Nianell

Nianell

Ons praat met

Nianell: pen in die hand, boodskap in die hart

Nianell se motiveringsboek, Om te weet wie ek is (Struik Media), wat twee jaar gelede vrygestel is, is nou wêreldwyd beskikbaar (die Engelse weergawe is Knowing Who I Am, uitgegee deur Hay House.) Nou skryf sy reeds ’n opvolg vir dié boek, asook ’n kinderboek en ’n fiksie-boek.

Om te weet wie ek is                                  Nianell My hart

“Al my werk het ’n sterk opbouende en inspirerende boodskap,” sê dié sangeres. Sy skryf ook musiek vir haar volgende album, wat moontlik volgende jaar reeds op die rakke kan wees. Buiten dié skryfwerk toer sy ook die land vol om haar album My Hart bekend te stel.

Maar daar is geen einde in sig vir Nianell en haar talente nie. “Ek voel of ek nou net begin het om regtig te lewe, so julle kan nog baie opwindende projekte, boeke en musiek van my verwag! Met my boek en musiek (die boek kom saam met ’n CD) wat nou wêreldwyd vrygestel is, gaan ek nog baie moet reis en ek is opgewonde om liefde met die hele wêreld te deel. En hoe deel ’n mens liefde? Deur daardie liefde te wéés.

As dié ma van drie 5-jarige dogtertjies moet toer en optree, word haar hart ook maar seer as sy van die huis af is. “Ek mis my kinders baie as ek van die huis weg is! Maar omdat ek doen waarvoor ek lief is en omdat dit my passie is, is dit vir my makliker. Ek wens hulle kon saamgaan. Waar dit moontlik is, vat ons hulle saam, maar hul skedule en welstand is vir my belangriker.”

Nianell, Andrew en die kinders

Nianell het haar 40ste verjaardag twee jaar gelede in die Valley of Desolation gevier. Daar het sy saam met die mense van Graaff-Reinet besluit sy gaan terugkom om ’n vertoning te hou. Die afgelope naweek het dít wel gebeur. “Dit was ongelooflik mooi!” Sy het ’n opelug-optrede voor die Reinet-huis gedoen met mense wat in die straat by tafeltjies en kerslig gesit het. “Dit was beslis ’n hoogtepunt vir my!”   

Nianell is ook vir twee Ghoema-toekennings benoem: Beste Vroulike Kunstenaar en Beste Musiekvideo. Jy kan vir haar stem!

HOE STEM JY?

‘n SMS kos R1.50 elk en daar is ‘n beperking van net 20 stemme per kategorie per unieke selnommer; SMS SLEGS die kode (bv. A6) na 41 808 en nie die kunstenaar se naam nie. Die wenners word Sondag 14 April 2013 by Carnival City se BIG TOP ARENA bekendgemaak.

Lees HIER die volledige lys van benoemdes en die kode wat jy kan SMS.