Ons praat met

Neels van Jaarsveld, oor sy Hollywood-ster-kolegas

Neels van Jaarsveld is ‘n bedrywige akteur. Eers was daar ‘n rits hoëprofiel-verhoogproduksies, gevolg deur die Eish!-advertensies wat baie aandag getrek het. Toe was dit Binnelanders, nou The Bang Bang Club vir die silwerdoek . . .

Fanie Cronjé en Neels het lekker gesels:

Daar’s jy toe in ‘n ongeluk terwyl julle aan Bang Bang Club gewerk het. Wat het gebeur?
Ons was besig om ‘n toneel te skiet waar ek op ‘n Casspir moes klim. Die director skree toe action en die ou wat die Casspir bestuur, begin te vroeg ry. Ek begin toe agterna hardloop en gryp aan ‘n handvatsel. Toe skree iemand slow, en die ou hoor go en hy ry vinniger! Ek het op ‘n trappie probeer klim, maar trap mis. Dit is toe dat ek my been breek.

Het niemand dit gesien nie?
Dit was ‘n regte lekker war scene. Daar het vure om my gebrand en dit was ‘n skietery. Ryan het wel gesien wat gebeur.

Ryan, soos in Ryan Phillippe?
Ja.

Is julle nou pelle?
Ja, jy kan seker maar so sê. Ons het lekker vriende geword. Ons almal het goed oor die weg gekom. Die internasionale mense was great om mee saam te werk. Ek en Frank Rautenbach is ook vriende.

Het jy Ryan se telefoonnommer? En sê nou maar jy is in Amerika, sal jy hom bel vir ‘n drink?
Ja. Ek sal hom so kan sien. Die fliek word juis by die Toronto-filmfees uitgereik. En dalk volgende jaar het ons ‘n klein reunie in Cannes.

Wat sê hy van Reese Witherspoon?
Ons het nie oor haar gepraat nie.

Maar Neels, dit sou die heel eerste ding en seker die enigste ding wees waaroor ek met hom sou wou gesels!
Nee, man, ek is nie jy nie.

Waarmee is jy nou besig?
Ek moet nou eers na my gesondheid omsien. Ek is vir ses tot agt weke in gips en dan gaan ek vir fisio.

Dis lank.
Ons kyk so na 12 weke.

Sal jy teruggaan Binnelanders toe?
Ek is oop vir enigiets. Ons moet kyk wat gebeur. Dit was great om daarvan deel te wees. Dit was baie lekker om met ouens soos Dawid (Minnaar) te werk. Ek het lekker pelle daar. So, ek sal nie omgee nie, maar ons kyk wat gebeur.

Dalk slaan jy ‘n internasionale loopbaan los as Bang Bang eers uitgereik is.
Sal dit nie great wees nie? Mens moet maar wag en kyk wat gebeur.