FOTO: Leana Clunies-Ross

Ons praat met

Natasha Sutherland praat oor haar nuwe rol

Hoe voel dit om ná byna ’n dekade weer op die verhoog te wees?
Ek is baie opgewonde, maar ook skrikkerig. Ek hoop maar dit is dieselfde as om fiets te ry! Ek het in dieselfde verhoogstuk gespeel toe ek in my vroeë twintigs was – toe ek jonk genoeg was om die rol van die minnares te speel. Nou is ek ouer en wyser en speel die eggenoot … en ja, ek sien die ironie hiervan!

Hoekom het jy besluit om in dié komedie te speel?
Ná jare van (nodige) introspeksie en ’n tydperk waarin ek baie geleer het, het ek gedink dit sal fantasties wees om balans terug te bring deur eenvoudig lawwe pret te hê. En dit is presies wat hierdie komedie is – lawwe pret! Ek wou ook graag saam met die regisseur Stephen Stead werk. Ek ken hom al ’n geruime tyd en geniet sy werk.

Teater was my eerste liefde en hoe ek opgelei is as aktrise. Daarna het ek meer televisiewerk gedoen, wat ’n wonderlike groeikurwe was. Dit sal lekker wees om na my wortels terug te keer!

Geniet jy jou rol in die sepie Scandal?
Ek is mal daaroor! Die karakter wat ek speel, Layla, is gekompliseerd met ’n interessante geskiedenis. Aan die begin hou jy nie van haar nie, maar dan kom jy agter sy is nie so eendimensioneel nie. Sy is ook maar net bang en het haar eie foute. Jy ontwikkel later empatie met haar.

Ek het goeie terugvoer van die publiek gekry. Iemand het op my sosiale netwerk gesê hulle het nog nooit so ‘n hartroerende toneel gesien soos die een saam met my seun in dié sepie, Quinton [Brighton Ngoma], nie.  

Dié rol het my as aktrise uitgedaag en ek het die geleentheid gehad om met talentvolle jong akteurs en aktrises saam te werk. Ek is baie gelukkig dat hulle my karakter verder ontwikkel en dat ek terug op Scandal gaan wees.

Watter een verkies jy, televisie of die verhoog?
Albei is wonderlike mediums met verskillende voor- en nadele. Televisie bied jou ’n mate van buigsaamheid omdat jy tonele kan oorskiet, waar teater gevul is met adrenalien omdat jy vir elke oomblik verantwoordelik is.

Met televisie kan jou toneelspel klein en getekstureer wees. Die teater bied jou die bykomende energie van die gehoor, wat onvoorspelbaar, opwindend en senutergend is – alles op dieselfde tyd.

Jy studeer logoterapie (’n denkrigting wat glo dat die strewe om betekenis in jou lewe te vind die primêre dryfveer in mense is). Geniet jy dit?
Ek studeer al die afgelope paar jaar deur Unisa se sentrum vir toegepaste sielkunde. Dit is baie uitdagend en iets waaroor ek passievol is. Dis verrykend, insiggewend en uitputtend … maar die moeite werd. Ek is nou ’n assosiaatlid van logoterapie en is besig om my diploma in logoterapie-navorsing te voltooi.  

Ek is mal oor my lewe … Ek kan van ernstige akademiese materiaal beweeg na slapstick komedie in een dag! Hoe awesome is dit?!

Jy speel in ’n sepie, repeteer vir Don’t Dress for Dinner, is ’n skrywer, motiveringspreker, student én ’n ma. Hoe balanseer jy alles in jou lewe?
Eisshhh … met moeite en met die hulp van my vriende, huishulp, my agent, die seuns se peetpa, Henk, deursettingsvermoë, ’n wekker, genade, die goeie verhouding tussen my en Steve oor die kinders se besoeke, vitamien B-inspuitings, gebede, die liefde en ondersteuning van my pragtige kinders … en ’n goeie dosis dankbaarheid en humor!

[box:full:red:both]

Don’t Dress for Dinner is ’n satiriese komedie oor owerspel en gourmet-kookkuns. Dit speel af naby die Krugerwildtuin in ’n luukse private vakansieoord. Bernie wil sy Johannesburgse minnares, Suzy, hier onthaal vir die naweek. Hy het gereël vir ’n topsjef en sy beste vriend, Rob, saamgenooi as ’n alibi. Bernie is ook besig om sy vrou, Jackie, af te sien wat by haar ma gaan kuier.

Dit lyk asof Bernie se planne glad gaan verloop. Wat kan tog verkeerd gaan? Natuurlik alles! Dit bied die perfekte resep vir ’n aand van snaakse misverstande. Bespreek by Computicket

Don’t Dress for Dinner is van 6 Maart – 14 April by Montecasino in Johannesburg te sien en van 17 April – 11 Mei by Theatre On The Bay in Kaapstad.

[/box]