Ons praat met

Nadia, Donnalee … jy kan ook só lyk!

Die jong en talentvolle fotograaf Hanri Human verstaan die impak van foto’s. Klein-klein het sy al die wêreld om haar – haar poppe, haar sussie, hul tuin – deur ’n kameralens bekyk. En haar ouma se SARIE-tydskrifte geraadpleeg vir foto-idees.

Vandag maak sy naam as gewilde fotograaf van bekendes, en haar bande met SARIE is nog stewig. In 2010 was Hanri die eerste wenner van SARIE se Matriekafskeidrok van die Jaar.

Op net 24 het sy al vier tydskrifvoorblaaie, byna 50 troues en honderde fotosessies in haar portefeulje. SA se eie Mej. Wêreld, Rolene Strauss, was al voor haar lens, en sy het saam met voorste modeontwerpers soos Kobus Rautenbach en Anel Botha gewerk, asook saam met die bekende Paryse troufotograaf Fran Boloni.

Iéts aan Hanri maak dat mooi vroue graag deur haar afgeneem word. Veral mense soos aktrises en ander met ʼn openbare profiel, mense wat verstaan dat die foto’s wat van jou in die kuberruim rondswerf, daar is om te bly. Vir ewig. Soos diamante in die James Bond-fliek Diamonds Are Forever. Jy kan maar sê Foto’s is vir ewig.

Donnalee Roberts

Diaan Lawrenson

Amalia Uys

Anel Alexander

Nadia Valvekens

Rolene Strauss

Ons het haar gevra wat haar fotografie-geheim is, en sy het ’n paar professionele wenke met ons gedeel.

Wat moet jy doen om seker te maak dat jou foto die mooiste en beste is wat dit kan wees?

1. Daar is niks so mooi soos natuurlike skoonheid nie, maar wanneer dit kom by foto’s is dit soms nodig om ’n bietjie oogskadu en lipstiffie te gebruik. Grimering beklemtoon jou oë en gesig en maak dat die foto lewendig lyk (pop). ’n Bietjie maskara of ’n kleur op die lip maak die wêreld se verskil aan ’n foto!

2. Wees gemaklik met jouself en met jou fotograaf. As jy styf en ongemaklik is voor die kamera, gaan dit in jou foto’s weerspieël. Geniet die proses en laat gaan ’n bietjie. Dis makliker om iemand af te neem wat pret het as iemand wat stokstyf staan van spanning. As jy kamera-sku is, ontmoet ’n paar fotograwe voor die tyd en kies iemand wat jou persoonlikheid en styl akkommodeer.

3. Location , location, location! Dis baie belangrik WAAR jy die foto neem. Die agtergrond vertel die storie. Neem die foto’s op ’n plaas, in die stad se strate of in die Bosveld. Wees kreatief!

4. Vertrou jou fotograaf. Luister na jou fotograaf se aanwysings oor posering en lig. Hy of sy wil jou op jou beste laat lyk en sal jou laat sit of staan op ’n manier wat jou lyf en gesig so lieflik en vleiend moontlik laat lyk. Selfs al voel dit vir jou bietjie vreemd.

5. Los jou PINTEREST-prentjies by die huis. Gee jou fotograaf kreatiewe vryheid om jou af te neem op jou mooiste en natuurlikste sonder om hom of haar te wil voorsê. Kom gerus met idees, maar moenie verwag om ’n foto te kry met jou hare in die wind voor Tafelberg as jy in Pretoria bly nie. Wees realisties, oopkop en geniet jouself.

Hanri, vertel ons meer oor die pad wat jy gestap het om te kom waar sy vandag is.

Van kleins af was ek doenig met ’n kamera. Ek onthou hoe ek my poppe mooi aangetrek het en in die tuin afgeneem het met ’n goedkoop mik-en-druk. My pa het toe sy filmkamera vir my gegee en op 10-jarige ouderdom het ek gevoel ek het die wêreld aan my voete. ’n Hele nuwe wêreld het vir my oopgegaan waarin ek kon leer en speel. My arme sussie en haar maats moes hul vryheid prysgee vir my amateur-fotosessies. Sodra ek ’n maatjie in ons erf gewaar het, het ek dié en my sus opgetof, opgedollie en van hoek tot kant gekiek. Dit was altyd ’n hele gedoente en die pret het ons vir ure besig gehou. Ek het my ouma se hope SARIE-tydskrifte gefynkam en my eie tydskrifte met foto’s begin maak.

My pa kon sien die foto-gogga het my behoorlik gebyt en het een middag ’n intreevlak-kamera by die huis aangebring.

My lewe het verander. Deur dié stukkie tegnologie het my drome groter en groter begin word. Op skool was ek die meisie met die kamera. As daar iets gebeur het, was ek daar. Van sport, tot meriete-aande tot konserte. My lewe was ’n fotosessie en al my maats was deel daarvan. Ons het Saterdae saam met my gewillige en geduldige pa in die kar gespring op soek na mooi fotohoekies en dan het ons die dag weggekliek en om gespeel.

In matriek moes ek mooi dink oor my toekoms. Ek het geweet my hart lê by fotografie, maar was te bang om dit voltyds aan te pak en het toe eerder besluit om onderwys te studeer met die plan om later ’n honneursgraad in joernalistiek te kry. Dit het glad nie so uitgewerk nie.

Nadat my studies ’n paar draaie gemaak het, het ek begin foto’s neem vir ’n bekende fotografie-onderneming in Gauteng. Ek moes baie vinnig grootword en die studentelewe inruil vir die grootmenslewe. Skielik was ek ’n student met ’n besigheid en moes ek my studies en my nuwe beroep balanseer. My ouers en vriende was darem heelpad ondersteunend en daarvoor was ek baie dankbaar. In my finale jaar het ’n plaaslike tydskrif my genader om vir hulle foto’s te neem. Dié platform het my so baie geleer oor die bedryf en oor myself. Dit was beslis my deurbraak.

Hanri Sarie

Hanri Human