Ons praat met

Natasha Sutherland: “Ek glo nog in die liefde”

“Die eina-oomblikke raak al minder. Maar daar is nog tye wat ‘n gedagte onverwags deur my hart gaan en ek ‘n “ouch!”- gevoel kry. Dan laat ek dit deur my sisteem vloei.”

Natasha Sutherland se egskeiding met Steve Hofmeyr is nog nie afgehandel nie. Al het sy tot ‘n jaar gelede nog ‘n vriend gehad wie sy Flash Gordon genoem het, het sy gevoel sy is nog nie reg om weer hart en siel vir iemand lief te wees nie.

“Ek leef vir die nou en het geleer om die verlede te laat gaan. Dit laat my vorentoe beweeg. Ek raak meer bewus van my eie keuses. En ek onthou die liefde … en minder van die hartseer.”

Mens kan nooit ophou om iemand lief te hê nie, glo sy.

“Maar om uit ‘n verhouding weg te breek en om die ander een vrede toe te wens (maar darem nie ten koste van jou eie welsyn nie – grense is belangrik …) is ‘n daad van LIEFDE. Sjoe dis moeilik, maar wonderlik as jy dit begin regkry!”

Haar verhouding met die geheimsinnige vlieënier, “Flash Gordon”, het ‘n doel gehad, glo sy.

“My tyd saam met hom was onmeetbaar goed. Hy was soos ‘n geskenk. En ek koester die herinneringe.”

 

Ja, dit gaan moeilik wees om weer vir iemand lief te wees soos ek Steve liefgehad het. ‘n Deel van my hart sal altyd ‘n leemte in die vorm van Steve hê. Daar is geen manier wat ek om dit sal kan beweeg nie. – Natasha Sutherland

 

Tog glo sy sommige verhoudinge is vir ‘n rede of ‘n seisoen deel van jou lewe.

“Ons verhouding het sy doel gedien. Ek kon insien dat dit nie ‘n langtermyn-verhouding sou word nie. Ek het verkies om dit te beeïndig om alleen te wees saam met my seuns. Dit is goed vir ons.”

Sy glo daar is eienskappe wat vroue sterk maak om ‘n gebreekte hart na ‘n man se ontrouheid te oorleef.

“Vroue het ‘n instinktiewe vermoë om hoop te midde van groot pyn te hê.  Dis asof ons die eb en vloei van die lewe verstaan. Asof ons weet daar kan hoop en iets nuut uit die as van pyn opstaan. Ons weet die einde van een ding kan die begin van iets nuuts wees.”

Vroue het uitmuntende vermoëns om op hul eie te herstel, glo sy. Maar iewers tussen ma, dogter, geliefde, vrou, sakevrou en vriendin wees, kan vroue hulself soms verloor.

“Ons is goed met ‘n nuwe begin en het filosofiese hoop in eindes, maar iewers in die middel verloor ons onsself. Dit is waaroor my volgende boek gaan: Hoe kry jy dit reg om jouself en die wonder van jou menswees lief te hê as jy voel of jou gees jou verlaat het?”

Sy glo beslis nog aan die liefde, maar sy verstaan die konsep nou anders.

 “Ek dink dit is een van die belangrikste leermeesters in ons lewens. Ons het miskien ‘n skewe beeld van liefde. Ons asossieer dit met soet en mooi dinge, maar dit is ‘n kragtige emosie.”

Natasha se nuwe kinderboek

Natasha Sutherland se nuwe kinderboek, Green & Blue, verskyn in Junie 2010. Dit gaan oor kinders en egskeiding en die uitdagings wat daarmee saamgaan.

 

Dit is volgens haar onrealisties om 100% vrede en geluk te probeer vind.

 “Ek dink ons verwar liefde soms met vrees. Hier is ek, ‘n enkelma op pad na 40 en ek is gekonfronteer met die moontlikheid om nuwe liefde te vind. Ek moet myself gedurig vra waarna soek ek en hoekom? Het ek iemand nodig om die eensaamheid te verdryf? Is dit dan ‘n keuse uit vrees? Het ek iemand nodig om my selfbeeld te poets? Is dit nie ‘n keuse uit vrees nie? Of wil ek saam met iemand wees omdat ek dit mis om vir iemand lief te wees?”

Sy het geleer om haarself lief te hê en om die avontuur van groei as mens aan te pak. Sy het haarself nou so lief dat sy dit graag met iemand wil deel, sê sy.

Sy hoop uit haar hart sy sal eendag weer ‘n man liefkry soos sy Steve liefgehad het. Met hart en siel.

“O ek hoop regtig so! Liefde is so ‘n pragtige emosie. Ja, dit gaan moeilik wees om weer vir iemand lief te wees soos ek Steve liefgehad het. ‘n Deel van my hart sal altyd ‘n leemte in die vorm van Steve hê. Daar is geen manier wat ek om dit sal kan beweeg nie.”

Sy beken dit was een van die moeilikste dinge wat sy in haar lewe moes doen: om iemand wie sy so baie liefgehad het, te verlaat.

“Ek moes kies om hom te verlaat want om te bly, sou my liefde vir myself skade aangedoen het.”

Sy beskou haar jaar as enkellopende as ‘n goeie sabbatstydperk. Sy staan nou weer voor die keuse om met mans te begin uitgaan.

“Ek het nogal die gewoonte om myself in ‘n verhouding te verloor. Dit gaan dus ‘n uitdaging wees. Maar om weer op iemand verlief te raak, sal weer nuwe lesse bring wat ek sal moet leer.”

Sy spot dat vroue hulle seksuele toppunt glo op 40 bereik …

“Eish! Dit is nogal skrikwekkend en opwindend! Hou vir my duim vas!”

  • SonetvanderHoff

    As ‘n mens werklik lief is vir iemand, vergewe ‘n mens. Maar daar is baie dinge wat jy nie vergeet nie!

    Ek is deur ‘n soortgelyke ondervinding. Op ‘n goeie dag het hy my die deur gewys en ek het daar uitgestap met niks nie. Net ‘n gebroke hart en siel. Ek was letterlik en figuurlik stukkend.

    Ander mense tree af op 40. Ek moes met ‘n lewe begin. Skielik moes ek werk, waar ek altyd versorg was. Alleen.

    Ek het vir twee jaar geen kontak met hom gehad nie. Net toe ek weer van myself begin hou het en dinge op ‘n manier begin werk het, het ek weer kontak met hom gehad. Ek dink dit was ‘n fout. Ek is steeds lief vir hom. Ek besef dat sekere dinge net nooit kan werk nie.

    As ‘n persoon ontrou is sal hy dit altyd wees. Ek besef ook nou dat daar soveel dinge is wat ‘n mens nooit vergeet nie. Veral as iemand jou lewe, hart en siel gesteel en verwoes het. Ek het geweldig troos gevind in Natasha se boek.

    Ek kon ook nog nie weer in ‘n verhouding betrokke raak nie. Miskien is my verwagting te groot. Andersyds dink ek ‘n mens raak selfsugtig. Ek wil nou my eie dinge doen. Sonder komplikasies. En dis lekker om weer van myself te hou.

    Persoonlik dink ek dit gaan om die vernedering. Die idee dat jy nie goed genoeg was nie. En ook die vraag: Wat maak al die ander vrouens in sy lewe dan so spesiaal?

    Ek vind berusting daarin dat ek nie met enigeen hoef te kompeteer nie. Dis lekker om te weet dat ek vir niemand hoef terug te staaan nie. En die lekkerste is die gedagte dat ek weer eendag gaan gelukkig wees. En ek wonder soms of hy ooit ware geluk sal vind.

  • nikki

    JOu ondervinding is so waar en ek het dieselfde beleef en vandag kyk ek terug 10 jaar later en besef ek is n beter mens, n beter ma en nog steeds n goeie vriendin vir my eks. Maar die lewe gaan aan , vir jou en jou kinders . My dogter is nou 21 en vaar haar eie roete in die lewe in en weereens besef ek as ek nou moes deurmaak wat ek 11 jaar terug deur is, sal ek soveel goeie dinge in die lewe gemis het om te klou aan iets wat dood was
    Jy boeke is fantasties en n moet lees vir elke vrou . Ek voel vir Amor en sy moet net sterk wees en bid vir daai OUCH moments .

  • lorraine

    ek verstaan heeltemal waardeur natasha gaan. Was ook gekonfronteer met n ander vrou/vrouens in n vorige verhouding. Selfs nou, n paar jaar later, kry ek steeds dae wat daar n gedagte deurgaan en n mens wonder. En ek moes ook besluit neem om hom te verlaat. Maar God het vir my die wonderlikste man oor my pad gestuur en ek kan nie gelukkiger wees nie. Daar sal altyd n plekkie in n mens se hart wees vir die persoon al het hy jou so seer gemaak, maar n mens leer om vrede daarmee te maak! die tyd is te kosbaar om oor die verlede te tob. Mens moet elke oomblik geniet!

  • Antoinette

    Wat ‘n pragtige skrywe deur iemand wat deur soveel seerkry gegaan het…sy het ‘n ongelooflike manier om met woorde om te gaan!’n Mens kry sommer ‘n deernis in jou hart vir haar, want dis net insig en wysheid wat "duur" gekoop is wat kan maak dat woorde so op die regte plekke gaan le, sodat ‘n mens deur die seerkry steeds die hoop kan koester. Vir jou Natasha, wens ‘n mens net mooi, en glo my dit sal weer kom, maar soos jy se….nie sonder uitdagings!

  • Hester

    Hi Natasha. Hou net aan glo in God, en wie jy is. Jy kom vir my baie sterk voor, maar omdat ek weet wat jy deurgemaak het, omdat ek dieselfde pad gestap het, maar vir my het dit anders gedraai. Ons is na 1jaar weer bymekaar en gelukkig getroud alweer vir 18jr getroud. As jou liefde vir Steve so groot is wat jy se, kan die Here julle weer bymekaar bring as julle wil.Jy is pragtig en leef vir elke dag, jy sal later stil staan en wonder hoe het ek hierdie pad alleen gestap. Maar weet dit daar is altyd iemand God, en Sy Gees wat saam met jou is. Hy se Ek sal jou nooit begewe of verlaat nie. Hy is daar. Wees positief, kyk positier, praat positief en leef positief.

  • Rosa

    Ek staan op die drumpel om te preek. Snaaks genoeg, het ek n preek van die Here af gebid. En die Here se ek moet preek oor vergifnis. Ek is onlangs deur n egskeiding, en was baie bitter oor wat my man my aangedoen het. Dit het my baie lank gevat om hom te vergewe, en tog, die oomblik toe ek dit oor my hart kry om hom te vergewe, toe voel ek soos n nuwe mens. Nou kan ek aangaan met my lewe sonder die las wat so swaar op my druk.