    Monette