Ons praat met

Natasha Sutherland is terug op TV! Plus foto’s

Wat is die 3 gunsteling-rolle wat jy al vertolk het?

Wow, dit is ’n baie moeilike vraag, aangesien ek al sulke verskillende rolle vertolk het. Ek het al teater, musiekblyspele, kabaret, flieks en TV gedoen. Om net drie te kies is onmoontlik. Ek kan dit só opsom:

Rendezvous, ’n teaterstuk waarvan Ilse van Hemert die regisseur was. Dit was vir my ’n deurbraak in terme van persoonlike groei sowel as tegniek, en ek was mal daaroor om saam met Ilse te werk. Ek is selfs genomineer vir ’n Vita-toekenninng vir beste aktrise in ’n ondersteunende rol

Gigi, musiek-teater. Ek het die hoofrol gespeel en dit was wonderlik. Dis ’n lekker rol met baie dimensies. Gigi begin as ’n dogtertjie en eindig as ’n vrou, sy breek tradisies en glo sy is vir meer bestem as wat almal om haar dink.

• Die Pirate Queen in Tarzan: The Epic Adventures, ’n Amerikaanse TV-reeks wat by Sun City geskiet is. Dit was ’n fantasie-avontuur, so ek kon heeltemal doen wat ek wou met die rol. Dit was soveel pret om in ’n leer-eenstuk (cat suit) rond te hardloop en swaardgevegte te voer. My seuns sou baie in hul skik gewees het om my in daardie rol te sien!

• En… Rosemary Waxman in The Wild, ek het op die oomblik soveel pret met haar!

Watter rol het jy die heel meeste geniet?

Die rolle was op verskillende tye in my lewe, so dit het elkeen op ’n ander manier vir my betekenis.

Nou is Rosemary Waxman vir my die lekkerste. Sy manipuleer mense en sy is sterk en eksentriek op haar eie manier. Die rol is baie lekker geskryf en ek het die vryheid en energie om regtig pret te hê met haar.

Tog is dit ’n uitdaging om iemand te speel wat heeltemal in teenstelling is met wie ek is. Ek leer baie oor myself in die proses.

Vertel ons van die begin van jou loopbaan.

My eerste rol was toe ek as sesjarige ballerina in The Nutcracker gedans het. Ek onthou dit baie goed. Daar het ek net totaal verlief geraak op die verhoog!

Die eerste rol waarvoor ek op straat herken is, was my rol in Kideo, die kinderprogram op TV. Ek was die meisie wat met die donkie gesels het vir ’n lewe.

Waarom het jy opgehou toneelspeel?

Ek het die laaste sewe jaar nie regtig as aktrise gewerk nie. Die laaste keer dat ek toneel gespeel het,  was in ’n Pieter Toerien-produksie toe Ben (haar seun) nog baie klein was.

Ek dink dit is hoekom ek The Wild so geniet, dit is van voor af ’n heerlike avontuur!

Dit was nooit ’n bewuste besluit om op te hou werk nie. Maar toe ek my kinders gehad het, wou ek soveel moontlik tyd saam met hulle spandeer. Ek was bevoorreg, want Steve kon ons almal onderhou.

So het my loopbaan vir ’n paar jaar net opgehou – sonder enige kwade gevoelens. Maar nou, as enkelouer, moet ek weer werk.

Ek probeer my lewe so goed ek kan balanseer en ek eer myself as werkende vrou sowel as ma. Ek is daar vir my kinders en geniet my passies in die lewe – toneelspeel, skryf, motiveringspraatjies – en ek respekteer dat al drie op ’n manier vir ons geld inbring.

Waarvan hou jy die meeste: skryf, motiveringspraatjies of toneelspeel?

Ek kan nie kies tussen die drie nie. Toneelspeel was altyd my eerste liefde. Ek wou dit nie doen om bekend te word nie. En dit is die waarheid, ek het in ’n kunstenaarsfamilie grootgeword, tussen die kostuums, konserte en orkeste… 

Die hele wêreld van toneelspeel het my hart gesteel en ek wou deel wees daarvan. Daardie oomblikke wanneer jou mede-akteurs, die gehoor en jyself almal in een emosie connect is te ongelooflik om te beskryf.

Skryf het ook sy eie buzz. Dit voel asof ek in ’n ander dimensie is wanneer ek skryf. En dieselfde gebeur as ek motiveringspraatjies lewer. Ek is mal oor die opwinding daarvan om met ’n gehoor kontak te maak. Dit is terselfdertyd vreesaanjaend en opwindend. Dit help my om met mense van reg oor SA in aanraking te kom, dit is vir my ’n groot uitdaging en groeiproses.

Ek hou daarvan om kreatief te wees, en al drie dié passies laat my toe om my kreatiwiteit uit te leef.

Vertel ons van jou karakter in The Wild, Rosemary Waxman. Waarom is sy die teef?

En waarna kan kykers uitsien? Sy is nie op dieselfde manier ’n teef as wat lady Macbeth ’n teef is nie. Sy manipuleer mense, sy gebruik taktieke om te kry wat sy wil hê, en dit kan gesien word as wreed… Sy is baie oortuigend, daarom kom mense nie agter hoe misleidend sy regtig is nie.

Daar is altyd ’n rede waarom sy optree soos sy doen. Sy is verslaaf aan haar werk en kies dit bo enige mense of emosies. Sy wil altyd in beheer wees en sy wil die septer swaai.

Wat die rol so lekker maak is dat sy ook skerp en eksentriek is. Dit maak dit baie lekker om haar te speel. Haar doen en late maak dalk nie altyd sin vir die kykers nie, maar sy voer altyd iets in die mou wat later na vore sal kom – ’n verskuilde agenda…

Sy is ’n groot uitdaging! In my boeke en praatjies motiveer ek vroue om balans en geluk na te streef, om uit hul foute te leer en nooit mans te sien as die vyand nie, ek sê vriendskap is die heel belangrikste in die lewe… en toe kry ek die rol as Rosemary. Eish, God het ’n sin vir humor.

The Wild is fantasties. Dit het sy eie magic… Vroeg opstaan in die Johannesburgse winter, amper ’n uur se ry uit die stad uit. As ek in die grimeerstoel sit, wonder ek soms wat my besiel het. Maar as ons op pad na die stel toe moet stop vir volstruise wat oor die pad loop, en ek die maan en die sterrehemel sien verander na daglig, asem ek die skoon Bosveldlug in. Dis ongelooflik mooi! Afrika-mooi.  

Wat lê nog vir jou voor in 2011?

Ek is baie besig met die motiveringspraatjie wat saam met my laaste boek, Sprokie – ’n Soeke na sprankel, toer. Ek praat by korporatiewe geleenthede en gemeenskapsprojekte.

Ek raak al hoe meer betrokke by die skoonheidshandelsmerke Placécol en DNB (Dream Nails/Body) as handelsmerkambassadeur.

My liefdadigheidsprojek, Big Heart Foundation, verg ook baie tyd, ek samel geld in en doen projekte daarvoor. En natuurlik is ma-wees my nommer-een-prioriteit! Ek leer van voor af weer saam met hulle van kondensering en verdamping, ek maak vliegtuigies uit herwonne gemors en ry hulle rond na al hul ander verpligtinge.

Vir meer oor Natasha se doen en late, oor waar sy praatjies lewer en haar liefdadigheidswerk, gaan na www.natashasutherland.co.za of volg haar op Twitter en Facebook.

 Natasha Sutherland in haar rol as Sam in Egoli  Natasha Sutherland as Sam in Egoli
 Christine Basson, Natasha Sutherland, Mary-Anne Barlow, Louise Barnes, Lindie van Eeden, Brumilda van Rensburg, en Catriona Andrew  Darren Kelfkens, Mary-Anne Barlow, Natasha Sutherland en Deon Coetzee
 Natasha Sutherland saam met die donkie op Kideo  Natasha Sutherland saam met kollegas op die stel van Kideo
 Natasha Sutherland op die stel van Kideo  Natasha Sutherland en medeakteurs in Sinbad 1995
 Natasha Sutherland saam met lede van die geselskap van The Stunties, 1996  
  • Cta

    Hierdie vrou is "flippen" pragtig !!! Doen so voort Natasha…Mwah

  • Deon

    Sy bly mooi en ek bewonder haar na als wat sy deur gemaak het is sy terug met n BANG

  • Lititia

    Jy is absoluut ‘n vrou duisend, jy het alles in jou lewe so waardig hanteer, dat baie by jou kan leer. Ek gun jou elke stukkie geluk, vrede en sukses in jou lewe. Geniet die twee seuns want voor jy jou oë uitvee is hulle groot. Jy is ‘n inspirasie vir al ons vroue.

  • Zuz

    Toe ek daar was waar Natasha so ruk gelede haarself bevind het, eht hierdie liedjie geksryf deur Koos van der Merwe van die Gospel groep Prophet by daagliks gedra! Hierdie is spesiaal vir jou Natasha, hoop jy kan iewers die CD kry en daarna luister.

    Opstaan liedjie – Koos van der Merwe

    mag jy mooi wees as die lelik verby is
    en sag kyk na elke harde tyd
    mag jy bly wees as die huil verby is
    en vrede hê na die stryd

    verkeerde goed kom môre weer reg
    en die wyn is soet na die bitter en sleg

    mag jy opstaan as jy seer geval het
    en jou vrae verdwyn as die antwoord kom
    mag jy huistoe kom as jy klaar verdwaal het
    en die winter los vir die son

    en mag jy droom, mag jy ook vergeet
    en op plekke woon wat van horisonne weet

    jy kan opstaan as jy seer geval het
    en jou vrae verdwyn as die antwoord kom
    jy kan huistoe kom as jy klaar verdwaal het
    en die winter los vir die son

  • Nemesis

    Ek het soveel respek vir jou. Jy ‘trash’ nie jou eks nie, behou jou waardigheid en hardloop nie met vuil wasgoed na die media toe nie. Natasha, jy is werklik ‘n dame en rolmodel! Alle voorspoed vir jou vorentoe in jou loopbaan en enige ander rigting waarin jy wil gaan. Vir ‘n mens soos jy, is daar altyd ‘n weg. xxx

  • Elizabeth Viljoen

    Natasha jy is vir ons almal ‘n voorbeeld. Dankie.

  • VEE

    NATASHA JY IS N DAME DUISEND…..NIE SOOS DIE ANDER WAT GEDURIG MET HUL TRASH NA DIE MEDIA HARDLOOP…….EK BEWONDER JOU ……BLY ALTYD NET SOOS JY IS!

  • Karen

    Natasha, jou seuns is bevoorreg om jou as Mamma te he! Baie Blessings!

  • Esta

    Jy is beslis n groot inspirasie vir my en alle vroue!
    Geniet jou lewe, daar is net een!!
    Wees altyd opreg, niemand kan dit van jou wegneem nie.
    Sterkte en voorspoed!!