madiba
Ons praat met

Nelson Mandela. Madiba.

Maar hy bly nederig en gesels net so graag met gewone mense as bekendes. Is dít nie wat ons in ’n ware held soek nie?

By SARIE het ons deur die jare ’n skatkis van Madibaherinneringe versamel. Soos die vieringe vyf jaar gelede toe hy 85 geword het. SARIE was een van maar ’n handvol tydskrifte wat genooi is, en die redakteur,Michélle van Breda, het die Madiba-magic beleef by ’n makietie in Johannesburg wat deur duisend mense bygewoon is. Ons verjaardaggeskenk tóé: ’n Voorblad spesiaal vir hom gemaak, geraam in goud.

Die feestelikhede was besprinkel met internasionale bekendes soos Bill en Hillary

Clinton en hul dogter, Chelsea, die popsanger Bono, Oprah, supermodel Naomi Campbell, Hollywood-akteurs en koningin Beatrix van Nederland . . .

Maar ook honderde Suid-Afrikaners, gewone mense en bekendes soos Sandra Prinsloo en Amanda Strydom, Pik Botha, Constand Viljoen en Desmond Tutu, Bobby Skinstad, Joost van der Westhuizen en Breyton Paulse, Sol Kerzner,Mark Shuttleworth . . .

 

Die gehoor het reeds die oggend onder Bill Clinton se inhuldigingstoespraak spontaan “Happy BirthdayMr President“ begin sing toe Madiba op die verhoog verskyn, vertel Michélle in haar redakteursbrief (September 2003). “Die aand het die banketsaal ontplof toe hy die vertrek in ’n kenmerkende Madiba-hemp binneloop. Die spyskaart is deur hom opgestel – sy gunsteling-kos: Maleise lensiesop, braaihoender met aartappels, soetmielies, groente en malvapoeding met vanieljeroom. En saam met die koffie – koeksisters!

“Toe die ‘Queen of Africa’, Yvonne Chaka Chaka, haar verskyning op die verhoog maak en die gehoor aanpor om saam te dans en hande te klap, was Madiba uit sy stoel om sy Madiba-jive te doen. Dit was waarvoor die gaste gewag het! Hulle het gebrul van plesier.

“Laataand is hy daar weg sodat ‘die jongmense’ verder partytjie kon hou. Hy was die man van die oomblik en dit was die aand van ’n leeftyd. “En altyd sal Bill Clinton se woorde daardie dag my bybly: Madiba het die wêreld die vryheid en vreugde van vergifnis geleer.“

Dit was ook Suid-Afrika en Madiba se vergifnis wat Michélle geïnspireer het toe sy in 2002 as tydskrif-redakteur uit Afrika gevra is om na aanleiding van die 11 September terreur in Amerika ’n stuk vir die Nederlandse tydskrif Libelle te skryf. Bydraes van oor die wêreld is ingesamel vir die projek Global Heart waardeur idees oor positiewe denke en ’n gees van eenheid uitgespreek is.

In haar redakteursbrief van September 2002 deel Michélle die slotparagrawe van haar stuk met lesers: “Mense wat ondanks die hartseer en vrae van die verlede vandag bereid is om met waardigheid mekaar die hand te reik. Om ten spyte van politieke, kulturele en godsdienstige verskille te help bou aan ’n nuwe en beter toekoms vir ons almal. Mense, ’n nasie, wat bereid is om te vergewe. “Sekerlik is dít die lig van Suid-Afrika en ’n les aan die wêreld. En dan is dit geen wonder nie dat hierdie land en hierdie kontinent een van die wêreld se grootste seuns en die kampioen van vergifnis kon oplewer: Nelson Mandela.“

Nou sê ons weer: Gelukkige verjaardag, Madiba! Mag jou magic ons land bly raak en bly hoop gee. ‘As ’n vrou jou haar woord gee, hou sy daarby’

(Madiba,SARIE,16 Julie 1997)

46 sarie Augustus 2008

SARIE-inspireerder

Vir vyf SARIE-redaksielede sal hul ontmoeting met Madiba by Tuynhuys in Kaapstad in 1997 altyd ’n mylpaal bly.

“Ná ons onderhoud met Nelson Rolihlahla Mandela het ek die betekenis van ’n Messias verstaan. Hier was ’n Messias: ’n Gees veel groter as groot, ’n lewe veel meer as ’n lewe. As ek terugdink aan daardie helder Tuynhuys-oggend, onthou ek hoe die hele vertrek met sy teenwoordigheid gevul is toe hy instap. Die onderhoud, ná omtrent ’n jaar se aanhou, was ’n lewenshoogtepunt. SARIE kon ’n inspirerende gesprek met haar lesers deel. En ons wat daar was, het weggegaan met inspirasie waaruit ons altyd weer kon tap.“

Prof. Lizette Rabe, voormalige redakteur van SARIE

“Ons het daardie dag Madiba-magic, waaroor só baie geskryf word, ervaar. Die waardigheid was dáár die oomblik toe hy die vertrek binnestap. Hy was hoflik en het ons vrae uitgebreid beantwoord. Ons was vrolik-verspot toe hy aandui hy sal saam met ons vir foto’s poseer. Ek het die indruk gekry hy geniet dit baie.“

Alida Vos, nou adjunk-redakteur, SARIE

“Ek was só oorstelp ek het ’n oomblik gedink ek val flou. Tydens die onderhoud was daar geen teken van die warm, vriendelike Madiba nie – dit was Nelson Mandela, wêreldstaatsman, wat ons vrae met erns en aandag beantwoord het. Eers toe ons toegestane dertig minute verby was en ons stoep toe is vir foto’s, het ons daardie sy gesien: Gul sit hy ’n arm om elkeen se skouer vir nóg ’n foto, vra uit oor Nazeema se swangerskap, oor ditjies en datjies . . .“

Elna van der Merwe, nou teksredakteur, Huisgenoot

“Ek was swanger.Madiba het aan my maag gevat en gesê hy hoop dis ’n pragtige, wonderlike kind. My seuntjie, Mogamat Aasif, het net vyf dae gelewe. Dit was baie hartseer, maar my ander kinders (nou 15, 8, en 7 jaar oud) vergoed daarvoor.“

 

Nazeema White, nou IT-projekkoördineerder, Media24

“Ek was vars uit universiteit en SARIE se baba. Toe ek my vraag moes vra, was die oomblik te groot. Ek kon nie onthou wat dit was nie! Toe sê ek maar: ‘Mr President, if you don’t mind I’ll just read my question.’ ‘Not at all,’ was sy antwoord. Ek moes die artikel ná die tyd lees om te sien wat hy geantwoord het!“

Maryke Cumpsty, nou webredakteur, SARIE

In September 1997 het SARIE ’n eksklusiewe onderhoud met Madiba gekry. “Hy was alles wat ek verwag het – en méér. Intelligent, sjarmant, warm, humoristies, medemenslik . . . Voor ons onderhoud begin het, het hy my tot oor my twee dogtertjies uitgevra. Wat my finaal uitgeboul het, was sy afskeidswoorde: ‘Mooi loop. En sê liefde aan Heléne en Marietjie.’”

Suzette Truter, nou SARIE se leefstyl-redakteur, wat destyds die artikel geskryf het:

Vader en oupa

“Ek dink aan dié verjaardag as ’n soort Vadersdag. Of Madiba-dag, waarop ons kan sê: Dankie! “Ek bewonder hom omdat hy my herinner om maar net ’n mens te wees. Om na die basiese beginsels van menswees terug te keer – want juis daaruit word grootsheid gebore. Die mens wat ons bewonder, is juis dié een wat eenvoudige beginsels, norme en waardes verteenwoordig: soos vergifnis, versoening, eenvoud, eerlikheid en getrouheid. “Soveel uitdagings staar ons land op die oomblik in die gesig. Dis nóú ’n gepaste tyd om onsself te herinner waarna Madiba streef. Om onsself moreel te hervorm – en só die veranderinge waarna almal so dikwels verwys, by onsself te laat begin. Vóór ons dit van ander verwag.“

Zelda la Grange, Madiba se persoonlike assistent

“Ek het hom ontmoet toe ek so sewe was. Hulle het ons vertel hy is in die tronk. Maar dit was ’n huis met ’n swembad, sitkamer en sjefs. Daar was ’n videomasjien en ons het flieks gekyk. Ek het gedink ek wil ook sommer gou tronk toe gaan – by my huis was daar nie die helfte van dié goed nie! (Madiba is van 1988 tot 1990 in ’n huis by die Victor Verster-gevangenis buite die Paarl aangehou.) Hy het my geleer om altyd nederig te bly.Om nie te spog oor wat jy het nie, want daar is mense met min of niks. En jy moet altyd jou beste doen, jou volle potensiaal gebruik. Ek sou graag wou hê hy moet meer tuis ontspan en ophou om rond te vlieg asof hy my ouderdom is. Verkieslik in die Transkei, ek weet hoe hy dit mis.“

 

Ndaba Mandela, Madiba se 25-jarige kleinseun, wat politieke wetenskap aan die Universiteit van Pretoria studeer

Rolmodel vir ons lesers

“Hy het aan die wêreld iets gebring wat nooit weer ongedaan gemaak sal kan word nie. Hy het gewys anderkant die kleinlikheid en kleinserigheid van ons daaglikse bestaan is ’n grootser, ruimer menslikheid moontlik – wat mense en leefwêrelde by mekaar kan uitbring en versoen. Elkeen van ons het die keuse om dié ‘groter menswees’ uit te leef.“

Magdaleen du Toit, taalpraktisyn by Unisa, Pretoria

“Hy het my geleer ’n mens kan ná enige negatiewe situasie doelgerig opstaan, positief wees en ’n groot sukses van jou lewe maak. Ek respekteer sy volgehoue pogings tot vrede – nie net in Suid-Afrika nie, maar wêreldwyd.“

 

Sanet Cloete, sekretaresse, Pretoria

“Hy het my die vryheid gegee om net maar ’n mens te wees. Ek kan by ’n winkel instap sonder die vrees dat iemand my skeef aankyk omdat my velkleur nie ‘reg’ is nie.“

Nicolette Pieterse, tuisbly-ma van Mamre naby Malmesbury

Vredemaker

“Vandat ons as studente aan die Universiteit van die Witwatersrand ontmoet het, was hy optimisties dat daar in ons leeftyd nog vryheid en gelykheid vir almal sal wees. Dat demokrasie sal seëvier en almal met menswaardigheid behandel sal word. Hy glo misdaad en armoede sal minder word en dat ’n beter lewe op almal wag. Ek sal altyd onthou met hoeveel dapperheid hy die moontlikheid dat hy die doodstraf opgelê kan word, aanvaar het. En dat hy die mense vergewe het wat hom 27 jaar tronk toe gestuur het.“

Adv. George Bizos, Madiba se vriend van meer as 60 jaar, wat hom in die Rivonia-verhoor (1963–1964) verdedig het

“’n Vooraanstaande Amerikaanse professor het in die vroeë negentigs gesê die 21ste eeu het begin met Nelson Mandela se vrylating uit die tronk. Hy het vrede in ons land bewerkstellig. In die meer as twee dekades wat ek saam met hom gewerk het, het ek besef sy openbare lewe is ’n verlengstuk van sy innerlike vrede.“

Kader Asmal, buitengewone professor aan die Universiteit van die Wes-Kaap en voormalige minister van onderwys en watersake

 

“Vóór ons eerste ontmoeting was ek gelyktydig opgewonde en geïntimideer. Ek is egter oorweldig deur sy buitengewone welwillendheid en onvoorwaardelike gewilligheid om jou tuis te laat voel. Ek het by hom geleer om nederig en beskeie te wees in my omgang met mense uit alle vlakke van die samelewing. Die woorde wat hy die meeste teenoor my gebruik? ‘Dankie vir jou hulp!’ Eenvoudig, maar swaar aan betekenis.“