mrt08praatmet1a
Ons praat met

Laurika Rauch: Nuwe klokkies in haar stem

Daar’s twee Laurika Rauchs – die een wat haar bewonderaars op die verhoog ken, en die een wat haar vriende by die huis ken. Om iets van laasgenoemde te wete te kom moet jy dus met haar vriende praat. Want oor haar privaatheid waak sy. “Wanneer sy sing, tuimel ek nog altyd in ’n ander wêreld af. Maar as vriendin vergeet ek dat sy kan sing.

Dan is sy net Laurika met die sagte skouer, die lekker lag, die deernis,” verduidelik haar jare lange vriendin Marlene Serfontein. Sy het nog woorde om Laurika se lewenskwaliteite te beskryf: warmte, lewensvreugde, egtheid, eerlikheid, vriendskap. Rou talent. ’n Intelligente, belese, berese vrou. Marlene sê Laurika is kwistig met gee en deel. “Sy kan vashou en ondersteun, maar skroom ook nie om dit te ontvang nie. Sy gee nie voor dat sy onkwesbaar, onkreukbaar of onbereikbaar is nie. Sy is mens. Regtig méns. Maar ook Chris se vrou en Nina en Simon se ma.”

Laurika se man, Christopher Torr, liedjieskrywer en ekonomiese konsultant, sê dit was Laurika se blou oë wat hom aangetrek het toe hulle mekaar in 1969 as studente op Stellenbosch ontmoet het. Hul romantiese verbintenis het egter eers in 1984 ontstaan en hulle is dieselfde jaar getroud. Chris het as student gehoor hoe sy “Laleña” van Donovan sing. Hy was betower deur haar stem, ’n betowering wat hom byna twintig jaar later sou inspireer om die een treffer ná die ander vir daardie stem te skryf. Die musiekregisseur Louis Brittz, wat saam met Laurika aan haar nuutste CD, ’n Lekker verlang liedjie, gewerk het, het eweneens al ’n hele paar liedjies vir haar geskryf:  “Nuwe wyn”, “Deur die oë van ’n kind”, “Hier tussen ons” en “Nothing’s Coming Out”.

Hy waardeer haar  “onkreukbare integriteit, matelose sjarme, onberispelike professionaliteit.” En haar privaatheid. Hulle werk die afgelope twee jaar saam en het in 2006 ook gewerk aan haar Grootste Treffers LIVE DVD. “Haar standaarde is hoog. Sy herskep haarself sonder om haar gehoor te verloor, nou reeds byna 30 jaar lank!” sê Louis.

Hy noem Laurika se stem “’n wonderwerk”, beter as twintig jaar gelede. “Laurika het klokkies in haar stem, wat nie voorheen so hoorbaar was nie.” As regisseur is dit vir hom ’n heerlike stem om op te neem, want haar stem gaan sit in die musiek “asof dit daar gebore is”. “Ek hoop hulle vind ’n manier om Lau se stem in ’n botteltjie te bêre, want dis ’n stukkie Africana!” Hy sê min mense weet dat sy eintlik ’n skerpskertser (stand-up comedian) kon wees! “Sy is ’n vlymskerp waarnemer en sy’s baie, baie snaaks.”

Laurika het in 1972 met haar B.A. drama-graad by die Universiteit Stellenbosch uitgestap om onder meer te gaan skoolhou. Maar die verhoog het geroep en ’n paar jaar later was sy saam met Sias Reyneke, Des Lindberg en Mynie Grové in Merwede van der Merwe se TV-reeks Musiek en liriek. Toe volg die treffer “Kinders van die wind”. Sandown High in Johannesburg was ’n Afrikaans-onderwyseres armer en Afrikaanse musiek ’n dinamiese diva ryker.

Gunstelinge

BOEK: Timebends: A Life van Arthur Miller en A Hundred Years of Solitude van Gabriel García Márques
MUSIEK: Sting! Ook James Taylor, die Nederlandse sanger Guus Meeuwis, die Amerikaanse gospelsanger Mark Schultz en die klaviermusiek van Wessel van Wyk.
KOS: Hoender, vars groente en vars slaaie
PLEK: Praag en New York
FLIEK: The Lives of Others. Ek het As it is in Heaven twee keer gesien en Lars and the Real Girl was vir my pragtig.
GOUE OOMBLIK:
Die Huisgenoot-Skouspel-toekenning vir lewenslange diens aan Afrikaanse musiek in 2006

Wat sou gebeur het as jy nie ’n ster geword het nie?
Ek sou seker steeds ’n “gelukkige onderwyseres” gewees het.

Jy prys baie mense vir hul invloed op jou, soos jou ouers, Rina en Fritz.
Hulle was baie besonderse mense en ouers. Ek het ook ongelooflike onderwysers op laerskool en aan die Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad gehad. Ek het aan die Universiteit Stellenbosch net sulke goeie dosente gehad en my leermeesters in my loopbaan het daarop voortgebou. Daar was mense soos my spraaklektrise, Rina Botha, regisseurs Robin Malan, Taubie Kushlick, Stephan Bouwer, Ilse van Hemert en Deon Opperman, wat almal êrens iets gedoen het wat in my ’n verskuiwing teweeg gebring het. Soos oorlede Sarie Lamprecht, my sangonderwyseres vir tien jaar, lank nadat ek bekend geword het. Ek het van so baie mense geleer.

Jou ma was vir jou ’n mentor?
Ek moes onlangs ’n toespraak hou oor waar my liefde vir Afrikaans vandaan kom. My ma het ’n fyn Afrikaans gepraat. Sy was aktief in die Kaapse kultuurkringe en het van die eerste leeskringe in Suid-Afrika begin. Sy was ook in ’n stadium redaktrise van Die Huisvrou. Sy het dikwels boeke bespreek en het skrywers soos Dostoyevsky gelees. Sy het haar kennis met ons gedeel. Ek kom uit ’n baie intellektuele agtergrond.

En jou pa?
Hy was die dierbaarste, sagste, kunstigste mens. Hy was bestuurder van openbare betrekkinge by Ou Mutual en het my geleer om stilweg die klein goedjies raak te sien.

Jy het van jongs af hard geoefen?
Ek het smiddae twee tot drie uur klavier geoefen as ek by die huis kom. Ek het in ’n stadium agt uur per dag geoefen vir eksamens en eisteddfods. Dan het ek net vroeër opgestaan en later gaan slaap, en geoefen en geoefen. Aan die begin van die jaar was die Engelse eisteddfod in Kaapstad. Dit was indrukwekkend: Die groot ou vleuelklavier het op ’n rostrum gestaan. Ek onthou hoe ek nog klein was en met my fluweelrokkie voor vier of vyf beoordelaars moes sit en klavier speel. Aan die einde van die jaar was dit die Afrikaanse eisteddfod se beurt en dan was dit nie net die klavier-afdelings nie, maar ook lees, duetsang, solosang en koorsang – alles goed waarvoor hard gewerk moes word. Dit het ’n soort dissipline geverg, want ek sou dit nie anders kon doen nie.

Dit klink intens?
Ek probeer vir jou sê hoe toegewyd ek as kind was. Ek was ’n performer-kind. Pinelands, buite Kaapstad, waar ons gewoon het, het ’n aktiewe kulturele gevoel gehad. Ons het elke kwartaal musiekaande gehou.

Het jy darem pret ook gehad?
Ek en Mynie Grové was saam in die Laerskool Groote Schuur in Rondebosch. Sy was ’n jaar ouer as ek. Sy was ’n wonderlike, talentvolle kind. Alles wat sy aangepak het, was perfek. Sy was pragtig en ek was ’n pokkeltjie. Ek het nie die volwassenheid gehad wat sy in daardie stadium gehad het nie. As sy haar voet op die verhoog gewaag het, het sy fantasties gelyk. Pragtig gedans, gesing en toneel gespeel. Ons het saam bus gery en ons byna doodgelag op daardie bus.

Het jou toewyding as kind jou voorberei op jou loopbaan?
Dit het my selfvertroue gegee. Ons generasie kinders het nie TV as ’n opsie gehad nie. Live performance was ons ding. Dis hoekom dit vandag nog my ding is. Dit is wat ek inasem. Dit is wat ek is.

’n Performer, maar pers-sku?
Ek hou nie van die kollig nie. Ek probeer konsentreer op die kern van goed en die limelight het vir my te veel met net die dop te doen. In my jonger dae het ek meer geleenthede bygewoon. Nou is ek meer selektief. Dis steeds goeie netwerkgeleenthede.

Vir jou aanhangers is jy op ’n troontjie?
Ja, dit moenie so wees nie, maar dit kom outomaties omdat  dit ’n mens se werk is. Ek is heeltemal anders op die verhoog as wat ek werklik is. Ek gee wel baie van wie ek is op die verhoog, van hoe ek dink en my sin vir humor. Dis nie asof ek ’n karakter aanneem as ek op die verhoog is nie. Ek is Laurika wat sing. Maar as ek optree, is ek besig om elke moontlike ding te betrek wat jou craft nodig het en waaroor performance gaan. My lewe is nie ’n performance nie. Daar is ’n verskil.

Watter soort verhouding het jy en Chris?
Ons vul mekaar aan. Hy is ’n baie omvattende, besondere man. Ek het later in ons verhouding eers besef hoe hy op ’n manier uitgereik het na my deur deel te word van dit wat ek doen met sy liedjies.

Wanneer het sy skryftalent ontwikkel?
Sy eerste liriek, “Op Blouberg se strand”, is eers geskryf toe Nina al gebore is en ons ’n hele paar jaar getroud was.

Hoe hanteer hy die sukses van sy liedjies?
Ek weet nie eintlik hoe hy dit regtig beleef nie, maar hy is ’n baie ego-lose soort mens. Ek weet nie of hy dit sy eie maak nie. As hy vir my ’n liedjie skryf, gee hy dit oor aan my. Dan behoort dit nie meer aan hom nie. Want hy het geen sê oor hoe ek dit gaan interpreteer nie. Daar is goed wat hy al geskryf het wat ek nie kon laat werk nie. Dan sal hy dit vir iemand anders gee of in sy laai sit. Maar 97% van die goed wat hy geskryf het, was net: Wow! Hy het onder meer “Kyk hoe glinster die maan”, “Stuur groete aan Mannetjies Roux”, “Die gang”, “Stille waters”, “Die mense op die bus”, “Hot Gates” en “My ou tante Koba” vir my geskryf. Daar is ook drie liedjies van hom op my nuwe album.

Watter liedjies lê die naaste aan jou hart?
In ’n stadium was dit “Stuur groete aan Mannetjies Roux” en “Stille waters”. Maar deesdae, met Bok van Blerk se sukses met “De la Rey”, vind ek dat die liedjie “Die gang” ’n heeltemal nuwe betekenis kry. Dis ’n ongelooflike liedjie en ek sing dit al hoe meer.

Het jy Mannetjies Roux ontmoet?
Ons wou hom eers in die saak ken voordat ek dit opneem. Ek het hom een oggend plaas toe gebel om toestemming te vra om dit te gebruik, maar Mannetjies was reeds lande toe. Charlotte, sy vrou, het geantwoord en gevra ek moet sommer so oor die telefoon vir haar sing. Toe ek klaar was, was daar ’n lang stilte. Met ’n bewoë stem het sy gesê ons kan maar voortgaan. Mannetjies sal daarvan hou, het sy gesê. Ons het daarna heelwat kontak met hulle gehad.

Jou kinders is nou groot, watter tipe verhouding het julle?
Nina is 21 en Simon 26. Simon is ’n filmredigeerder en Nina ’n skeppende kunstenaar. Hulle het albei ’n lekker skoot kreatiwiteit weg en ons kom goed oor die weg.

Hoe het hulle jou roem hanteer?
Hulle sê dit was fine. Ek het hulle baie beskermd grootgemaak. Daar was tye wanneer dit reg was vir hulle om in die openbare oog te verskyn, en ander tye was dit belangrik dat hulle anoniem grootword. So, ek het hulle hoofsaaklik uit eie reg laat ontwikkel. Hulle kon tuisbly wanneer ek toer. Chris was ’n fantastiese pa – en ma – as ek nie daar was nie. Ek het teruggekom na ’n huis wat heeltemal in harmonie was. Ek was bevoorreg.

Jy is ook deur ’n eerste huwelik. Glo jy ’n mens het altyd weer ’n kans op geluk?
Daar was goeie tye in my eerste huwelik. As iets goeds met jou gebeur (soos my tweede huwelik), moet jy nooit dink jy is dit nie werd nie. ’n Mens moet ’n sin vir jouself hê om te besef jy verdien weer geluk. Deel van jou leerproses uit ’n eerste huwelik is dat jy die goeie dinge na jou volgende verhouding bring. Soms is dit ’n snoer voor jou mond wat sê: Jy beter stilbly, want jy is baie geseënd. Dis maklik om nie vir altyd seer te kry nie as jy omring is deur merkwaardige mense.

As bekende is jy blootgestel?
Ek het lankal daarmee vrede gemaak. Ek het by ’n punt gekom waar ek nie meer die ding van he says, she said doen nie. Ek het by Chris geleer sommige mense neem hulle besluite oor jou lank voor jy jouself begin verduidelik, en wat jy ook al daarna doen, jy sal nie hul denke oor jou kan verander nie.

Stel jou loopbaan ook eise aan jou gesondheid?
Jy moet gedissiplineerd lewe, want dit vat alles uit jou uit. Verhoog- en voorbereidingswerk verg baie adrenalien. Die warm ligte droog jou vel uit. Dis totaal uitmergelend as jy nie fiks is nie. Ek probeer gesond eet en stap gereeld.

Hoe voel jy oor ’n Lekker verlang liedjie?
Baie trots. Ek dink my stem klink beter as wat dit in ’n baie lang tyd geklink het en die liedjies is vir my baie mooi.

Hoe weet jy jou werk is goed?
My vertrekpunt is myself. Nie dat ek egoïsties is nie, maar ek kan nie probeer om almal tevrede te stel nie – ék moet tevrede wees. Dis asof ek in die gehoor sit en na myself kyk of ek luister na myself wanneer ek werk. As my gehoor tevrede is, het ek my werk reg gedoen.