Ons praat met

FOTO’S: Nuwe liefde nuwe lewe vir Willie Esterhuizen

Willie Esterhuizen se oë blink sommer as jy vra hoe dit met hom gaan.

“Druk besig, maar verskriklik goed!” is sy antwoord.

Dis natuurlik die liefde wat hom só gelukkig maak. Willie is in Desember verlede jaar met Ilze Peinke getroud en die wittebrood-fase is nog lank nie verby nie.

“My lewe het verander die dag toe ek vir Ilze ontmoet. Dit was absoluut liefde met die eerste oogopslag. Ek was net verbaas dat sy hierdie kort, lelike mannetjie ook laaik!”

Willie en Ilze

Willie het nie gedink hy sal ooit weer trou nadat sy eerste vrou, Glen, vroeg in 2010 aan slukdermkanker oorlede is nie. “Dit was ’n baie rowwe tydperk in my lewe. Glen was die drie jaar voor haar dood siek. Jy rou, en jy dink nie eens aan die liefde nie, maar dan besef jy ook weer jy is nog hier en jou lewe moet aangaan.”

Nadat hy baie lank gesukkel het
om sy gevoelens oor Glen te verwerk, het hy besluit dis tyd om weer sy hart oop te maak. “Ek het byna twee jaar lank gerou, en in daardie tyd is [die akteurs] Zack [du Plessis] en Andrew [Thompson] ook oorlede. Ek was dankbaar vir my werk en dat ek mense kan laat lag vir ’n lewe, want anders het ek alleen by die huis gesit en gehuil op die moeilike dae. En toe het ek gesien jou huweliksbeloftes – tot die dood ons skei – is die waarheid. En die dood is so deel van die lewe soos geboorte.

“Ek was moeg daarvoor om enkellopend te wees, want dis vrek moeilik, en toe het ek weer begin rondkyk. My seun, Toby, het my aan Ilze voorgestel en skielik was dit asof ek weer ’n nuwe lewe het,” sê hy.

Daarmee saam werk Willie ook nou aan ’n klomp nuwe projekte. Die karakters van die gewilde TV-reeks Molly & Wors, waarvan hy skrywer, vervaardiger en akteur is, gaan op 7 Junie op die grootskerm te sien wees in ’n splinternuwe (gelyknamige) fliek.

“Dis die beste fliek wat ek al gemaak het. Ek werk nou al vier jaar lank saam met die karakters in die reeks en ken hulle byna beter as wat hulle hulself ken. Die draaiboek vat hulle na die dieptes van die hel toe en dit het die hele A tot Z van emosies in hulle uitgebring.

“Die fliek is die einde van ’n sage van 78 episodes wat alles uit my eie duim gesuig is, en dis epies. Ons het dit in Johannesburg, Oos-Londen, Amsterdam en Kalifornië verfilm en kykers gaan vir Molly en ou Wors sien soos hulle nog nooit tevore het nie. Die arme twee se verhouding word tot breekpunt getoets.”

Willie gaan ook te sien wees in die rolprent Faan se trein, wat in die Karoo verfilm is en in Januarie 2014 verskyn. Dié gewilde verhoogdrama is aangepas vir die silwerdoek en kykers gaan Willie in ’n heel ander rol sien as wat hulle hom al die jare ken. Hy speel die rol van Faan, ’n gestremde man in ’n arm Afrikaanse gemeenskap. “Dis heeltemal anders as die dinge wat ek voorheen gedoen het en ek het die nuwe uitdaging só geniet.”

Die fliek handel oor die verhouding tussen Faan en sy pa, Frik, en oor
die adel van armoede. Vervaardiger Helena Spring sê dit was enige filmmaker se droomprojek. “Dié pragtige verhaal van Pieter Fourie omarm groot temas met soveel deernis dat dit ’n glimlag op jou gesig sit terwyl jy sluk aan ’n knop in jou keel.”

Willie en Ilze

Hy begin eersdaags ook met die verfilming van ’n nuwe reeks vir kykNET, genaamd Vir beter of baie beter.

Dit handel weer oor ’n disfunksionele Afrikaanse gesin met kinders op skool, maar dit vat dinge nóg verder. Dit wys probleme in
ons samelewing uit, soos dat mense natuurlik trou vir beter of beter, nie for better or worse, soos die Engelsman sê nie, en oor die probleme in ons opvoedingstelsel en skole.”

Maar om Molly & Wors te groet was nie maklik nie.

“Ek skryf al hul stories uit my hart uit. Molly en Wors en hul kinders is soos menige Afrikaanse gesin. Hulle is disfunksioneel en sukkel om ’n bestaan te voer en die probleme
wat hulle moet oplos, is universeel. Dis eintlik maar vier vetties wat elke dag om die etenstafel sit en strooi praat, maar dis die soort gemors
wat enigiemand kan verstaan; dit handel beslis nie oor die probleme in Sirië nie.

“Op ’n vreemde manier is dit tog ook ’n opvoedkundige program, want die karakters wonder oor dinge wat ons almal maar doen, soos ouma se vreemde moesie en of dit nodig is dat sy die dokter daaroor besoek.
Dit leer kykers dinge soos hoe om die angel uit simpel en onnodige bakleiery te haal, en dat almal maar foute het. Molly het byvoorbeeld ’n drankprobleem, maar Wors leer hoe om dit te hanteer. Wors lieg weer lekker, maar hy is steeds inherent ’n goeie mens.”

Willie se skryfwerk spreek ook van sy lewensuitkyk.

“Dis in my natuur om die glas altyd halfvol te sien – ek soek die positiewe. As mense sê hulle wil die TV-skerm met ’n skoen gooi as Molly & Wors op is, oor dit so kommin is, pla dit my nie. Ek het al lankal geleer om my nie aan resensies te steur nie, want today’s paper is tomorrow’s toilet paper. Die enigste probleem is natuurlik die vlekke wat dit los …”

Willie en Ilze

Ons moet die goed in alles kan raaksien, sê Willie, en humor is die beste manier om dit te doen.

“Dit het my al deur baie moeilike tye gehelp en dis vir my ’n voorreg om kykers te help ontspan aan die einde van ’n lang dag. As ek net ’n paar mense se bekommernisse oor werk vir ’n halfuur kan laat verdwyn, dan doen ek iets positiefs.

“En dit help my ook – eintlik elkeen van ons wat betrokke is by
die programme. Ons is almal al deur moeilike tye op stel, maar die program gaan aan. Marga van Rooy [Ella in die reeks] se man is oorlede, Carien Botha [Blapsie] se pa is oorlede, ek het my vrou verloor en ons het almal vir Andrew verloor in die paar jaar wat ons saamgewerk het. Die dag
toe haar man oorlede is, het Marga steeds ingekom werk toe en ons het
’n episode geskiet. Dit was een van haar beste vertonings. Ek was ’n week ná Glen se begrafnis weer op stel. Werk red jou, dit bring jou terug na die werklikheid.”

En wanneer jou werk jou gelukkig maak, sê Willie, maak dit ander mense ook gelukkig – en dís ’n voorreg.

“Ek het op Zack se begrafnis oor hom gepraat en gesê: ‘It’s not about how much joy you had, but about how much you created.’ Ek glo dit absoluut.”

Sy werk is ook sy stokperdjie, en dis noodsaaklik om iets te doen wat jou só interesseer, sê Willie. “Ek is baie bevoor- reg. Dis byna nie eens soos werk nie. My ma het my immers vir jare gevra wanneer ek nou ’n regte werk gaan kry en ophou speel, selfs toe dit baie besig begin raak het. Ek dink dis ’n mite dat jy ’n vaste werk moet hê – jy moet eerder doen wat jou gelukkig maak.

“Jy moet ook jou bes doen en aan- houdend probeer verbeter, maar jouself nooit te ernstig opneem nie. Mense kan sien ons het pret wanneer ons die reeks skiet. Wat op die stel aangaan, wys op die TV, want daardie energie word ook op die film vasgelê. Deur al die moeilike tye het ons nie ’n enkele dag op stel op mekaar geskree nie.”

Sy kollegas is soos familie vir hom, en sy familie is ook sy kollegas.

“Ek werk soos my Indiese en Joodse vriende – ons hou dinge in die familie. Dan het jy geen ander keuse as om
dit te laat werk nie, want almal se lot is saam daar ingegooi. Jou familie is ook maar al wat jy het aan die einde van die dag, so jy moet naby aan hulle wees.

“Dis hoekom ek soms nie ons land se wetgewing verstaan nie – ja, almal moet ’n regverdige kans gegun word, maar hoe kan jy wens vir vrede as jy nie só ’n familie-eenheid kan beskerm en die besigheid in die familie hou nie – nou moet jy iemand van buite aanstel om dit ’n regverdige stelsel te maak.”

Ná 30 jaar is Willie Esterhuizen Produksies steeds familie-gedrewe, hoewel daar natuurlik intussen nog mense van buite aangestel is.

Ons is almal betrokke by byna elke aspek van die onderneming – van skryf tot regie, toneelspeel, kamerawerk, redigering en meng. Dis belangrik
om te weet wat in al daardie afdelings aangaan, selfs wanneer ’n kenner dit vir jou doen. Só bly jy by, deur altyd iets nuuts te leer.”

En dié lesse het vir hom baiewaardevol geword deur die jare.

“Ná 31 jaar in ’n huwelik het ek ook baie geleer en ek voel dankbaar daarvoor. Ek is dié keer versigtig om nie weer dieselfde foute te maak nie. Ek het geleer dis belangrik om die klein dingetjies te laat gaan en eerder te lag, en om mooi herinneringe saam te bou. Wanneer jy die dag op jou sterfbed lê, is dit jou lewensmaat wat langs jou gaan sit, nie jou werk nie.”

Hy en Ilze het ’n doodgewone lewe saam, sê hy, maar dis juis die genot van die klein dingetjies wat dit so lekker maak. “Ons gaan stap graag saam met die honde, en ons kyk baie flieks en teaterstukke. Ons is lief daarvoor om saam te kook, veral boerekos. Jy kan mos maklik sien dis een van my gróót belangstellings.

“Ilze is ’n wonder- like mens. Sy het soveel liefde in haar hart en sy gee baie van haarself. Ons lag die hele tyd as ons saam is – dis natuurlik vir my uiters belangrik. My kinders [Toby, Teya en Telulla] het haar goed aanvaar in hul lewens en, nog belangriker, my twee worshondjies, Amelie en Daisy, het ook. Hulle hou byna meer van haar as van my!

“Vir my was dit natuurlik nie só maklik nie. Ek moes my humor en sjarme gebruik om haar hart te wen, want dis al wat ek het! Maar dit was darem genoeg,” lag hy.

Hooffoto geneem by Morrells Boutique Venue 011 476 9495, www.morrells.co.za