credit_robert_hamblin
Ons praat met

Neef Gert op BBC

Neef Gert, die komiese karakter in 7de Laan, verskyn vanjaar in ’n nuwe gedaante op die BBC-kassie. Akteur Ben Kruger het ’n rol as speurder in die Britse TV-dramareeks Silent Witness losgeslaan. Die verfilming begin op 15 April. Hy was onder andere die tronkbewaarder James Gregory in die TV-fliek Mandela and De Klerk. Maar hy’t ook ’n ander passie – motorsport, het hy aan Mercy Morkel vertel.

 

Wie is Ben Kruger weg van die kameras?

Ek’s taamlik stil, eintlik skaam. En ek raak van frustrasies ontslae deur resies te jaag. Ek is navigator van die Suid-Afrikaanse Veldwedren-kampioenskapbyeenkomste.

Ben is seker ’n verkorte weergawe van … ’n familienaam? Glo jy aan familiename?

Ek is gedoop Barend Johannes Kruger, my oupa se name. Familiename gee mens ’n sin van waar jy vandaan kom.

Jy’s genader vir dié rol in Silent Witness. Hoe was die oudisie?

Dit was in Johannesburg. Ek het die teks gelees, bietjie gesels en toe vra die regisseur my of ek die rol wil hê. Ek sê toe “ja”. Sy woorde was: “See you in Cape Town!”

Hoe het jy gevoel?

Nou kan ek ’n paar rekeninge betaal!

Dit word in Houtbaai en Kaapstad verfilm. Hoeveel episodes?

Twee episodes word hier geskiet. Die Britse akteurs kom SA toe as deel van die storie. Hulle kry dan met Suid-Afrikaners te doen.

Jy’s ’n Pretorianer. Hou jy van die Kaap?

Ek het familie in die Kaap en ek kuier gereeld daar. Ken die plek soos die palm van my hand.

Kyk jy Silent Witness?

Ek kyk die reeks al lank. Ek hou van Britse TV, en verkies dit bo Amerikaanse TV.

Jy’s ’n gesoute akteur. Is jy steeds senuweeagtig vóór ’n oudisie?

Nie senuweeagtig nie, maar wel opgewen. Ek probeer my altyd goed voorberei en ek is altyd positief.

Wanneer het die toneelgogga gebyt?

Dit het begin met radiostories, ens. toe ek nog op skool was. My eerste fliek, in 1973, was in Dave Millin se Die Voortrekkers, as Dirkie Uys.

Jou heel eerste rol?

In die TV-reeks Opdrag, wat gehandel het oor die wel en wee van ’n groep soldate wat vir die Weermagtydskrif Paratus werk. Ek was ’n skarminkel wie se gunsteling-uitdrukking was: “Ek weet, maar ek mag nie sê nie!”

Jou lekkerste rolle tot dusver?

Mnr. De Wet in Skooldae. Dít was die begin van alles. Maar ek was mal oor Kobus Koen in The Game, Sakkie Bezuidenhoudt in Zero Tolerance en natuurlik Neef Gert ook.

Herken mense jou deesdae as Neef Gert?

Ek word aanmekaar voorgekeer en dan moet ek eers vertel hoe dit met die mense in die Laan gaan!

Hoe verskil jy van dié karakter?

Ek lag nie soos hy nie. Hy’s vetter as ek, dra wangbaarde en hoëhakstewels van krokodilvel. Maar ons hemde stem baie ooreen.

Baie van jou rolle is in uniform. Sou jy in ’n ander lewe ’n polisieman wou wees?

Nee, glad nie. Ek sou ’n professionele renjaer gewees het!

Waar kom dié passie vandaan?

Ek het van kleins af saam met my pa Kyalami toe gegaan. Dis maar een van daai dinge wat so saam met my gegroei het.

Jy het ook in ander lande gewerk.

In Tanzanië het ek Industriële Teater gedoen (sien www.learningtheatre.co.za). Vir The Game (SABC TV-reeks) is van die tonele in Italië geskiet. Ek was vir ’n SAL-advertensie in Hongkong. En vir dokumentêre rolprente het ek ’n draai in Mosambiek en Namibië gaan maak.

Praat jy ander tale behalwe Afrikaans en Engels?

Ek praat bietjie Italiaans, bietjie Duits, bietjie Zoeloe, bietjie Swahili, sommer so opgetel terwyl ek in bogenoemde lande gewerk het. Ek leer nou Spaans. My pa het ook ’n goeie oor vir tale gehad. Ek verstaan Portugees en Frans, maar ek kan nie my tong om die uitspraak kry nie!

Vir watter rol slyp jy nog jou tande?

Ek wou nog altyd Macbeth gespeel het. En ek wil graag weer ’n vrouerol speel in ’n Marthinus Basson-produksie. (Hy wil my altyd in ’n rok sit!)

Toekomsplanne?

Ek wil aan die Dakar-wedren deelneem. En ek wil die land plat toer met my eenman-kabaretvertoning Tjoklits en Trane.