sr1204nat_bobby01
Ons praat met

Nataniël en Bobby verklap: Hierdie aanhanger was vreemd!

Ongewoon, snaaks en vol verrassings. Nataniël en Bobby en die sterre van Afri-Frans, Afri-Spaans en Afri-Talia neem jou vir oulaas in Afri-Kaans op reis, die nuutste produksie deur musiekvervaardiger Matthys Maree.

Vir Afri-Kaans op reis keer al drie die Europese sangers wat aan Afri-Frans, Afri-Spaans en Afri-Talia deel
geneem het na Suid-Afrika terug om 
saam te span met plaaslike kunstenaars soos Nataniël, Bobby van Jaarsveld, die sangeres Liesl du Toit, die groep Adam en pianis Charl du Plessis.

Matthys erken Bobby en Nataniël 
is ’n onverwagse kombinasie . . . Maar kom ons hoor bietjie hoe voel hulle hieroor . . .

Vertel ons van jou ergste voorval van verhoogvrees . . .

Nataniël
’n Bietjie meer as twee jaar gelede moes ek die eerste en enigste keer in my lewe die gordyn ten tyde van ’n optrede laat sak. Ek het gedink ek is besig om te sterf, ek het nog nooit so iets beleef nie. Ná die tyd het ons besef dis my suikervlak wat skielik geval het. Daarna was dit vir my ’n jaar lank verskriklik om op die verhoog te stap, ek was elke aand bang iets gebeur. Dit het lank geduur voor ek my vrees oorwin het. Ek is nou 
eers weer gemaklik.

Bobby
Dit was nou wel nie op ’n verhoog nie, maar op ’n rugbyveld. Dit was gedurende ’n optrede by die heel eerste rugby-wedstryd wat in 2010 in die destydse Soccer City gespeel is en daar was 95 000 mense. Ek was in my lewe nog nooit so senuweeagtig nie. Dalk het die feit dat ek Annatjie daardie selfde aand gevra het om te trou ook ’n bietjie bygedra . . .

Watter ervaring met ’n aanhanger was vir jou die vreemdste?

Nataniël
Daar is baie vreemde ervarings. Onlangs wou ’n gesin my ’n fortuin betaal om saam met hulle te kuier. Iemand wou my Europa toe vlieg vir aandete. ’n Ma het ’n foto-album van haar gay seun laat aflewer en laat weet sy en haar man sal die seun se voorkeure net kan aanvaar as ek met hom trou. Verlede jaar wou iemand my sperm koop om ’n klein Nataniëltjie te maak. En so gaan dit aan . . .

Bobby
’n Meisie het ’n verskriklike groot broek(ie), soos in onderklere, op die verhoog gegooi. Regtig groot. Baie groot. Ek het geen idee gehad wat om daarmee te doen nie – of ek dit moet optel of ignoreer nie. Toe tel ek dit maar op en wys vir die mense. Ek 
kon sommer in my gesig voel ek was rooier as rooi.

Hoe’t jou heel eerste CD vir 
jou geklink?

Nataniël
Fantasties. En dis nou nog van my beste werk. Dis voordat ek beïnvloed is deur twak soos die regte mark, of  ’n moontlike radiotreffer of die nonsens wat platemaatskappye 
wil hê. Dit was eerlik en gesofistikeerd en baie mooi.

Bobby
Op daardie tydstip, in 2005, was ek gelukkig met die eindproduk, maar noudat ek baie gegroei het, luister ek maar moeilik daarna.

* In die April 2012-uitgawe van SARIE ruil Nataniël en Bobby klere uit! En hulle verklap meer oor hulself. . .

  • Michelle

    Hulle 2 saam op die verhoog gaan fantasties wees. Hoop hulle maak ‘n draai in PE. Kan nie wag.