Ons praat met

Nina, Nico en Robert – Só onthou ons die Laan

Nico Panagio (George van 7de Laan)

‘N GOEIE GRONDSLAG

“Ek het nog nooit iets gedoen wat so moeilik is soos 7de Laan nie: Die pas is vinnig en daar’s nie kans om ‘n toneel oor en oor te skiet nie. Die dissipline wat ek daar geleer het, help my vandag. Ek kan binne 20 minute ‘n teks leer. Mense onthou steeds vir George en dit beteken dis ‘n karakter wat goed geskryf is. Dit was ‘n eer om sy rol te vertolk.

‘n Hoogtepunt was beslis om teenoor Anna-Mart van der Merwe (Christelle) te speel. Ek het ‘n crush op haar gehad toe ek jonger was, lank voor ek akteur geword het. Ek was ook mal daaroor om teenoor my vrou, Christi (Karien), te speel.

Dit was vanselfsprekend dat sy my meisie sou speel, omdat die energie tussen ons so goed was!”

Nina Swart (Wilmien)

ONTWIKKELING

“Ek is dankbaar Danie Odendaal het my toegelaat om te ontwikkel in die rigting waarin ek wou. Toe ek vir hom sê ek wil graag ‘n regisseur word, kon ek by die ander regisseurs leer. Vandag doen ek heeltyds regie. Wilmien was ‘n lekker karakter om te speel. Ek dink mense mis haar omdat sy so kleurryk was.

“Sy was sterk en vol bravade, maar daar het ook ‘n dogtertjie in haar geskuil. My gunsteling-herinnering is ons vroegoggend-koffieklub. Ek en van die ander akteurs het geld in ‘n kitty gesit en grênd koffie gekoop.”

Robert Bester (Zac)

GESKIEDENIS


“Om deel te wees van die geboorte van ‘n TV-program laat jou voel asof jy deel is van geskiedenis. Ek was byna vyf jaar by 7de Laan en dit was lekker, maar alles moet tot ‘n einde kom – dit laat jou waardeer wat jy gehad het. Ek het dit geniet om die gesigte saam met wie ek gewerk het tydens dié fotosessie te sien.

Dit lyk asof dit net ek is wat ouer word! Wat ‘n wonderlike voorreg om by 7de Laan te kon werk, veral omdat dit my die geleentheid gegee het om saam met van Suid-Afrika se beste akteurs te werk.”