Ons praat met

Nina en Lise – energie x2

Hulle ken dié soort ding al goed. Voor die kamera ontdooi Lise en Nina Swart spontaan, gemaklik en speels. Uitbundig selfs, met aansteeklike lagbuie. Dis asof strome energie deur hulle vloei, en beurtkrag lyk skielik nie meer na so ’n groot probleem nie!

Maar wanneer die fotograaf Clinton Lubbe begin werk, is hulle gefokus en professioneel. Lise skitter deesdae as ’n veldaanbieder van die kykNET-joernaalprogram Kwêla. Sy sal ook onthou word as die aanbieder van die kykNET-kookprogram Roer! en was lank een van Anton Goosen se agtergrondsangers. Nes ousus Nina, wat kykers veral ken as die geliefde Wilmien van 7de Laan, skroom sy nie om haar talente in die kollig te beproef nie. “Ek kan verstaan hoekom hulle so gewild is by die publiek,” sê ons stilis, Fanie Cronjé. “En daar’s goeie vibes tussen die twee.” Die resultaat sien jy op ons voorblad . . . twee vir die prys van een!

LISE

‘Ek’t dalk my trouman gemis’

Haar ma vertel hoe sy as vyfjarige deur die Spur gehardloop en tjips uit almal se borde gegaps het! “Ek weet nie hoekom ek so lief vir die lewe is en soveel energie uitstraal nie. Dis hoe ek is. Ek is seker so gebore. Ek was ’n baie moeilike kind, ’n nagmerrie. Nou nie dat ek Ritalin nodig gehad het nie, maar ek was ’n besige nommer,” erken Lise.

Sy sê sy en Nina het albei sterk persoonlikhede en hope selfvertroue – en dit gee hulle geleenthede. Maar mense kan hul persoonlikhede ook verkeerd opsom, voeg sy by. “Ons het nie onuitputlike energie en geluk nie. Ons raak ook moeg en soms depressief. Ek was by die onlangse KKNK soms dertien uur per dag op my voete. Jy is later so moeg jy kan nie beweeg nie, maar jy hou aan en bly vriendelik en professioneel. Dis jou werk.” (Sy was seremoniemeester in Die Burger se Tongelos-tent en het ook Kwêla se naam hoog gehou).

Hulle is immers net gewone mense, ondanks die glansstatus. “Toe my verlowing met Chris Lotz (kameraman by Roer!) verlede jaar verbreek is, het ek deur ’n baie moeilike tyd gegaan. Party oggende was ek nie lus om op te staan nie – maar ek het, want ek het geweet ek moet myself regruk.” Sy dink nie sy is die trou-tipe nie, maar sy sal sien wat die toekoms inhou. Sy wil beslis kinders hê, maar glo sy hoef nie noodwendig te trou nie. “Ek wou nooit trou nie, maar toe ek Chris die eerste keer sien, het ek geweet ek wil met hóm trou. Ek het so groot geskrik dat ek twee dae nie met hom gepraat het nie. Ons was drie jaar saam en dinge het nie gewerk nie. Maar noudat dit verby is, weet ek dit was dalk die enigste kans wat ek gaan kry om iemand te ontmoet met wie ek wou trou.” Toe haar verlowing verbreek is, het sy drie weke by Nina ingetrek tot sy beter gevoel en ’n ander heenkome gehad het. “Sy was daar vir my. Sy het my uitgevra oor wat verkeerd gegaan het, maar my ook gelos. Dit was vir my baie spesiaal om in so ’n tyd by haar te kon wees.”

Hul ouers, Jan en Laetitia, het haar ook ondersteun, maar sy spot dat haar pa eintlik simpatie het met enige man wat met haar uitgaan. “Ons ouers het ons geleenthede, baie liefde en ’n goeie opvoeding gegee. Dít het selfvertroue gebou. Ons weet wie ons is. Ons kon altyd sê wat ons dink.” Maar hulle was ook streng.

“En met rede,” sê Lise vandag, “want ek was stout. Nie dat ek altyd geluister het nie, maar hulle het geraas as ons nie ordentlik met mense is nie. Ons het ’n goeie waardesisteem gekry.” Vandag nog is sy en Nina altyd vriendelik en hoflik met mense. “Al het jy ’n moeilike dag agter die rug. Ons maak tyd vir almal. Iewers kry jy iemand wat ook vriendelik is en dit maak jou dag. Dit gee jou hoop vir die mensdom.”

Lise gryp geleenthede aan, maar sê sy’s hopeloos daarmee om haarself te bemark. “Toe ek die oudisie vir Roer! gedoen het, het ek getwyfel of ek die werk sou kry omdat ek nie kon kook nie. Toe kry ek dit!”

Sy praat met groot lof van Anton Goosen vir wie sy lank ’n agtergrondsanger was. “Alles wat ek van die vermaaklikheidsbedryf en bekendheid weet, het hy my geleer. Ek is danksy sy raad gemaklik met aanbiederswerk. Hy het my geleer dis oukei om foute te maak en dat mense jou vergewe.” En nee, hulle het nié ’n verhouding gehad soos baie mense dink nie, sê sy ferm.

Later vanjaar reik sy hopelik ’n CD uit, maar sy maak eers geld bymekaar daarvoor. “Sang sal altyd ’n stokperdjie wees. Die mark is reeds oorlaai. Ek wil net ’n paar CD’s maak.” Sy is ook nog nie seker in watter genre haar musiek sal val nie. “Nina sê ek is ’n rocker en sy ’n jazz-mens.”

TV-aanbieding bly maar haar groot liefde. Dan verklap sy nog ’n liefde: “Een van my groot drome is om ’n motorprogram te maak. Ek is baie lief vir motors, maar weet nie juis hoe hul enjins werk nie. Ek hou wel daarvan om hulle te toetsbestuur. Ek wil ’n program aanbied wat op motors en vroue fokus. Vroue wil weet watter praktiese eienskappe ’n motor het voordat hulle dit koop.”

Lise is die ewige avonturier – sy gaan soek dit nie, maar gryp die avonture aan wat oor haar pad kom. “As ek met vakansie is en iemand stel voor ons gaan rekspring, dan is ek daar. Soos ander sal ek bang wees om dit te doen, maar ek sal spring.” Op dertig leef sy vir die oomblik. “Ek beplan nie oorsese reise en dinge vooruit nie.”

NINA

‘Dis tyd vir ’n baba’

 

Haar lyf praat met haar, sê Nina. As ’n babawaentjie verbykom, begin sy opgewonde in haar stoel wriemel en haar oë raak week: “Ek wéét dis tyd dat ek swanger word.” Sy beplan beslis ’n baba binne die volgende twee jaar en ’n goeie vriend sal waarskynlik die pa wees . . .

Op 33, en ongetroud, besef sy die lewe is nie altyd vrolik of ongekompliseerd nie. Maar soos vele kere in die verlede is sy bereid om kanse te waag. Dié keer is dit tyd om ma te word, al is haar lewe onkonvensioneel. “Dit help nie ek wag vir die ‘regte’ tyd nie,” verduidelik sy. “Dan sal ek bly uitstel. Ek werk hard. Ek het al kwaai aan depressie gely en het al vir terapie gegaan. Dis juis die kontraste en uiterstes in die lewe – die skadukante – wat my prikkel. ‘The good, the bad and the ugly’ laat my tiek. Hóé dinge met mekaar verweef is, maak die lewe interessant. Ook Suid-Afrika met al die brutaliteit en hoop. Ek put my energie uit donkerte én lig. Wanneer als op ’n manier saamvloei . . .”

Vroeër was sy ’n gym-verslaafde. “Maar ek is nou veel rustiger . . . As kind was ek baie gespanne. Op skool was ek ’n nerd. Prestasie was báie belangrik. Ek het klomp vrae in die klas gevra, in die eerste netbalspan gespeel. Lise het ligter geleef. Sy het in die 7de netbalspan gespeel, maar elke oomblik geniet. Sy het ’n ongelooflike lewenswysheid en is goed met mense. Ek raak soms uitgemergel tussen té veel mense.  Lise geniét die lewe ten volle.”

My ouers is baie gesteld op goeie maniere,” beaam Nina wat Lise sê. “Dankie, Tannie, dankie, Oom. Tafelmaniere. Respek. Ek is dankbaar dat ek vandag – met al my flaws – die produk van só ’n gesin is. Daar was altyd onvoorwaardelike liefde. As ons stout was of sleg gevaar het in die eksamen, was my ouers teleurgesteld, maar die liefdesband was dáár. Dít gee kinders selfvertroue. Ons is aangemoedig om dinge te bespreek. Nie noodwendig om ons eie opinie oor aborsie op nege te vorm nie. Maar ons kon vrae vra. Ek was nooit bang vir gesag nie. Ek het grootgeword met die wete dat alle mense net ménse is. Almal staan soggens op en borsel tande. Ek sal vir Thabo Mbeki of ’n besturende direkteur van ’n maatskappy dieselfde behandel as een van my vriende. Jy moet die méns raaksien en respekteer. Dan kry jy soveel meer reg. Dit help nie jy is bang vir mense nie.”

Oor die slegte tye in haar lewe wil Nina min sê. “Ek hou nie daarvan om te moan nie, maar shrink graag ander. My eie ellende skryf ek neer vir terapie. Tyd is maar die enigste ding wat sielswonde heel. Maar ek glo die lewe is eintlik veilig. Geluk is in ieder geval ’n tricky konsep. Dis ’n ingeligte keuse. Dis nie iets wat gebeur as jy die regte selfhelpboek lees of ’n besluit neem nie. Soms het jy selfs nodig om geluk in jou melancholie raak te sien. Jy maak baie ontdekkings oor jouself en die lewe as jy ‘af ’ is en slegs dán leef jy volledig. Ek is selde suiwer gelukkig. Die lewe is net nie so eenvoudig vir almal nie.”

 

Daar’s lewe daarbuite! En Nina en Lise wil dit leef! – fotograaf Clinton Lubbe

Sy is mal oor lag, maar sê dadelik: “Tog lag ek maar min. Lise is die een mens wat my lekker kan laat lag. Min dinge is eintlik vir my snaaks. Mense amuseer my. Die detail van die alledaagse om my. Ironiese goed, Britse humor. My sin vir humor is sinies, droog. Stand-up comedy is vir my glad nie snaaks nie, maar ek bewonder mense wat dit doen. Ek lag vir die onverwagse in die lewe.”

Soos sy ouer geword het, het Nina geleer om haar energie beter te kanaliseer. “Vroeër was dit net ’n gegil en gespring. Nou sal ek in my motor in Dorpstraat op Stellenbosch ry, my hande in die lug gooi as ek luister na die Afrika-sanger Richard Bona, en my verbeel ek vlieg . . .”

Sy put haar energie daaruit om talentvolle mense dop te hou. “Stilte is wonderlik, ek herlaai in stilte. Maar dit gee my nie woema nie. Dáárvoor het ek mense nodig. Die mensdom fassineer my. Omdat elke mens uniek is. Van hul hare tot hul siel. Hul detail betower my. Want hulle is anders as ek.” As sy eendag terugdink aan haar lewe, wil sy weet sy het ander goed laat voel. “Mense onthou nie soseer wat jy gesê het nie, maar hoe jy hulle laat voel het.”

Sy hou haar nou besig met die oorklanking van radiodramas, vryskut-fotografie en -regiewerk. “Ek glo die grootste waagstukke in die kleine is om daagliks ongefilter met ander te kommunikeer en jouself bloot te stel. Op groter skaal is dit om ten volle kreatief te wees en my beste te lewer. Of dit nou die regie van ’n studenteproduksie, die skryf van ’n toneelstuk of die neem van ’n mooi foto is.”

Sy is dikwels bang, erken sy. “Bang om te misluk, vir my eie onsekerhede. Ek’s ’n wrak en ek raak net erger. Soms knyp ek maar net oë toe, probeer nie te veel dink nie en gaan net aan. Jy moet nooit só bang wees vir jou vrese dat dít jou keer om voluit te leef nie.

“Ek bewonder die aktrise Nicole Holm. Sy laat nie toe dat iemand haar van stryk bring nie. Selfs al val sy op haar gesig, staan sy net weer op en doen haar ding.” Sy sê sy voel dikwels soos Sisifus in die Griekse mitologie, wat voortdurend ’n rots bergop stoot terwyl dit telkens terugrol. “Miskien lê die geheim van die lewe daarin dat ’n mens dít moet aanvaar. Jy gaan die rots blý rol . . .” Maar die lewe het haar ook geleer: Dikwels wanneer jy oor die afgrond kyk, sien jy nie die veiligheidsnet nie. “Jy sien dit eers wanneer jy spring . . .”