Ons praat met

Nianell wys haar kinders en praat oor inspirasie

Nadat sy haar inspirasieboek, Om te weet wie ek is, gepubliseer het (in Engels internasionaal versprei as Knowing who I am) het Nianell besluit om ook geleenthede aan te bied waar mense vaardighede kan aanleer hoe om ’n gesonder lewe en ’n lewe vol vreugde te lei.

“Ek glo as ‘n mens iets wil leer, dan gaan studeer jy dit; as jy dit wil bemeester, dan leer jy dit vir ander. Dit is hoekom ek doen wat ek doen. Ek het net soveel inspirasie en motivering nodig soos almal.”

Waar kom jóú inspirasie vandaan en hoe verdeel jy jou tyd?

Inspirasie beteken “ breathing God” en dít is die bron van my inspirasie. God is in alles en een met alles en omdat ek God in alles sien, word ek daagliks deur alles om my geïnspireer.

FOTO: Tayden, Kaeley en Jade

FOTO: Tayden, Kaeley en Jade

My kinders is nou al 6 jaar oud. Hulle word tuis geskool deur ’n gekwalifiseerde onderwyseres. Ek probeer om in die aande of oor naweke op te tree, sodat ek heeldag saam met my kinders kan wees. As ek op toer gaan, sal ek op die meeste vir 8 dae van die huis af wees, maar dan weer weke aaneen by my famillie wees.

Nianell: pen in die hand, boodskap in die hart

Beskryf jou kinders se teenwoordigheid in jou lewe in 3 woorde:

Liefde sonder einde.

FOTO: Die drietjies sing vir ma en pa

FOTO: Die drietjies sing vir ma en pa

Wat is die grootste uitdaging om drie kinders groot te maak?

Die grootste uitdaging is om die voorbeeld te wees wat ek wil hê my kinders moet volg.

Jou man, Andrew Thompson, is ook jou bestuurder – watter wenke het julle vir paartjies wat saam werk?

Maak tyd vir mekaar. In dié tyd moet julle nie praat oor die werk of die kinders nie. Dit is spesiale tyd. Doen ook dinge apart van mekaar; spasie kan baie goed wees vir ’n verhouding.

FOTO: Nianell saam met Tayden, Jade en Kaeley

FOTO: Nianell saam met Tayden, Jade en Kaeley

Hoe belangrik is balans in jou lewe? En hoe handhaaf jy dit?

Balans is ongelooflik belangrik en ’n mens handhaaf balans deur dinge goed te beplan. Deur tyd te maak vir alles wat belangrik is – en dit sluit jouself in!

Kan ons binnekort nog ’n CD op die rakke verwag?

Ja, vroeg volgende jaar. Maar op die oomblik toer ek nog met my mees onlangse album My Hart.

Nianell en kinders 2Hoe sluit jou musiek by jou motiveringsgeleenthede aan?

Ek was nog altyd ’n inspirasie-skrywer en my musiek motiveer en inspireer my en ander mense nog van die begin af. Vir my was dit nog altyd een en dieselfde ding. Ek motiveer en inspireer deur middel van musiek en het dit nog altyd so gedoen.

Die boek wat ek geskryf het, was net die volgende stap en ek is reeds besig met my volgende boek. Die werkwinkels wat ek nou begin het om aan te bied, is ook ’n uitbreiding van wat ek nog altyd doen.

Klank is ongelooflik genesend en ek leer vir mense hoe om klank te gebruik om hul ligaam in te ‘stem’ en sodoende ’n gesonder lewe te lei. In my werkswinkels leer ek mense asemhalingstegnieke wat geweldig kragtig is en ook bewegings wat hul brein ten volle aktiveer.

FOTO: Kuier saam met Pa

FOTO: Kuier saam met Pa

*Haar volgende motiveringsgeleentheid is 2 November by L’Atmosphere naby Hartebeespoortdam. Besoek ook haar webwerf (www.nianell.com) of haar facebook-blad vir meer inligting.