Ons praat met

Nuwe liefde vir Dana

Dana Winner is mooier, blonder en meer petite as wat ’n mens haar ooit sou voorstel. Sy’s ook baie gawer as wat jy sou raai, al is dié Belgiese sangeres ’n superster wat al miljoene CD’s verkoop het. Maar hier, waar sy in’n Sandtonse koffiewinkel ’n gemmerkoeldrank sit en drink, is die belangrikste van alles: Dana is gelukkiger as ooit.

Sy loer van onder haar wit kuif na die man met die donker stoppelbaard langs haar. Mark Brouwers sit skuins in sy stoel en drink ’n cappuccino. Elke sentimeter van sy lenige lyf straal Europese sjarme uit. Dana, menige Suid-Afrikaner se lieflingsangeres, het weer liefde gevind.

“Ek is nou gelukkig,” sê sy op haar geen-fieterjasies, reguit manier, nes sy dan vertel wat tussen haar en haar eksman, musiekvervaardiger Wilfried van Baelen, skeef geloop het. “Soms is die liefde nie groot genoeg nie.” Sy sing hiervan op haar nuwe enkelalbum, Beter van Niet, wat sy pas in SA kom bekend stel het. Op haar blitsbesoek einde Oktober het sy ook ’n nuwe album, Between Now and Tomorrow, bekend gestel. “Die liedjie ‘Beter van Niet’ gaan oor twee mense wat eerder nie bymekaar moet bly nie,” vertel sy, “al was daar ’n aantrekkingskrag tussen hulle. Dit gaan oor wat gebeur as die liefde nie groot genoeg is nie, as ’n verhouding net eenvoudig nie kan werk nie.

“In sommige verhoudings is ’n mens aan die begin vol hoop en liefde. Maar later weet jy beter. Jy weet dat dié liefde nie veronderstel is om te wees nie. “Ek het presies dít in my huwelik beleef. Uiteindelik het ons gesê ons wil tog nie baklei nie, elkeen moet eerder sy eie paadjie loop.” Dana en Wilfried was sowat vyf jaar getroud en is vier jaar gelede geskei. Hulle het ’n dogter, Chinouk (9).“Ons is nog goeie vriende.” Hoewel dit ’n lied so uit haar hart is, het Dana nie self “Beter van Niet” geskryf nie. (Die titel kan losweg as “eerder nie” vertaal word.) “Ek is altyd in noue kontak met my liedjieskrywers. Dis belangrik om my te vereenselwig met dit waaroor ek sing. Ek moet glo wat ek sing; ek moes dit al beleef het.”

Weer daardie kyk na Mark, wat net stilweg glimlag. “Nou is ek gelukkig,” sê sy weer.Sy en Mark, wat na die stil, sterk tipe lyk, het mekaar ’n jaar gelede ontmoet. “Dit was so bestem,” sê hy. Dana vertel onnutsig: “Ek wou huis koop. Mark het my een gaan wys – en toe het ons in sy huis beland.”

Mark is in die boubedryf en het vir Dana die huis van ’n vriend van hom gaan wys. “Ons ontmoeting was nie beplan nie,” sê hy. “Maar toe dink ek sy is interessant, en sy dink ek is interessant . . . En sy is so ’n pragtige en gawe mens.” Dana gaan voort: “Daarna was hy ’n week weg vir sake, en toe hy terugkom, het ons begin uitgaan. Sy huis was in die mark, want hy wou Italië toe trek. Maar hy het sy planne gou verander. Nou bly ons in daardie einste huis.”

Hulle het lank nie met die pers oor hul verhouding gepraat nie. “’n Nuwe verhouding is broos en publisiteit kan onnodige druk daarop plaas,” sê Dana. “Dis goed Mark is nie in die musiekbedryf nie. Ons praat oor my werk en hy reis saam met my en woon al my optredes by. Maar hy is objektief en kan sê wat werk en wat nie. “Ons ondersteun mekaar. Soms gaan ek saam met hom op sakebesoeke, soos na Toskane in Italië. Dan doen ek lekker inkopies. Die skoene en klere daar is so mooi.”

Die huis waarvan sy praat, is langs ’n woud net buite die stad Hasselt. “Die mooiste stad in België,” sê Dana. “Ek is daar gebore en my familie bly nog daar. Hulle sê as iemand eers in ons harte gekruip het, is dit vir ewig. Ek is ook so. Ons verwelkom mense graag met koffie en koek. Dis hoe ek grootgemaak is.”

Sy was die afgelope elf jaar talle kere in SA, vertel Dana. Sy leun vorentoe en sê ernstig: “Ek is baie lief vir Suid-Afrika, dis vir my soos ’n tweede tuiste. Ek weet nie presies waarom nie, ek dink dis ’n kombinasie van die atmosfeer, die wilde diere, die lekker klimaat, dat swart en wit in vrede saamwoon.”

 

Ek wil met sang boodskappe aan mense bring

Sy is sedert 2006 die internasionale toerisme-ambassadeur vir die Mpumalanga-provinsie en help om dit wêreldwyd as vakansiebestemming te bemark. “Ek het ook ’n ontsettende bewondering vir Nelson Mandela. Ek wil hom graag ontmoet omdat hy ’n wonderlike mens is. Wêreldwyd het mense so baie van hom geleer.”

Die misdaad in SA pla haar nie juis nie. “Ek kan sien hier is nou meer hoë mure en veiligheidswagte as toe ek in 1997 die eerste keer hier was. Maar in België is daar ook plekke waar ’n mens nie in die aand moet rondloop nie. Ons het politieke probleme tussen Frans- en Vlaamssprekendes – ons moet ook probeer om in vrede saam te leef. Uiteindelik het ons almal maar ons goeie en slegte kante.”

Dana het dit al oorweeg om in Kaapstad eiendom te koop, maar dit nooit gedoen nie. “Ek is tevrede solank ek net elke jaar so twee, drie keer hier kan kom kuier. Maar wie weet . . . Ek leef een treetjie op ’n slag.”

Sy verkoop sowat 2 miljoen CD’s per jaar en haar albumverkope in SA vergelyk goed met dié in België, Nederland en Duitsland. Vroeg volgende jaar sal nóg ’n CD, reeds in België uitgereik, ook hier beskikbaar wees. “Ek weet nie hoekom ek so gewild in SA is nie,” sê sy. “Ons het elkeen ons eie lewensdoelwit en talent, en moet die beste van onsself gee. My doelwit is om deur sang boodskappe aan mense te bring. Ek glo in wat ek doen. “Op die verhoog is ek ook net myself. Ek sê wat ek voel. Ek dink gewoonlik vooraf wat ek gaan sê, maar wanneer ek daar staan, sê ek iets heeltemal anders. Dit voel asof dit van Bo kom.”

Dana gooi ’n rooibont pasjmina oor haar skouers en lyk jonk en elegant. Soos Mark dra sy ’n eenvoudige silwerring aan haar linkerhand. Aan haar regterhand skitter ’n groot diamant. “Ek het dit vir myself laat maak.”

Hoe kry sy dit reg om so mooi en jonk te bly? “Ek is nie mooi nie,” keer sy. “Ek is 43! Maar ek het al agtergekom dat musiek mense jonk hou. Dít, en as jy doen waarvoor jy lief is. “My ma, wat nooit grimering gedra het nie, het ’n goeie vel, en my oorlede pa het ook een gehad.” Mark skerts: “Miskien is dit omdat jy Suid-Afrikaanse Environgesigrome gebruik.”

Al lyk sy altyd so pragtig op foto’s hou Dana egter niks van die fotonemery vir CD-omslae nie. “Ek is nie ’n model nie. As ’n foto mooi lyk, is dit net omdat die fotograaf op die regte tyd die knoppie gedruk het.

“Ek is ’n perfeksionis. In my vrye tyd maak ek my huis skoon en netjies. Op die verhoog moet alles ook perfek wees soos ek dit wil hê. Ek dink dis moeilik om saam met my te werk.” Sy hanteer haar loopbaan en ma-wees met gemak. “Daar is ’n hegte band tussen my en Chinouk. Sy is meestal by my, en ek het genoeg tyd om baie aandag aan haar te gee. Wanneer ek reis, kyk haar pa of my ma na haar. “My grootste persoonlike wens is om almal rondom my so lank as moontlik gesond en gelukkig te hou.”

Dana gee van vroeg in Desember in Europa Kersuitvoerings in kerke. Tussen 12 en 16 Desember tree sy ook in vier Kerskonserte in SA. Wat sou sy graag vir Kersfees wil hê? Sy loer na Mark. “Diamonds are a girl’s best friend . . .” En “natuurlik gaan ons trou”, sê Mark. “Ek moet haar net eers vra!”

Steve se vrae aan Dana

Steve Hofmeyr is ’n spesiale gaskunstenaar op Dana se Kerskonserte in Desember in SA. Hulle sing al 11 jaar saam

Steve Afrikaners het hul behoefte aan lang familiename beslis van die Lae Lande oorgebring. Ek is byvoorbeeld Stephanus Johannes. Is Dana jou enigste naam?

Dana My volle name is Chantal Ernestine Van Lee.

S Het jy al ’n stalker gehad? En nee, ons het ’n duet gesing, ek het jou nié gestalk nie!

D Ja. Dit het so erg geraak dat sy ’n woonstel oorkant my huis gehuur het om my te kon dophou . . . Ek het uiteindelik besluit om na ’n plek te trek waar ek geen onmiddellike bure het nie.

S Behalwe kos, kaas, bier en tjoklits, waarvoor sou jy mense na België oornooi?

D Ek dink Belge is selfs meer bekend vir French fries as vir sjokolade en bier. Ek weet ook nie hoekom hulle dit French fries noem nie, want dis ’n Belgiese uitvindsel, nie ’n Franse een nie!

S Het jy ’n dieet-ritueel?
D
Ek probeer gesond eet en hoewel ek dikwels op die pad is, probeer ek by die huis sover moontlik self kosmaak, met vars bestanddele.

S Wat van ’n konsert-ritueel? Wat drink jy op die verhoog? En het jy ’n backstage-wenslys?

D My versoeke is eenvoudig: ’n skoon kleedkamer wat warm genoeg is. Ek hou daarvan om gegeurde kerse te brand, want ek is lief vir die reuk. Op die verhoog drink ek net water of tee.

S Voor konserte sal ek en jy mekaar gedurig poetse bak en speels afkraak. Klink nie asof jy vreeslik senuweeagtig voor optredes is nie?
D Ek raak senuweeagtig die laaste tien minute voor ek op die verhoog stap. Dit help om grappies te maak met die musikante en die res van die span.

S Doen jy rockster-dinge: trash hotelle, eet vlermuise, gebruik dwelms of neem Malawiese kinders aan?

D Niks te ekstreem vir my nie! Maar ek hou van practical jokes . . .
S
Wat is jou verhouding met die ander Belge wat Suid-Afrikaners goed ken, soos Stef Bos en Helmut Lotti?

D Ek sien hulle nie gereeld nie, maar as ons bymekaar kom, gesels ons altyd lekker, en nege uit tien kere praat ons oor ons konserte in SA. Ons is almal so lief vir hierdie land.

S Ken jy Juanita, Theuns, Gerrie, Kurt en Fokofpolisiekar?
D
Behalwe vir jou, Steve, is Gerrie Pretorius al ander Suid-Afrikaanse kunstenaar wat ek beter ken. Hy het in die lente saam met my getoer en ons het baie goed oor die weg gekom.

S Jou gunsteling-akteurs en -flieks?

D Richard Gere. Ek het van hom gehou van die oomblik dat ek American Gigolo gesien het.

S Wat beplan jy vir ons konserte?

D Ons gaan op die verhoog wees met ’n orkes van twaalf lede, en natuurlik sal ons ’n paar duete sing soos “Ik en jij verstaan mekaar” en “Little Drummer Boy”.