Ons praat met

Nina Swart se langpad-lekkertes

Dié keer het sy van die Kaap tot by Dwaalboom naby Botswana gery. “En van die wynlande van die Breërivier tot by die mynlande van Secunda,” vertel Nina Swart iewers uit ’n motor op die langpad. Trouens, van Maart tot September het sy en die span van Boer soek ’n vrou meer as 50 000 kilometer afgelê om die vierde reeks van dié gewilde werklikheidsprogram vir kykNET te skiet; Nina in die regisseurstoel.

Soms moes hulle stilhou om rigting te vra. “En dis lekker, want op die platteland hoor jy detail, soos kortpaaie of waar die naaste KFC is!”

Vir Nina is die heel mooiste plekin die land die Overberg in die Wes-Kaap. “Veral in die winter.Meer
spesifiek Swellendam en Napier.Die gebied is wyd en oop en groen. En die atmosfeer rustig. Dis mistig, skape wei oral en daar’s pragtige berge, maar hulle is klipperig.”

Swellendam is boer Herman van die eerste reeks se tuisdorp. En JD, ook van reeks een, boer digby Napier. (Die boere se vanne – hier en in oorsese reekse – word nie verklap nie om te keer dat hulle lastig geval word.) Kykers leer nou weer tien nuwe boere en hul metgeselle ken. Soos Andries (35) van Vryburg in die Noordwes-provinsie,wat met uie, aartappels en beeste boer, Pierre (25), ’n wingerd- en melkboer van Worcester en Christo (26), ’n bees- en mielieboer van Leandra inMpumalanga.

Anders as wat mense dink, is die hoofdoel van die reeks nie soseer om die boere te laat trou nie,maar eerder om te wys wie en wat ’n boer is, vertel Nina.

“Om só die minder vleiende konnotasie aan die woord boer aan te spreek.” Kykers moet ook kan sien hoe verhoudings werk.

“Op ’n mikrovlak is ons besig om verhoudings tot brokke te reduseer. Jy moet ’n week se gebeure in net agt minute weergee.Wat die kyker as gelaai ervaar, is darem nie vir die deelnemers heeltemal so dramaties nie.Hulle het tyd om die vroue binne hul eie omgewing te leer ken.”

Op ’n persoonlike vlak is haar grootste uitdaging “om nie vir die kykers te jok nie,maar om gebeure
eerlik, nes dit is, oor te dra”. ’n Regisseur se werk verg kophou. “Jy moet onthou wanneer gebeure plaasgevind het sodat die episodes chronologies volg. Al die liefdesverklarings hoort nie saam in een episode nie, ook nie al die fights nie. En dis lekker as elke episode met ’n goeie naelkou-oomblik kan eindig.”

Nina is gaande oor haar regisseurswerk. Al onthou ons haar die beste vir haar rol asWilmien in 7de Laan wil sy nie sommer weer aktrise wees nie, sê sy. “Jy is dan by net ’n klein deeltjie van die skeppingsproses betrokke.”

Boer soek ’n vrou daag haar op verskillende gebiede uit. “Soos my kreatiwiteit, my administratiewe
vermoëns (of altans my gebrek daaraan!), my tegniese beplanning . . . Dan moet ek nog op my voete kan dink ook. Voor die tyd beplan ek die skote, maar wanneer ek op die plaas kom, werk dinge nie altyd so uit nie.”

Sy besef watter groot verantwoordelikheid sy het. Soos met menseverhoudings – nie net binne die produksiespan nie,maar ook wanneer ’n verhouding tussen ’n boer en een van die vroue nie reg uitwerk nie en sy moet help trane afdroog. Nina is ook ’n ywerige amateurfotograaf wat die wêreld in detail waarneem en vaslê.Veral gesigte.

“Mense verander, jou lewe gaan in jou gesig sit. Ek dokumenteer die mens as proses,” vertel sy.
Daarom is dit vir haar so lekker om deur die land te reis. Buiten vir die Overberg is Victoria-Wes op haar lys van gunsteling-plekke. Sy voel ’n band met die Karoo, want haar ma, Laetitia, kom daarvandaan.

“Ek het lank gewonder wat die mense op hierdie platterige plek so gelukkig maak. Maar dis asof die landskap léwe. As jy te vinnig by Victoria- Wes sou verbygaan, mis jy so baie. Ek sit daar op die Kingwill’s-gastehuis se stoep of stap stadig deur die dorp.

Dan raak ek rustig, dis asof ’n mens weer terugkeer na jouself, na wie jy is.” Sy kan nie uitgepraat raak oor die winkeltjie binne-in dié gastehuis wat aan Nell Kingwell behoort nie.

“Daar het ek die lekkerste warm sokkies en die heerlikste hertzoggies gekoop. Die koekies is nie te sag, te hard of te soet nie. Ek het byna 20 pakkies binne ’n dag opgeëet!” Victoria-Wes se boere is “lekker mense”, sê Nina.

Maar wat is ’n hertzoggie sonder ’n koppie koffie? ’n Hoogtepunt was die cappuccino wat sy tydens die verfilming van die tweede reeks van Boer soek ’n vrou op Britstown in die Noord-Kaap geproe het toe hulle op boer Attie se plaas geskiet het.

“Jy ry al die pad in stof en kom gedaan daar aan. Die laaste ding wat jy verwag, is om in die middel van die dorp – in die hoofstraat – die wêreld se beste cappuccino aan te tref, by die Transkaroo Country Lodge.”

Die plek het so ’n pragtige binnehoffie en hulle bring jou cappuccino,met perfekte skuim en lekker sterk, in ’n wit beker, vertel sy. So het Nina ook al “die verruklikste diepgebraaide roomys”ontdek – by die Lions-Rest-gastehuis naby Frankfort – digby Pieter, boer in die derde reeks, se leeuplaas. “’n Mens verwag dit nie in die Vrystaat nie.”

Sy onthou ook ’n aand vanjaar toe die produksiespan by ’n berghut op een van die boere se plase in die Breëriviervallei “gebring-en-gebraai het”. Die manne het haar siel uitgetrek deur vir haar “die sterkste mampoer wat al in die geskiedenis van die wêreld gestook is”, te laat proe. “Een shot en
my hare het begin uitval!” Dis plaaslik gemaak, maar Nina kan nie die naam onthou nie.

Dieselfde aand het die ouens van die dorp hulle vermaak met danspassies. “Moves soos ‘die houtbeen’, ‘die sproeier’ en ‘die hoender’. Ons het meer gelag as gedans. Die ‘Robertsonners’ is uiters gasvry en dit was ’n wonderlike aand.”

Met die maak van die huidige reeks het Juanita Degenaar van die Khaya Morula Lodge in Limpopo

(so ’n halfuur se ry van Sun City af ) vir die Boer soek ’n vrou-span “die ongelooflikste filetsteak” voorgesit. “Alles is sag en sappig aan die binnekant, maar perfek gebraai aan die buitekant,” vertel Nina.

Nóg ’n ervaring wat sy nooit sal vergeet nie, is die sonsondergang op De Aar. Jurie, ’n boer in die eerste reeks, het hulle na ’n koppie net buite die dorp geneem.“Daar het ek die wydste, mooiste sonsondergang gesien. Die lug was pienker en rooier en geler – en méér daarvan – as wat ek al gesien het.”

Ook Franschhoek in die Wes-Kaap is beeldskoon, sê sy. Dié dorp sal ook altyd vir haar ’n emosionele konnotasie hê. Sy sal nooit Ashley se uitbarstings in die tweede reeks op Pieter H se plaas vergeet nie. Soos die keer toe sy en Lynda, haar mededinger, mekaar skaamteloos aan Pieter se tafel sleggesê het.

“Eerlikheid werk altyd die beste op Boer soek ’n vrou. Ek respekteer Ashley tot vandag toe omdat sy nie omgegee het oor kameras en mense se menings van haar nie. Sy het haar sê gesê, en basta met die gevolge!”

Daar was nog ’n emosionele ervaring in die eerste reeks. Nadat Tickey van Wyk van Loxton in die Karoo die eerste keer ’n meisie huis toe moes stuur, het hy uitgeloop. “Dié sterk Karoo-boer se trane het so vlak gelê, hy het byna nie woorde gehad om te vertel hoe moeilik dit vir hom was nie,” vertel Nina.“Dinge was eers lig en lekker, maar dít was die oomblik dat ek besef het hoe versigtig ons as TV-span met die ouens se gevoelens moet omgaan.

Ook dat hierdie régte ervarings van régte mense is. Ek sal altyd dankbaar wees teenoor Tickey wat vir my gewys het dat regte emosie en eerlikheid die beste ding vir televisie is.”

By alles is daar heelwat pret ook. Nina het vanjaar “by ’n ou langs die pad” op die dorpie Vivo in Limpopo “die mees fantastiese kettie”gekoop.

Dit was later nuttig toe sy voëls wat tydens opnames in die bome geraas het, daarmee skrikgemaak het. Al is Angelique Gerber, die aanbieder van die jongste reeks, geweldig toegewyd en hardwerkend, sorg sy vir net soveel ligte oomblikke, vertel Nina. Sy slaap meestal op die agtersitplek van die kombi, maar wanneer sy daar opspring – “met woeste hare en slaapmerke op haar wange”– gesels en lag hulle vir ’n vale.

Vir die toekoms beplan Nina ’n reeks werksessies op die platteland.“Ek het baie met die manne gewerk,maar hierdie is vir vroue. Ek wil gesprekke met hulle voer oor hul drome en ervarings. Oor hoe elkeen van ons binne ons omgewing met volheid kan lewe.”

Einde Oktober is sy die regisseur van kykNET se splinternuwe boeremusiek-kompetisie, Varstrap.
( Ja, met die “r” in “vars”.) Die uitsendings is regstreeks.

Vir die res wil Nina, soos Jan Rabie geskryf het, “aanhou beweeg en geraas maak”. “Ek wil meer leer,meer uitdagings hê en dit so goed as moontlik doen. Dit gee my so ’n kick.”

Foto’s geneem by COOPMANHUIJS BOETIEKHOTEL EN SPA STELLENBOSCH – 021 883 8207