Ons praat met

Shaleen Surtie-Richards terug op TV

“Hier kom ’n ding!” vertel Shaleen aan sarie.com. “Ek speel die rol van Fran Jacobs. Sy is ’n baie suksesvolle skrywer en sy is vreeslik flambojant.” Shaleen sê sy gaan die mense in die Villa so bietjie skok…

Fran is Dr. Anthony Jackson (Roderick Japhta) se niggie, en hy is heel op sy senuwees oor haar teenwoordigheid in die Villa. Hy weet hoe Fran haar neus in almal se sake kan indruk op soek na stories vir haar karakters in haar boeke.

“Fran is nie iemand met wie jy wil sukkel nie, sy sê net wat in haar kop opkom en staan haar man. En glo vir my sy is lus vir Astrid (Therese Benade),” vertel Shaleen.

Fran is heeltemal die teenoorgestelde van Nenna, wat Shaleen in Egoli gespeel het. “Ek en Fran is baie dieselfde, ons hou van juwele, lang naels, extentions en baie praat, terwyl Nenna se voete plat op die aarde was, sy was nie flambojant nie…”

Shaleen se karakter is voltyds in dié kykNET sepie, alhoewel sy net agt dae per maand werk. “Dit pas my soos ’n handskoen, want dit gee my tyd om ander vertonings en teater ook te doen. En ek wil in my lewe nooit weer so vas wees soos wat ek by Egoli was nie!”

Die verskil tussen Villa Rosa en Egoli is nie vir Shaleen te groot nie. Alhoewel die span kleiner is, sê sy sy het van die eerste dag af baie goed daar ingepas.”

Sedert Egoli in 2009 geëindig het, was Shaleen nog nie ’n dag sonder werk nie. “Ek dank die liewe Here daarvoor, én die kykers wat hou van my werk, want sonder hulle was dit nie die geval nie. Dit hou my verskriklik nederig.”

Shaleen vertel daar is groot planne met Villa Rosa, maar veel meer as dit wil sy nie sê nie.

Shaleen is tans te sien in haar eenvrou-vertoning, As ek maar geweet het, wat gaan oor die keuses wat vroue maak wat hul hele lewe beïnvloed. “’n Moet-sien vir alle vroue,” volgens Shaleen.

[box:full:grey:both]

Villa Rosa is Maandae tot Donderdae om 18:00 op kykNET (Kanaal 111 op DSTV) te sien.

[/box]

  • Anneke Oelofse

    Sien uit daarna om vanaand Villa Rosa te kyk. Ek was nog altyd mal oor Shaleen.

  • Johnny Flonny

    Villa wat?